
Hoekom is diversifikasie vir ‘n belegger belangrik?
In die tyd van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) en die British East India Company; handelsmaatskappye wat gedurende die 17de tot die 19de eeu bestaan het, is skepe uitgestuur na verre lande in die Ooste om mee handel te dryf. Hierdie was lonende ondernemings en vir bykans drie eeue het hierdie twee maatskappye met mekaar gewedywer, oorloë is gevoer en is lande gekoloniseer terwyl die inwoners van Nederland en Brittanje se lewensstandaard en lewenskwaliteit, as gevolg van hierdie handel, verhoog het. Ons eie land se geskiedenis is nou verweef met die doen en late van hierdie twee maatskappye.
Sakemanne wat groot winste wou maak, het ‘n seilskip gebou of gekoop, matrose gehuur en na Indië, Indonesië, Formosa (Taiwan) en ander lande, tot so ver as Japan gevaar om speserye, sy, katoen, kleursel, tee en selfs opium te koop. Dit is dan weer teen groot winste verkoop. Baie geld is so verdien en die opbrengs op die belegging was groot. Ongelukkig was die risiko’s waaraan hierdie beleggings onderworpe was, net so hoog! Dink jouself in, ‘n klein skippie wat die seetog van Nederland of Brittanje onderneem oor ‘n bykans onmeetlike oseaan van duisende kilometers, ruwe kuslyne met rotsgevare, storms wat ‘n klein skippie sonder taal of tyding kon vernietig, seerowers en nog soveel ander gevare wat die skeepseienaar se belegging eensklaps kon vernietig. Hoe gemaak?
Beleggers het baie gou agtergekom dat as hulle skepe sáám die seetog sou aandurf, was daar ‘n groter moontlikheid om van die hele handelsonderneming ‘n sukses te maak, aangesien hulle mekaar op die seetog kon bystaan en help. Die vermoë om hulleself beter teen seerowers te kon verdedig, asook ‘n groter poel van kennis en ondervinding ten aansien van gevaarlike kuslyne, het die kanse op ‘n suksesvolle seetog aansienlik verbeter. Maar daar was nog nie ‘n antwoord op die moontlikheid van storms wat hierdie klein skepies bedreig het nie. Gou is ingesien dat, sou die eienaars hulle risiko verdeel deur sê; waar 5 beleggers elk ‘n eie skippie sou gekoop het, koop elke belegger gesamentlik nou eerder ‘n vyfde deel van ‘n vloot van 5 skepies. Wanneer ‘n handelsonderneming wat met 5 skepe gegaan het om speserye te koop ‘n skip verloor, verloor elke belegger net ‘n vyfde van sy belegging en was elke belegger nie daaraan blootgestel om ‘n hele skip – sy totale belegging te verloor nie! Nog later is besef dat sou daardie beleggers hulle belegging tussen 3 vlote van 5 skepies elk verdeel, wat op verskillende tye verskillende roetes gevolg het, was die risiko nóg kleiner. As gevolg hiervan, was dit só dat hulle opbrengs kleiner kon gewees het vanweë ‘n groter aanbod van handelsgoedere aan dieselfde mark (dws dieselfde vraag) – wat ‘n kleiner wins tot gevolg gehad het. Maar, die risiko van die onderneming was ook aansienlik laer omdat ‘n groter aantal beleggers dieselfde risikokoste onder mekaar verdeel het. Ons kan dus sien hoe die belangrikheid van diversifikasie vir daardie handelaars ontwikkel het.
Wanneer beleggers vandag beleggings doen in ‘n baie onsekere ekonomiese wêreld, word diversifikasie steeds om dieselfde redes gedoen. Deur nie te diversifiseer nie, bestaan die risiko dat jy as belegger jou totale belegging kan verloor, sou een belegging, sektor of mark in duie stort. Diversifikasie vorm dus ‘n integrale deel van enige finansiële beplanning.
Die voor-die-hand-liggende manier om beleggings te diversifiseer is om in verskillende bateklasse te belê. Die belangrikste bateklasse waarin belê kan word sluit in: Kontant wat op die Geldmark belê word, Obligasies (Bonds) wat op die Kapitaalmark verhandel, Ekwiteit of aandele wat op die aandelemark soos die JSE gekoop en verkoop word, asook Eiendom. Buitelandse beleggingsfondse kan ook gesien word as ‘n bateklas wat grootliks deur die wisselkoers beïnvloed word. Hou egter in gedagte dat hierdie buitelandse beleggingsfondse weer op hul eie in kontant, obligasies, eiendom en aandele in die buiteland belê. Ander minder bekende bateklasse wat as hoë risko beleggings as gevolg van likiditeit gesien kan word, sluit in munte, edelmetale, juweliersware, kunswerke, eksotiese tapyte, veteraan-motors en selfs wyn.
Die pryse van aandele, obligasies, eiendom, edelmetale en ander beleggings beweeg nie altyd gelyktydig hoër en laer nie. Indien een bateklas styg kan ‘n ander een daal, wat gevolglik ‘n nuwe koopgeleentheid bied. Elke bateklas het dan ook sekere voordele afhangende van sekere ekonomiese omstandighede. Dus, afhangende van die fase waarin die ekonomiese siklus is – hetsy in ‘n Groei-fase, ‘n Inkrimpingsfase of ‘n Herlewingsfase, asook wat die verwagtings is ten opsigte van Fiskale beleid, Rentekoerse, Inflasie, die Wisselkoers en ander Makro-ekonomiese risiko’s, sal sekere bateklasse beter opbrengste teen laer risiko’s bied.
Indien ons die analogie of metafoor van ons VOC handelaars sou wou gebruik, kan ons die see vergelyk met die ekonomiese geleenthede wat daar vir beleggers bestaan. Die ruwe kuslyne, seerowers en storms is sekerlik die risiko’s waaraan beleggings onderworpe is. Die handelsprodukte aan boord kan waarskynlik vergelyk word met idividuele beleggingsgeleenthede soos ‘n aandeel of ‘n obligasie. Verskillende beleggingsgeleenthede kan saamgevoeg word in ‘n fonds wat fokus op ‘n spesifieke bateklas wat in ons vergelyking ‘n skip kan wees. Diversifikasie het egter nie met beleggingsgeleenthede en bateklasse geëindig nie. In die beleggingswêreld kry ons ook fondse wat deur bateklasse opgebou word soos onderlinge fondse (mutual funds) en effekte trusts (unit trusts). Dit kan ons met die vloot van skepe vergelyk. Uiteindelik het die beleggingswêreld verskillende fondse begin gebruik om ‘n fonds-van-fondse te skep wat waarskynlik die hoogste vlak van diversifikasie is.
Hierdie artikel is hersien op 28 September 2021
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————-
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Wat van Cryptogeld soos Bitcoin en Ethereum.
Hallo Carel – ek het op ‘n stadium aan ‘n baie kundige persoon genoem dat kriptogeld moontlik as ‘n afsonderlike bateklas gesien kan word. Die persoon het toe die opmerking gemaak dat dit baie voortydig is om van kriptogeld as ‘n nuwe bateklas te praat en dat kriptogeld eintlik as ‘n betaalstelsel gesien moet word. Ek het nagedink oor sy stelling en ek dink daar steek baie waarheid in.
Voor enigiets anders, moet ek sê, ek dink dat die tegnologie rondom kriptogeld baie opwindend is en dat dit sekerlik een van die ontwrigtende tegnologieë van die toekoms is, met vele toepassingsmoontlikhede. Aangesien dit ‘n tegnologie is wat oor die wese van menswees sny – dws om te kan koop en verkoop – kan verwag word dat onsekerhede ‘n groot invloed op mense se besluite ten aansien van die besit van kriptogeld sal hê. Hierdie risiko’s sluit myns insiens faktore in soos owerheidsregulering van kriptogeld, eksterne manipulasie van groot rolspelers, kripto-misdaad wat sekerlik net so vinnig en vernuftig ontwikkel as kriptogeldeenhede self, en moontlike eksterne invloede van EMP en sonstorms.
Tans is die kriptogeldmark onsettend volatiel met hoë winste wat gemaak word, veral vir die vroeë kopers maar ook groot verliese vir die laat-toetreders. Die prys word gedryf deur vraag en aanbod wat hoofsaaklik bepaal word deur die baie pratery en publisiteit van reuse winste wat gemaak kan word. Hoe volhoubaar dit kan wees is vir my baie onduidelik. Uiteindelik, as al die onsekerhede verdiskonteer is, neem ek aan dat daar ewewigtigheid in die mark sal intree en dat vraag en aanbod die prys sal dikteer in terme van die koste om ‘n kriptogeldeenheid te skep of te ontgin, en die utiliteit (nut) wat die geldeenheid vir die verbruiker sal hê.
Dan kan ‘n mens ook verwag dat daar banke sal ontstaan waar jy jou kriptogeld by kan deponeer of by kan gaan leen. Die moontlikheid bestaan ook dat daar onderling op ‘n P2P vlak geleen en uitgeleen sal kan word. Dán eers meen ek sal kriptogeld, soos tans met die geldmark, ‘n bateklas wees.
Intussen is ek nie negatief oor spekulering op die kriptogeldmark nie, mits jy eerstens besef dat dit ‘n hoë risiko belegging is waar risiko moeilik deur diversifikasie verminder kan word, tweedens dat jy geld sal gebruik wat jy nie nodig het nie en derdens dat jy nie geld sal leen om kriptogeld mee aan te koop nie. Vierdens moet jyself baie intensiewe navorsing doen oor die verskillende kriptogeldeenhede en hulle moontlikhede en doelwitte.