Voorkoming van ‘n plaasaanval

‘n Plaasaanval is een van dié onsekerhede wat geen boer kan voorsien nie en ook nie altyd op voorbereid is nie. Daar is egter maatreëls wat getref kan word om die aanval te vertraag of selfs te laat misluk. Tot vervelens toe is oor die onderwerp gepraat en is landbouers aangemoedig om meer paraat te wees. Tog gebeur dit, dat na ‘n aanval, dit aan die lig kom dat weinig of geen maatreëls in plek is nie, of dat paraatheid bloot verslap is.

Met voorkoming word bedoel dat jy vroeë waarskuwings oprig, in werking stel en instand hou, sodat jy nie voor die tv, etenstafel of in jou bed verras word nie. Basiese maatreëls is:

  • ‘n Heining wat aan ‘n alarm en sirene gekoppel is.
  • Infrarooi strale (beams) wat aan ‘n alarm en sirene gekoppel is, wat jou kan wakker maak. Strale kan ook sonder die alarm geaktiveer word.
  • Honde buite, asook in die huis. Honde binne die huis kan nie vergiftig word nie.
  • Goeie kamarastelsel wat aanvallers kan identifiseer vir latere optrede deur die SAPD.
  • Behoorlike veiligheidsdeure voor alle buitedeure en diefwering voor alle vensters.
  • ‘n Hek in die gang wat vir jou tyd koop sodat jy in ‘n veilige vertrek (strong room) kan kom, hulp kan ontbied en weerstand bied.
  • Behoorlike beligting wat nie die woonhuis verlig nie.
  • Struike en plante weg van die huis om nie wegkruipplek aan aanvallers te bied nie.

In die geval wanneer weerstand gebied word, moet maatreëls in plek wees om te verseker dat nie een van die gesinslede per ongeluk raakgeskiet of beseer word nie. Hierdie maatreëls geld ook vir kuiergaste:

  • Ingeoefende wagwoord en beweging na die veilige vertrek.
  • Ingeoefende take wat elkeen moet kan verrig, soos radio beman, selfs help met weerstand bied en noodhulp verskaf
  • Die waarneem van volgorde van gebeure kan deurslaggewend wees met die ondersoek.

Die “veg of vlug” scenario moet deel vorm van die inoefening ter wille van oorlewing.

Dra jou wapen en wees te alle tye wapengereed. Die gereelde deelname aan georganiseerde skietoefeninge is ook van kardinale belang, m.a.w. ken jou wapen. Vrede met jou bure kan ook vir jou tot groot hulp wees, want dit is die hulp wat die naaste aan jou is. ‘n Lys van voertuig registrasienommers, mediese fonds-inligting met allergieë, kroniese medisyne, bloedgroepe, ensovoorts moet aan jou bure bekend wees in ‘n geval van nood. Onthou net om die lys op datum te hou!

Hierdie artikel, geskryf deur Theunis Kruger, het oorspronklik verskyn in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 14/18. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Theunis Kruger
  • Theunis Kruger

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui