5 Stappe om Wêreldwyd geld te maak
Ons as Suid-Afrikaners het ons eie uitdagings – daar is droogtes, misdaad, bedrog en korrupsie en nog vele ander. Vanuit ‘n bemarkingsoogpunt het ons ander uitdagings, byvoorbeeld ons mark vir luukse produkte is baie klein in vergelyking met ‘n Europese land soos byvoorbeeld Engeland s’n. Een van ons kliënte wat projekbestuursopleiding verkoop se potensiële mark, volgens Google soekwoorde is ongeveer 3 miljoen in SA, terwyl dieselfde soektog in Engeland ‘n potensiële mark van 120 miljoen kan bereik.
Gegewe bogenoemde bemarkingsuitdaging, waar laat dit my as Suid Afrikaner wat ook ‘n goeie lewe wil maak deur my produkte of dienste aanlyn te verkoop? Wel, met koerierdienste wat wêreldwyd goedkoper word en die swak rand, is ons eintlik in ‘n geweldige goeie posisie om ons dienste en produkte wêreldwyd te kan verkoop.
Die vraag is nou: hoe kan ons dit reg kry om ons produkte en dienste in ander markte soos byvoorbeeld Europa en Amerika te bemark, sonder om ‘n bank of twee te beroof om te kan betaal vir die bemarkingskostes? Die antwoord is eintlik heel eenvoudig: doen kontentbemarking (inhoudsbemarking) wat geskoei is op goeie Soek-enjin Optimalisering (SEO). Dis nie ‘n oornag-ryk-word-plan nie, maar binne ‘n jaar of twee kan reeds baie goeie resultate gelewer word.
Stap 1: Beplan vir sukses
Ontwikkel ‘n goeie aanlyn-bemarkingsplan vir jou produkte of dienste. As jy safari-dienste in Afrika aan Amerikaners wil verkoop, moet jy presies weet watter soekwoorde wat met safaris verband hou, die meeste op die internet gesoek word en wat terselfdertyd min gevind word. Kom ons sê vir argumentsonthalwe dat mense in Amerika soek baie vir “Affordable Afican Safaris” maar daar is min webwerwe wat dit aanbied. Dit kan dalk jou invalshoek wees, sodat jy jou hele beplanning kan bou rondom artikels en blogs wat hierdie onderwerp aanspreek.
Stap 2: Skryf onderwerpspesifiek
Kom ons gebruik die voorbeeld in Stap 1 – jy beluit jou onderwerp is beskostigbare safaris in Afrika. Skryf dan alles wat jy moontlik kan hieroor, byvoorbeeld: 7 Tips to save money on an African safari; How to save a lot of money on a African Safari; What is the actual prices of game viewing in Africa ens, ens. Moenie hiermee ophou voordat jy nie ten minste 50 000 woorde oor die onderwerp geskryf het nie. As jy 50 000 woorde oor die onderwerp op jou webwerf het, is dit net soveel makliker vir Google om mense na jou toe te verwys vir inligting rondom die onderwerp.
Stap 3: Webwerfnaam en -adres
www.koos-en-pietie-nel-toere.co.za is ‘n pragtige naam vir julle familie se webwerf, maar vir soekers op die internet sal www.affordable-african-safari.com baie meer aantreklik wees en meer sê. As jy byvoorbeeld in Amerika wil bemark gebruik ‘n .com-domain eerder as ‘n .co.za-domain. Die kanse dat Google ‘n .co.za webwerf tydens ‘n soektog vir ‘n Amerikaner in Amerika gaan wys, is bykans nul. Gebruik ook beskrywende webwerf domain-name wat die soeker onmiddelik sal help om te weet wat die webwerf vir hom/haar gaan bied.
Stap 4: Gebruik ‘n platform soos WordPress
As ek al een maal die redenasie moes voer, het ek dit al ‘n honderd keer gedoen. Die gesprek gaan gewoonlik so. “O, my sussie se seun (Graad 10) sê hy sal sommer die website vir my “code” in php of HTML5” of iets dergliks. My antwoord is deesdae iets in dier voege: “Fantasties, ek neem aan jou sussie se seun weet meer van Google-vriendelike webwerf-ontwerp af as al die WordPress-ontwikkelaars saam, wat al vir die afgelope 10 jaar hiermee werk” of “O ja, jy kan beslis nie meer verkeerd wees as die 74 miljoen webwerfeienaars, wêreldwyd, wat besluit het WordPress is goed genoeg vir hulle nie” en laastens die spyker in die doodskis, “Het jy geweet WordPress is gratis!”
Skuus vir my sarkasme, maar in my 12 jaar ondervinding het ek nog geen ander webwerfplatvorm gesien wat so gou op Googlesoeke hoog gelys word as WordPress nie. Dit moet natuurlik goeie kontent (inhoud) bevat soos reeds in stap 2 uitgewys is.
Stap 5: Los alles en sit terug en kyk hoe geld in jou bankrekening inrol
Dis mos presies soos enige besigheid werk, nadat jy nou alles opgestel het, dan sit jy terug en tel jou geld. NEE!! Maar hoekom doen mense dit met hulle webwerwe? “O, my webwerf was 3 jaar gelede baie aktief, maar ek is nou heeltemal te besig om my kontantvloei-krisisse in my besigheid te hanteer om daaraan aandag te gee. Net soos enige iets anders moet die webwerf lewendig gehou word, nuwe blogs en inhoud moet weekliks bygevoeg word, gebruikerspaaie moet ondersoek en verbeter word en die sukses van die webwerf moet elke maand gemeet word. Jou webwerf kan een van die mees suksesvolle bemarkings-agente vir jou word!
Om mee af te sluit, ons ontmoet eendag twee manne in Pretoria. Hulle werk vanuit hulle huis se sitkamer en verkoop, biltong- en droëworstoerusting aan oud-Suid-Afrikaners in die buiteland. Hoe het het hulle dit reggekry om meer as ‘n R 1 miljoen per jaar uit die besigheid te maak? Hulle het na elke land in die wêreld, waar daar Suid-Afrikaners bly, gevlieg en aan elkeen wat hulle kon ‘n pamflet oor hulle produkte gegee … NEE, NEE! Hulle het in hulle eetkamer voor die rekenaar gesit en hulle webwerf elke dag ‘n bietjie beter gemaak en op die wyse ‘n massa Suid-Afrikaanse kliënte wêreldwyd versamel. Dit het nie oornag gebeur nie, maar na twee jaar was hulle bekend vir hulle Biltong- en Droëworsprodukte vanaf Kanada tot in Australië en wie weet waar, waar mense nou biltong en droëwors geniet vanweë hulle goeie webwerfplan.
Oorweeg gerus die “Ontwikkel ‘n uitstekende Bemarkingsplan – Werkwinkel”. Meer inligting oor bemarking is ook beskikbaar by YGreen se webjoernaal artikels.