Huis- en haardbeskerming
Suid-Afrika het oor die afgelope dekades en veral die laaste paar jaar, toenemend ‘n gevaarlike plek geword om in te leef en om jou kinders in groot te maak. Plase en kleinhoewes is geteiken as ‘n misdaadslagveld, omdat afgeleë plase en kleinhoewes die kriminele en moordenaars bevoordeel. Die invloed wat die geweldsmisdade op die moraal van die gemeenskap het, is verdoemend.
Ons kan die polisie en ander instansies verantwoordelik hou, maar dit gaan nie die probleem oplos nie. Ons sal onsself moet paraat maak. Hoe gaan ons dit doen? Ons moet ons gesonde verstand gebruik, alle hulpbronne benut, maar self verantwoordelikheid aanvaar en onsself toerus met kennis, vaardigheid, geloof en leierskap.
Doel
Ons doel is om persepsies van gemeenskappe ten opsigte van die bedreiging en faktore betrokke, te verander om sodoende ‘n pro-aktiewe benadering te weeg te bring. Die modus operandi van die huidige bedreiging is grootliks onbekend aan die gemeenskappe. Alle stelsels huidig in plek is ontwerp om die krimineel en moordenaar te vang en te vervolg. Daar bestaan bitter weinig, indien enige, praktiese maatreëls om die bedreiging pro-aktief te voorkom.
Beskermingsplan
Die benadering wat gevolg moet word, is om deur middel van wetstoepassing die misdadigers af te skrik. Dit weet ons gebeur nie. Die gemeenskap is dus primêr verantwoordelik vir sy eie veiligheid.
Opleiding
(i) Selfverdediging- Elke persoon in die gemeenskap moet opgelei word om hom- of haarself met kaal hande, huiswapens, messe, ensovoorts te verdedig in realistiese omstandighede.
(ii) Vuurgeveghantering- Alhoewel ‘n groot meerderheid van die gemeenskap wel wapenbehendig is, beslaan wapenbehendigheid ‘n baie klein deel van ‘n werklike vuurgeveg. Die gemeenskap moet opgelei word om die korrekte in-oefeninge ten opsigte van taktiese- en skiettegnieke te kan toepas tydens ‘n werklike vuurgeveg.
(iii) Gyselaarontsetting- Gemeenskappe sal dikwels met ‘n vuurgeveg om en in ‘n huis gekonfronteer word. Waar ‘n gesin as gyselaars aangehou word, verg dit spesiale opleiding om die situasie te hanteer. Sonder gevorderde opleiding is oorlewing baie skraal.
(iv) Teenkapingsmaatreëls- Gevorderde opleiding is nodig om ‘n situasie te skep wat dit vir die krimineel moeilik maak om die kaping suksesvol uit te voer.
(v) Ken u regte- Ken u regte ten opsigte van onwettige arrestasie, ken art 49 van die strafproseswet, ken die veediefstalwet, asook u regte, ken u regte ten opsigte van onwettige grondbesetting en hou uself op hoogte ten opsigte van vuurwapenwette.
Mobilisering
Dit is uiters noodsaaklik dat elke lid van die gemeenskap betrokke moet raak by die plan. Elke persoon se bydrae is kardinaal en slegs deur totale betrokkenheid van die hele gemeenskap, kan die totale gemeenskap beveilig word.
Vroeë waarskuwing
Slegs deur die beginsel van vroeë waarskuwing, kan pro-aktiewe optrede geimplementeer word om lewens en eiendom te beskerm. Die volgende fasette is belangrik:
(i) ‘n Inligtingsnetwerk moet geïmplementeer word.
(ii) Die fisiese sekuriteit van die perseel of opstal moet aangepas word volgens die beplanningsproses van die krimineel. Dis die eerste lyn van effektiewe verdediging.
(iii) Fisiese maatreëls sluit in goeie sleutelbeleid/-beheer, doeltreffende veiligheidshekke, alarms en kamara’s. Die bogenoemde moet vanuit ‘n krimineel se oogpunt geïnstalleer word om enigsins van waarde te wees.
Modus operandi van aanvallers
(i) Verkenning word gedoen voor ‘n aanval, tot solank as ‘n maand voor die tyd.
(ii) Vrae vir inligting word aan arbeiders gevra, soms is arbeiders betrokke, soms word deelname deur arbeiders geforseer.
(iii) Soms word aanvalle voorafgegaan deur kleiner insidente soos peuter met voertuie of vergiftiging van honde.
(iv) Inligting soos roetine, uitleg van die woning en posisie van die kluis, word deur huishulpe aan aanvallers verskaf.
(v) Arbeiders word gewerf, veral wanneer hulle onder die invloed van drank is.
(vi) Nuwe arbeiders is soms betrokke by aanvalle.
(vii) Die guerilla-tipe aanvalle maak dit moeilik om te bepaal waar die volgende aanval gaan wees.
Huisbeveiliging
Vir ‘n aanvaller om te slaag, moet die volgende faktore in sy guns tel:
(i) Skuiling
(ii) Geluidlose benadering
(iii) Verrassing
Dis onmoontlik om ‘n gedetermineerde aanvaller uit te hou, maar deur bogenoemde faktore te ontneem van ‘n aanvaller, verhard jy jou eiendom en word risiko’s vir aanvallers te groot om aan te val.
Strategiese beligting van die grense van die woning sal die skuiling van aanvallers grootliks elimineer. Ligte moet vêr genoeg van die woning af wees, sodat inwoners in die huis kan beweeg, sonder dat beweging van buite af waargeneem kan word
Toegangsroetes moet geïdentifiseer word om dit vir aanvallers moeilik te maak om die huisbewoners te kan verras. Roetes kan van dag tot nag verskil, beplanning moet ook daarvoor voorsiening maak.
Honde is ‘n goeie vroeë waarskuwingsmiddel, maar honde binne-in die huis is van kardinale belang, aangesien honde buite vergiftig kan word.
Veiligheidshekke moet by alle buitedeure aangebring word, asook in die gang om kamers van die res van die huis te skei. Diefwering is ook ‘n moet en moet liefs buite aangebring word, aangesien die hele venster bedek word en nie net die gedeeltes wat oopmaak nie.
Alarms en strale moet só geïnstalleer wees, dat dit as ‘n vroeë waarskuwing kan dien, wat die verrassingselement kan neutraliseer.
Elke huis moet ‘n veilige vertrek hê, waar inwoners kan skuil. ‘n Kode woord wat net bekend is aan die inwoners, moet gebruik word om inwoners te waarsku van dreigende gevaar.
Gebeurlikheidsplanne moet in plek wees en gereeld ingeoefen word, sodat elkeen weet wat om te doen in geval van nood.
Wenke
Die betroubaarste manier om misdaad te bekamp, is ‘n besorgde, waaksame, oplettende en meelewende gemeenskap, met die wil om mekaar te ondersteun. Verander jou lewenswyse, dit kos niks. Deur jou ingesteldheid om veilig te wees, kan meer as 60% van alle misdaad voorkom word. ‘n Vuurwapen in die kluis beteken vir jou niks, verkoop hom!
Wanneer jy tuiskom in die donker:
(i) Wees wapengereed voordat jy op die werf kom.
(ii) Let op na die honde se gedrag.
(iii) As enige iets verdag lyk, ry weg en ontbied hulp.
(iv) Moenie te lank buite vertoef nie, let ook op na vreemde reuke in die huis.
(v) Behou sekerheid – niemand moet weet van u bewegings of tye van vertrek of aankoms nie.
Na jou dagtaak:
(i) Skakel die strale aan.
(ii) Sluit veiligheidshekke by buite deure.
(iii) Wees altyd wapengereed.
(iv) Moenie uitgaan indien honde blaf of geluide buite gehoor word nie.
(v) Moenie uitgelok word deur siekte of vuur nie.
(vi) Buite spreiligte wat met beweging aangaan, moet ook as vroeë waarskuwing dien.
(vii) Alarms moet geaktiveer word met slaaptyd. Laat ‘n lig ook brand met ‘n tydskakelaar, nadat u reeds gaan slaap het. Wissel die lig gereeld na verskillende vertrekke.
In die oggend:
(i) Wanneer u die huis verlaat, kyk na die honde se gedrag.
(ii) Wees wapengereed.
(iii) Indien vreemde persone naby die werf opgemerk word, beweeg agter dekking in. Moenie toelaat dat hulle te naby aan u kom nie.
(iv) Kontak u buurman dadelik
Hierdie artikel, geskryf deur Theunis Kruger, het oorspronklik verskyn in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 13/18. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.