Sakeliga weer KragDag hoofborg – Dis tyd vir privaatsektoroplossings vir Eskom se mislukkings

Tydens die onlangse rondte van beurtkrag het Sakeliga aangekondig dat hy weer vanjaar die hoofborg van die KragDag ekspo gaan wees as deel van sy ywer om Eskom en sy mislukkings met privaatsektoroplossings te vervang. 

“Dit is onaanvaarbaar dat ‘n ganse ekonomie op risiko gestel word om Eskom se monopolie op elektrisiteitsopwekking te beskerm. Die enigste blywende oplossing is om die wetgewing wat privaat elektrisiteitsopwekking en -verhandeling verbied, op te hef. Daarom begin Sakeliga vandag met ‘n veldtog by www.kiesmykrag.co.za, waar sakelui die beroep op president Cyril Ramaphosa vir ‘n vrye mark in elektrisiteit kan ondersteun en kan aandui watter skade beurtkrag aan hul ondernemings aanrig.”

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, ’n selfstandige sakegemeenskap, na aanleiding van die jongste toepassing van beurtkrag hierdie week deur Eskom.

Terselfdertyd staan Sakeliga sy lede met tussentydse verligtingsmaatreëls by deur toegang tot bekostigbare privaat elektrisiteitsopwekking te bevorder. ’n Platform waar verskaffers van alternatiewe elektrisiteitsopwekkingstoestelle, soos sonpanele, hul dienste kan lys en die publiek en sakeondernemings na verskaffers kan kom soek, word volgende week bekendgestel. Die verskaffers se verwysings sal nagegaan word en die publiek kan ’n versoekvorm invul om toegang tot die platform te kry.

Sakeliga kondig ook met trots aan dat hy vanjaar vir die tweede maal die hoofborg is van KragDag, wat met meer as 350 uitstallers en 15 000 besoekers die grootste selfstandigheidsekspo in Suid-Afrika is.

“Die wiele van die ekonomie moet bly draai – as Sakeliga wil ons ons lede bystaan om dit te verseker. Dus, al is kleinskaalse privaat elektrisiteitsopwekking nie ’n wonderkuur nie, is dit nie – soos grootskaalse privaat elektrisiteitsopwekking – onwettig nie. Dit is beproefde tegnologie wat reeds landswyd ingespan word om verligting tydens beurtkrag te bied en om die druk op die nasionale kragnetwerk te verminder. Daarom ondersoek ons wyses waarop ons dit vir ons lede so bekostigbaar as moontlik kan maak om waar toepaslik privaat elektrisiteitsopwekking vir eie gebruik te implementeer.”

Besorgde sakelui en lede van die publiek kan www.kiesmykrag.co.za besoek om ’n boodskap aan president Cyril Ramaphosa te stuur waarin hulle die oproep vir ’n vrye mark in elektrisiteit ondersteun. Sakelui kan hier ook aandui watter impak beurtkrag op hul ondernemings het, byvoorbeeld hoeveel werknemers geraak word en wat hul geraamde skade beloop.

“Die president moet gekonfronteer word met die frustrasie wat sakeondernemings en verbruikers as gevolg van Eskom ondervind. As die regering nie betroubare elektrisiteit kan waarborg nie, word die weiering om die privaat sektor toe te laat om die leemte te vul, al hoe onredeliker en onbilliker,” sluit Le Roux af.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui