“Ek is so jammer, maar ek belowe dit sal nooit weer gebeur nie.”
Met progressiewe dissipline word werkgewers gewoonlik in twee groepe verdeel – daar is eerstens die “Moeder Teresas” (met onbeperkte geduld en simpatie) en die “Eben Etzebeths” (met vinnige en streng optrede en met min tot geen geduld).
Progressiewe dissipline het deel geword van die Arbeidsverhoudingswet met die doel om die werknemer se gedrag te probeer verbeter. Hierdie wet was ook geïmplementeer met die doel om werknemers so lank as moontlik in diens te hou. Dit beteken dié wet bepaal dat elke werkgewer alle redelike stappe moet oorweeg of neem voordat ontslag finaal toegepas word. Die woord “progressief” verduidelik dus dat dissipline in ʼn reeks stappe gevolg moet word.
Natuurlik is elke situasie verskillend afhangende van die erns van die oortreding deur die betrokke werknemer, maar in die algemeen is die volgorde soos volg:
- ʼn Mondelinge waarskuwing.
- ʼn Skriftelike waarskuwing.
- ʼn Finale skriftelike waarskuwing.
- ʼn Dissiplinȇre verhoor.
Die “Moeder Teresa”-werkgewer sal heelwat waarskuwings gee sonder die opvolg van ʼn dissiplinȇre verhoor. Dit gee die indruk dat die werkgewer die werknemer se gedrag goedkeur en die werknemer kry ook die indruk dat die werkgewer se “blaf groter is as sy byt.” Dit sal nie die gegewe effek hȇ wat progressiewe dissipline hom ten doel stel nie. Daar is niks verkeerd om werknemers ʼn tweede kans te gee nie, maar aan die einde moet jyself besluit wat die beste is. Ons kan nie almal “heiliges” wil wees nie.
Die “Eben Etzebeth”-werkgewer sal sommer ʼn finale skriftelike waarskuwing vir ʼn eerste oortreding gee. Geen verdere onderhandelings nie en die swaarste sanksie word onmiddellik toegepas. Al het dit soms meriete (in rare gevalle), is dit nie die norm nie. Om ʼn werknemer se gedrag te probeer verbeter, moet jy nie die strengste “straf” eerste toepas nie. Dis nie alleen wetlik verkeerd nie, maar volg dan ook nie die beginsels van progressiewe dissipline nie. ʼn Bietjie geduld is nodig en sal aan die einde die respek en lojaliteit van die werknemer verdien. ‘Ek, as ʼn toeskouer, waardeer nie skeidsregters wat rooi kaarte uitgee of dit in die mode is nie!’
Werkgewers moet daarna streef om ʼn middeweg tussen die twee te vind. “Moenie uitstel nie, maar moet ook nie oorhaastig optree nie!”
Jim Rohn, ʼn hoogs gerespekteerde entrepreneur en motiveringspreker, het die volgende gesȇ: “Almal moet tussen een van twee ultimatums kies: Die pyn van dissipline of die pyn van berou.”
Werknemers moet óf korrek gedissiplineer word (wat nie ʼn genotvolle ondervinding vir albei partye kan wees nie) óf hulle moet die gevolge dra. Jy mag dalk net by die CCMA opeindig of dalk sit met ʼn werknemer wat buite beheer raak en chaos veroorsaak.
Die keuse is jóúne …!