12 Stappe om ‘n uitstekende Digitale Bemarkingsplan te ontwikkel
Dis op almal se lippe, en daar is baie kursusse wat aangebied word oor die onderwerp. In die 12 jaar waarin ek in Digitale Bemarking betrokke is, het ek baie planne en kursusse gesien kom en gaan maar min, en ek bedoel baie min, het werklik genoeg geld gegenereer om die belegging te regverdig.
Hoekom, sou jy vra, gebeur dit? Wel, uit my perspektief is dit relatief eenvoudig. Enige persoon met gemiddelde rekenaarvaardigheid kan vandag ‘n Google- of Facebookadvertensie opstel en ‘n Webblad bou, maar baie min het die besigheids- en bemarkingsagtergrond om die groter prentjie te verstaan.
Ek sien die vraende uitdrukkings op “digitale bemarkers” se gesigte as ek begin praat van “bemarkingspersoonlikheidsprofiele” en die “emosionele raakpunte” wat gebruikers motiveer om te koop, om nie eens te praat oor “brand” posisionering nie.
Hieronder is 12 stappe wat gevolg kan word om ‘n uitstekende Digitale Bemarkingsplan te ontwikkel en te bestuur:
Stap 1 – Stel bemarkingsdoelwitte op
Die ou gesegde wat lui – mik vir niks en jy sal dit tref – is ook hier waar. Wat wil jy bereik deur die Digitale Bemarking? Druk dit so ver moontlik in Rande uit. Voorbeeld: Ons maatskappy wil R350 000 (50 nuwe kliënte) se verkope deur Digitale Bemarking per maand genereer binne 6 maande met ‘n maksimum Kliëntverkrygingskoste van R350.
Stap 2 – Doen aanlynnavorsing oor soekwoorde
Waarna soek jou potensiële kliënte op die Internet? Weet jy? Jy kan deur ‘n dag se navorsing ‘n baie goeie idee kry.
Stap 3 – Bou persoonlikheidsprofiele van jou teikenmark
Weet jy hoe lyk jou potensiële kliënte, wat is hulle doelwitte en wat is hulle uitdagings rondom die produkte en dienste wat hulle lewer? As jy dit weet, kan jy begin fokus op oplossings om hulle aanlyn te help.
Stap 4 – Ontwikkel ‘n Kontent(Inhoud)-bemarkingsplan
Pam Golding sê “Location, Location, Location”. In die Digitale Bemarkings wêreld sê ons Kontent(Inhoud), Kontent(Inhoud), Kontent(Inhoud). Ek en Google is veel meer beïndruk met ‘n Webblad wat meeste van die vrae wat ek oor die produk of diens mag hê kan beantwoord, as met ‘n Webblad wat net vertel van jou visie, jou missie en jou span, en dan verwag dat ek jou moet kontak vir enige vrae wat ek mag hê.
Stap 5 – Ontwikkel ‘n bemarkings-georiënteerde gebruikersvriendelike Webbladsy
Enige webwerf kompeteer met duisende ander wat dieselfde diens of produk aanbied. In die verlede het ons gesê jy het net 5 sekondes om ‘n nuwe besoeker op ‘n webbladsy te hou voor hy dit toemaak en na jou konkurent s’n toe gaan as hy/sy nie kry wat hulle gesoek het nie. Vandag is dit, weens die volume van inligting reeds 3,5 sekondes. Kan jou webwerf die volgende vrae binne 3,5 sekondes beantwoord?
- Wat bied jou maatskappy?
- Hoe weet ek julle is betroubaar?
- Is die maatkappy kundig in hulle veld?
- Wat is die kwaliteit van hulle dienste en produkte?
- Wat is die volgende stap? (Call-to-action?)
Stap 6 – Ontwikkel ‘n plan ten opsigte van die toepaslike Sosiale Media platforms
Waar bevind jou potensiële kliënte hulleself gereeld – Facebook?, LinkedIn?, Pinterest?, ens. As jy dit vasgestel het, kan jy ‘n plan ontwikkel om hulle daar te ontmoet.
Stap 7 – Ontwikkel kontentaanbiedings om kontakte deur die Web te verkry
Wat bied jy vir my as jou gebruiker? As jy as ‘n voorbeeld veselglasswembaddens verkoop, sal ek graag jou GRATIS eBoek getitel “Verskil tussen ‘n veselglas en Marbilite swembad” aflaai. Verstaan die punt.
Stap 8 – Skryf webjoernale (blogs) en webwerfkontent na aanleiding van die voorafgaande beplanning
Dis nou hier waar die kontentding gebeur. As jy elke week ‘n 500 woorde webjoernaalartikel skryf sal jou webwerf in een jaar met 26 000 woorde gegroei het. Die gemiddelde webwerf in Suid-Afrika het min-of-meer 3 000 woorde. Jy het ‘n voorsprong van 23 000 woorde op jou gemiddelde konkurent.
Stap 9 – Implementeer bemarkings-outomatisering
Was jy bewus dat daar is tegnologie beskikbaar is wat jou hele aanlynbemarkingsplan kan outomatiseer. As jou plan in plek is, kan hierdie sagteware baie man-ure spaar en boonop goeie resultate teweegbring.
Stap 10 – Voer Digitale Bemarkingsplanne uit
Wat is ‘n plan as dit nie uitgevoer word nie? As alles in die fynste besonderhede beplan is, moet uitvoering plaasvind voordat jy sukses kan sien.
Stap 11 – Meet Digitale Bemarkingsaktiwiteite en doen aanpassings waar nodig
Dis die wonder van Digitale Bemarking. Dit kan vanaf die eerste dag gemeet word. ‘n Plan wat nie die gewensde resultate lewer nie, kan baie vinnig gestaak of verander word – ek praat van binne ‘n maand of 3 voordat te veel geld vermors is. Dit is uiters belangrik om ten minste weekliks na die verslae te kyk.
Stap 12 – Optimeer Kliëntverkrygingskostes
As jy R350 betaal om ‘n nuwe kliënt te kry deur Digitale Bemarking en die lewenswaarde van die kliënt is R7000, dan maak dit mos sin om net meer kere R350 rande in te sit ten einde meer kliënte te kry. Met al die data en inligting tot jou beskikking kan jy dalk oor die periode van 6 maande die R350 verminder na R250, of selfs dalk minder. Dis die hele doel van hierdie punt.
Indien jy graag ons Digitale Bemarkingsplanwerkswinkel op 25 November 2017 by Diamantvallei wil bywoon besoek die KragDag aanlynwinkel.
Kontak gerus vir Elmo Lombard; elmo@ygreen.co.za; +27 (0) 83 459 0306 vir meer inligting.
Uitstekende artikel
Hoekom skryf jy van “kontent” en nie van “inhoud” nie?
Die aanlyn wereld het sy eie stel woorde ontwikkel wat meeste mense verstaan omdat dit so baie in die media is. Ek vind dat meeste mense waarmee ek te doen het dink kontent en inhoud is twee verkillende aspekte van ‘n webblad, dis deels omdat die Engelse woord “Content” so wyd gebruik word. Ek dink dis dalk ‘n goeie idee om beide saam te gebruik as ‘n opleiding geleentheid.