Wanneer die muggies vlieg: siektes van skape, bokke, beeste en perde

Muggies (wetenskaplike naam Culicoides) veroorsaak seisoenale siektes van skape, bokke, wild, beeste en perde gedurende die laat somer en herfs, nadat swaar reën begin val het. Die siektes verdwyn gewoonlik ongeveer twee weke na die eerste ryp in die Hoëveld-streke. In die Laeveld se tropiese gebiede met matige winters, kan muggies egter gedurende die hele jaar vlieg. Uitbraak van hierdie siektes is die hoogste gedurende die warm, nat maande van Februarie, Maart en April. Die drie belangrikste siektes wat deur muggies oorgedra word, is bloutong (wat skape, bokke, alpakkas, wilde bokke en beeste aantas), drie dae stywesiekte (wat hoofsaaklik by beeste voorkom) en perdesiekte (wat behalwe perde, ook donkies, muile, sebras en honde kan affekteer). Jong ingeënte diere wys die ergste tekens, omdat hulle met ouderdom immuun word. Onderstepoort Veterinêre Produkte (OVP) verkoop verswakte entstowwe vir al drie siektes.

Bloutong

Bloutong is ‘n orbivirus-siekte wat deur Culicoides oorgedra word. Tekens van bloutong by ingeënte diere sluit koors, oormatige speekselafskeiding en vinnige asemhaling in. Die lippe en tong kan baie geswel wees en die tandvleis en tong kan blou wees, met sere op die tandvleis en ook soms op neusoppervlaktes. Daar is ‘n rooierige lyn rondom die kroon van elke klou en diere kan ernstig kruppel word en op hul knieë rondbeweeg. Dragtige ooie kan aborteer of geboorte skenk aan abnormale lammers. Veral skape kan dikwels hul wol verloor. Ernstige siekte word gewoonlik getoon in skape en bokke wat nie ingeënt is nie en hulle kan baie vinnig sterf. Daar is egter doeltreffende entstof beskikbaar.

Drie-dae stywesiekte / Bees-aansteeklike stywesiekte

Stywesiekte word veroorsaak deur ‘n rhabdovirus en wat ook deur Culicoides-muggies oorgedra word. Die tekens is koors, styfheid, vinnige asemhaling en verlamming as gevolg van skade in die gewrigte. Soms is daar ‘n afskeiding uit die neus en oë. Lae bloed-kalsium met staking van herkou, kan veroorsaak dat die beeste spier-rillings kry. Tensy eienaars water en kos vir hulle bring kan hulle doodgaan. Daar is ‘n doeltreffende lewende verswakte entstof beskikbaar en beeste moet twee keer ingeënt word, ‘n maand uitmekaar, nadat hulle gespeen is.

Perdesiekte en perde-enkefalose-virus

Beide van hierdie siektes word veroorsaak deur orbivirusse wat deur Culicoides-muggies oorgedra word. Nie-ingeënte perde wat besmet is met perdesiekte toon vinnige asemhaling asook blou membrane en vrek skielik. Sub-akute gevalle leef oor die algemeen 2-3 dae en wys swelling van die kop en nek met ‘n vinnige asemhaling. Ingeënte perde wat aan die virus blootgestel is, kan ‘n hoë koors wys, maar hulle oorleef. Enkefalose-virustekens is soortgelyk aan perdesiekete, maar is meer matig. Daar is ‘n doeltreffende entstof beskikbaar vir perdesiekte, maar nie vir enkefalose-virus (EEV) nie.

Lewensiklus van Culicoides-muggies

Volwasse Culicoides-muggies leef 15-21 dae. Vroulike Culicoides-muggies lê net eiers 2-3 dae nadat hulle ‘n bloed-ete gehad het. Eiers word in nat modderige grond gelê waar daar baie mis is. Die eiers broei uit en gaan dan deur vier larwestadia in die modderige grond, waarna hulle papies word. In die laat somer en vroeë herfs, wanneer dit baie warm en nat is, duur die hele lewensiklus normaalweg twee maande lank, alhoewel dit tot so kort as 21-30 dae kan neem. Wanneer die eerste ryp voorkom, gewoonlik rondom 1 Mei, gaan die volwasse muggies en larwes dood, maar die eiers en papies oorleef in die harde modder tot die volgende seisoen. Alhoewel die eerste reën om en by November begin, vorm nat modderige toestande wat nodig is vir uitbroei van eiers en papies egter eers in Januarie of Februarie. In die begin kom daar relatief min muggies voor en word daarom nie opgemerk nie. Daarna, gewoonlik tussen Februarie en April, wanneer daar swaar reën voorkom en die dae warm en bedompig is, broei muggie-eiers in derduisende  uit.

Die muggies vlieg tydens warm, mistige, windstil dae. Omdat hierdie ideale toestande vir muggies ook bevorderlik is vir die jaarlikse migrasie van wit skoenlappers of vlinders, is die voorkoms van hierdie wit skoenlappers ook ‘n aanduiding dat muggies in hul duisende rondvlieg. Sodra ‘n vroulike muggie aan ‘n siek dier suig, word sy met virusse besmet. Die virusse vermenigvuldig in haar derms en versprei na haar speekselkliere. Dit duur ongeveer 7-10 dae. Elke dier wat sy  daarna byt, word ingespuit met speeksel wat hierdie besmetlike virusse bevat. Dit is waarom dit só baie belangrik is om die omgewing te bestuur, ten einde die vermenigvuldiging van muggies te voorkom.

Bestuur om blootstelling aan besmette muggies te verminder

Alhoewel inenting ‘n baie goeie manier is om die siektes wat deur muggies oorgedra word te voorkom, kan die immuniteit oorweldig word deur die baie hoë virusdosisse, wat oorgedra word deur duisende bytende muggies. Daarom is dit verstandig om in die eerste plek blootstelling aan muggies te verminder. Skape, perde en selfs melkbeeste, kan tussen 16h00 en 09h00 – dit is die tyd wanneer muggies vlieg – binnenshuis by elektriese waaiers gehou word. Dit is egter  nie altyd prakties nie. Navorsing het bewys dat Deltametrien en Cipermetrien (wat as insekdoders vir skape, beeste en perde geregistreer is), effektiewe afweermiddels is. Hierdie middels is egter oor die algemeen net 12 -24 uur effektief na aanwending. Indien daar ‘n uitbraak by ryperde is, is dit die moeite werd om bespuiting daagliks toe te dien, aangesien daar ‘n sterk moontlikheid is dat die meerderheid van muggies reeds die virus dra. Die spoed waarmee perde hulle sterte waai terwyl hul wei, is ‘n goeie maatstaf van die aantal bytende muggies wat teenwoordig is. Die effek van die bespuitingsafweermiddels kan ook so bepaal word – die stert-swaai hou op!

Bloutong- en driedae-stywesiekte-uitbrake gebeur terselfdertyd as perdesiekte. Insekdoders en afweermiddels word ook vir skape, bokke en beeste aangeraai. Daar is ʼn lys van Wet 36 geregistreerde insekdoders wat veilig is vir renostervoëls wat hier afgelaai kan word.

Dit word aanbeveel dat skape, bokke en beeste vanaf laagliggende modderige weivelde verskuif word tussen Januarie en Mei en dat hulle eerder op heuwels sal wei waar die wind dikwels waai. As skape in die vroeë-somer geskeer word, beteken dit dat hulle reeds ʼn bietjie wolgroei teen die einde van Desember sal wys.

Daar is al voorgestel dat Ivomectin die vrugbaarheid van die vroulike muggies kan verminder. Daarom kan dit dalk die moeite werd wees om skape, bokke en beeste gedurende Januarie of Februarie in te spuit. Verder kan muggievlakke rondom stalle en krale verminder word, deur te sorg vir goeie dreinering, en ook om ‘n mengsel van gewaste riviersand en landboukalk op alle modderige kolle uit te gooi ten einde dit te laat opdroog. Die grond-pH word ook sodoende verander, wat die grond ongeskik maak vir die verskillende muggielarwestadia. Dit word ook aanbeveel om Kikoejoegras baie kort gesny te hou gedurende die tyd wat die muggies vlieg. Volwasse muggies soek skuiling in lang nat gras wanneer die son warm op hulle skyn of wanneer die wind waai.

Prof Cheryl ME McCrindle BVSc (Hons) PhD. Donkerhoek Veearts, Jan Ellis Center, Rayton

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

2.08 avg. rating (45% score) - 12 votes

12 Comments

  • Avatar

    Are you aware that most deaths in Pretoria was from serotype 9 that is not even in the vaccine and clearly cross protection is not adequate? Are you aware that the serotype 8 that is the other identified cause of the current deaths do not correlate to the normal known serotype 8 virus in the vaccine? [Gedeeltes in die kommentaar wat nie verband hou met die artikel nie is weggelaat – Red.]

  • Avatar

    So not true that only vaccinated horses survives!! Vaccinated horses die every year with AHS! And yes, most of them were vaccinated in the correct time period that are suggested. With the live OBP live vaccine.

  • Avatar

    Perde wat wel deur veeartse geënt word vrek ook van perde siekte. Dit is nie die verouderde entstof wat bepaal hoe siek n perd word nie maar wel die viruslading. Party perde bou nooit immuniteit teen al die stamme perdesiekte op nie al word hulle jaar na jaar geënt. [Deel van die kommentaar, nie-tersaaklik tot die artikel, is afgekeur – Red.]

  • Avatar

    Al my perde wat dood is agv AHS WAS INGEËNT. ASB publiseer feite nie ek dink ek weet maar het geen navorsing om dit te staaf nie. [Nie-tersaaklike kommentaar verwyder – Red.]

  • Avatar

    Die inligting oor AHS is nie reg nie . Geënte perde vrek ook !!! Dis inligting soos die wat maak dat mense nie die erens van AHS sien nie .

    • Avatar

      Sal dit nie wonderlik wees as SAEF ‘n Kommissie van Ondersoek aanstel om hierdie AHS kwessie volledig en effektief te ondersoek nie??? Is dit dan nir die doel van ‘n Nasionale liggaam om die belange van al die perde in SA op hierdie wyse aan te spreek nie. En daardie Kommissie moet ook perde eienaars van groot stoete met baie AHS gevalle insluit om werklik effektief te wees.

  • Avatar

    Die skrywer is onakkuraat met die stelling dat geënte perde nie doodgaan nie.Ek het al baie verloor wat elke jaar geënt is volgens voorskrif deur Onderstepoort. Miskien moet daar eerder aandag gegee word aan ‘n verbeterde entstof en ook dat die wette verander word dat net een entstof gebruik mag word vir kompiterende perde. Die publiek lei skade wat nie uitbetaal word deur die verskaffer nie.Miskien moet ons dalk ‘n groeps eis insit vir die meer as 400 perde wat die afgelope maand dood is aan perdesiekte

  • Avatar

    Wow, onse professor moet liefs haar navorsing gaan doen voor sy sulke snert kwytraak! Ek het een perd verloor, n maand gelede, en is huidiglik besig om die siekte te veg met nog n perd, ALBEI ingeent! Kry jou feite reg!

  • Avatar

    Geen kredietwaardigheid vir julle as julle kommentaar aanpas en verander soos dit julle pas nie. Kry inligting by spesialiste wat weet. Die titel ‘prof’ maak jou nie n ahs spesialis wat op datum is met nuutste verwikkelinge nie en julle doen duidelik ook nie julle huiswerk nie.

    • Deon Vosloo

      Beste Mercia – ons pas nie kommentaar aan soos dit ons pas nie. Ons wil juis soveel perspektiewe as moontlik toelaat. Omdat die webjoernaal in die openbare oog is, is daar is egter voorwaardes. Eerstens kan ons nie toelaat dat die kommentaarfasiliteit gebruik word vir ander kwessies met ‘n persoon waarvan ons of die deursnee leser geen agtergrond oor of belang by het nie. Kommentaar moet dus tersaaklik tot die artikel gehou word. Die artikel was ‘n algemene artikel wat gehandel het oor die gevare van muggies en was nie ‘n spesialisartikel oor spesifiek perdesiekte nie. Tweedens wil ons graag opbouende gesprek en debat aanmoedig. Daarom laat ons nie kommentare toe wat persone aanval en hulle vermoeëns en motiewe in twyfel trek of verdag maak nie. Ons glo deur eerder die bal as die persoon te speel word ‘n saak beter gedien as wanneer persone afgekraak en verkleineer word. Ons gaan nietemin poog om ook artikels met ‘n ander perspektief oor perdesiekte te plaas.

  • Avatar

    Ek is werklik geskok oor die absolute wan inligting rondom perdesiekte wat hier weergegee word. Meeste (byna alle) vrektes waarvan ek persoonlik bewus is is perde wat deur veeartse geënt was. Die teendeel is ook waar, dat BAIE ongeënte perdie siek raak en deurtrek. Wanneer dit by sterftes kom, kan daar beslis geen onderskeid getref word tussen geënt en ongeënt nie, albei trek soms deur en beide kante het vele vrektes. Daar behoort geen plek vir hierdie blatante onkunde te wees terwyl eienaars deur hel gaan nie!

  • Prof Cheryl McCrindle

    Goeie dag
    Al die kommentaar hier oor Perdesiekte is deur ‘n group mense gesit wat Nie glo in lewende persesiekte entstof nie. Hulle is welkom op hul opnie. Die paragraaf waaroor hulle klagtes het is die volgende:
    “Beide van hierdie siektes word veroorsaak deur orbivirusse wat deur Culicoides-muggies oorgedra word. Nie-ingeënte perde wat besmet is met perdesiekte toon vinnige asemhaling asook blou membrane en vrek skielik. Sub-akute gevalle leef oor die algemeen 2-3 dae en wys swelling van die kop en nek met ‘n vinnige asemhaling. Ingeënte perde wat aan die virus blootgestel is, kan ‘n hoë koors wys, maar hulle oorleef. Enkefalose-virustekens is soortgelyk aan perdesiekete, maar is meer matig. Daar is ‘n doeltreffende entstof beskikbaar vir perdesiekte”.
    Nerels is dit gese watter perdesiekte entstof gebruik word.Die argumente is dus nie toepaslik nie. Die lewende entstof besit nie Stam 9 nie; maar die dooie entstof bevat die wel. Nerens hier is gemeld watter entstof gebruik more word, maar net die Onderstepoort entstof val onder Wet 36. Die debat oor lewende en dooie perdesieke entstof is goed uitgesit in die volgende artikel https://www.farmersweekly.co.za/animals/horses/african-horse-sickness-the-great-vaccine-debate/

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui