
Bederf jou ma elke dag
Ons het Moedersdag op 14 Mei gevier, maar daar is geen rede waarom ma’s nie maar elke dag bederf kan word nie. Sommige van ons is bevoorreg omdat ons ma’s nog leef en ons hulle in persoon kan bederf en aan hulle hulde bring. Ander se ma’s is reeds oorlede en al wat oorbly is herinneringe aan die vrou wat hulle gebaar en grootgemaak het.
My ma ly sedert ’n beroerte ’n klompie jare gelede aan demensie. Sy woon by my en my man, en ek versorg haar voltyds. Ons ma-kind-rolle is heeltemal omgedraai. Ek is nou die een wat háár doeke ruil, borrels op haar magie blaas, haar neus afvee, gesig was en hare borsel. Dis nou ek wat vir haar Jan Pierewiet en Hansie Slim sing en vertel van Rooikappie en die wolf en ook die drie varkies se huisboukaskenades. Ek sit haar saans in die bed, vryf oor haar haartjies en sê ’n aandgebedjie op – alles dinge wat sy vir my gedoen het toe ek ’n kind was. Dit is beslis nie ’n maklike taak om iemand wat geheel en al sorgafhanklik is te versorg nie, maar ek is altyd dankbaar dat ek nog die voorreg het om haar vas te hou en drukkies te gee. Ek het haar op Moedersdag met heerlike eetgoedjies bederf.
Indien jy ook nog die voorreg het om ’n ma te hê wat jy kan bederf, doen dit dié jaar met oorgawe. Hier onder lig ek graag twee van die mees aangrypende gedeeltes in die Bybel, wat spesifiek oor moeders gaan, uit. Ek is onlangs genooi om oor hierdie twee gedeeltes te skryf en deel die kosbaarheid graag hier ook.
In 1 Samuel 1 lees ons hoe Élkana se kinderlose vrou, Hanna, na die tempel gegaan het. Hier het sy hartstogtelik gehuil en in haar gedagtes tot die Here gebid om ’n kindjie. Sy het onder meer beloof om, as haar baba ’n seuntjie is, sy hom aan die HERE sal gee al die dae van sy lewe. Priester Eli het haar naderhand berispe omdat hy gedink het sy gedra haar soos ’n dronk mens. Toe sy hom egter verseker dat sy bloot in opregtheid haar hart voor die HERE uitstort, het hy gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het” (1:17b).
Hanna het swanger geword en aan ’n seuntjie geboorte geskenk. Sy het hom gesoog totdat sy hom gespeen het. Daarna het sy hom na Eli in die tempel gebring om haar gelofte aan die HERE na te kom. Sy het haar kind aan Hom afgestaan. Samuel het as seun gedien voor die aangesig van die HERE, omgord met ’n linneskouerkleed. En dan, die treffende vers 19: “En sy moeder was gewoond om vir hom ’n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring.”
Kan jy jou indink met hoeveel liefdevolle sorgsaamheid en toewyding hierdie mamma jaar ná jaar aan elke mantel gewerk het? Hoe sy met elke rygstekie aan haar kind gedink het en vir hom gebid het. Sy het, al was ’n jaar lank en die verlange in haar mammahart groot, troos gevind daarin dat haar kind die HERE getrou gedien het. Hy het haar dan ook met nog kinders geseën.
In Johannes 19:26-27 lees ons: “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.” Jesus het, terwyl hy in erge pyn en lyding aan die kruis gehang het, seker gemaak dat sy moeder versorg is.
Watter besondere voorbeelde om aan vas te hou wanneer ons ons ma’s bederf. Hanna se liefde vir haar seun het gemaak dat sy jaar ná jaar vir hom ’n mantel gemaak het om oor sy skouers te hang wanneer dit koud was. Jesus se liefde vir sy moeder het gemaak dat Hy besorg was oor haar en voorsiening getref het vir haar welstand. Die liefde tussen ma en kind is voorwaar kosbaar en spesiaal. Vier die besonderse band wat jy met jou ma het. Wees lief vir mekaar en wys dit.