
Elektriese Kragopwekking deur van Seedeinings gebruik te maak
Dit word algemeen aanvaar dat indien waterstof vrylik beskikbaar sou wees, dit die ideale brandstof vir motorvoertuie sou wees. Groot hoeveelhede waterstof (H2) is egter teenwoordig op die planeet Aarde, maar in die vorm van water, bestaande uit twee dele waterstof (H2) en een deel suurstof (O) in ‘n baie stabiele verbinding. Om waterstof uit water (H2O) vry te stel, word elektriese krag vir die elektrolise van die water benodig. Wanneer waterstof as brandstof gebruik word vind geen geen lugbesoedeling plaas nie, aangesien die resultaat van verbranding slegs energie en water is.
Die enigste beperkingsfaktor op bostaande is verbonde aan die groot koste om elektriese krag te voorsien wat nodig is vir die proses van elektrolise. Die opwekking van elektriese krag gaan gepaard met enorme lugbesoedeling wanneer die elektrisiteit uit steenkool opgewek word.
Met bostaande in gedagte kom mens dan tot die besef dat ons Skepper ruim voorsien het om hierdie probleem mee op te los. In die eerste plek is die aarde geskep met ontsaglike hoeveelhede water reg om die aardbol en ten tweede het hierdie watermassa ‘n onstuimige hoeveelheid energie wat tot die mensdom se beskikking gestel is. ‘n Enkele voorbeeld bring ons onder die indruk van die ontsaglike groot kragte waarvan ons eeue reeds kennis dra. ‘n Reuse groot olietenkskip met ‘n vrag wat enigiets tussen 200 000 en 500 000 ton kan weeg – en dit is ‘n werklikheid – dryf op water sonder om in die dieptes weg te sink. Wat meer is, daar is lewe en beweging in hierdie kolos, die deinings van die see laat dit op en af wieg. Waarom kan ons nie van hierdie kragte gebruik maak nie?
Kom ons pas dit toe op ‘n denkbeeldige pomp met ‘n vlotter. Hierdie vlotter verplaas, kom ons sê, 200 000 kubieke water, ongeveer die gewig van 200 000 ton water – anders gestel 200 miljoen liter water. Ons aanvaar dat ons ‘n groot pomp gebou het wat 200 miljoen liter water in 10 sekondes een meter hoog kan stoot. Die gemiddelde tyd tussen deinings is ongeveer 10 sekondes. In ons teoretiese voorbeeld sak en styg die deining elke 10 sekondes en pomp dus met elke beweging 200 miljoen liter water. (In werklikheid is see-deinings tussen drie en sewe meters hoog.) Deur die vlotter aan ‘n suier te koppel wat in ‘n silinder op en af kan beweeg, kan water met ‘n pompaksie verplaas word waarmee ‘n hoeveelheid elektriese krag opgewek kan word. Francis en Pelton waterturbines, wat ongeveer 90% effektief is, kan hiervoor ingespan word.
Ons kan ook die seewater na ‘n opgaardam pomp wat hipoteties gestel so 50-meter hoër is as seevlak. Deur dit terug te laat loop in die see kan elektriese krag met behulp van ‘n waterturbine generator opgewek word. Boonop kan uit hierdie water wat afloop ‘n groot hoeveelheid minerale uit die see herwin word. Die potensiële drywing (in watt) wat die konstante terugvloei van een kubieke meter water per sekonde verskaf, is gelykstaande aan 1 000kg x 50m x 9,8m/s2 (Joule per sekonde) = 490 000W; dit wil sê byna 500kW!
Die energie wat so uit die see ontgin word is omgewingsvriendelik en beskerm die verminderde reserwes van fossiel brandstof. Verskaffers van elektriese energie gebruik meestal steenkool om krag op te wek wat uitermate hoeveelhede koolsuurgas CO2 en ander skadelike gasse as neweproduk in die atmosfeer losgelaat.
‘n Verdere nadeel van die huidige steenkoolopwekkingsproses, is die groot volumes kosbare water wat vir verkoeling gebruik moet word, terwyl daar baie meer verdienstelike gebruikersbehoeftes vir water is. Die steenkoolmyne kan eerder aangewend word om vir ‘n sukkelende Suid Afrikaanse ekonomie buitelandse verdienste te bewerkstellig.
In die bou van hierdie vorm van kragstasie is dit belangrik, met die oog op die geweldige kragte wat ter sprake is, om liewer te fokus op die ontwerp van kleiner kragstasies wat langs die Suid Afrikaanse kus versprei is. Dit sal goedkoper wees as ‘n groot kragstasie waarvan die elektrisiteit oor groot afstande versprei moet word ‘n Verdere voordeel is dat onderhoud nie die totale voorsiening sal beïnvloed nie. Nog ‘n voordeel is dat na ‘n eenmalige oprigtingskoste slegs instandhouding oor die lewensduur van die kragstasie nodig sal wees.
Johan Vosloo (076 515 0420)