KragDag kry ’n Landbou sub-ekspo
Die KragDag ekspo, waar jaarliks ’n groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings uitgestal word, bied van 2019 af, in samewerking met TLU SA, ook ’n gelyklopende landbou sub-ekspo gedurende die drie dae van die ekspo aan.
Met sy Doen-jou-eie-ding leuse het KragDag ’n baie praktiese ingesteldheid en moedig die ekspo mense aan om innoverend te bou aan ‘n volhoubare selfstandige vrywees lewe.
Die landbou sub-ekspo sal gehuisves word op sowat twee hektaar aanliggend tot die bestaande ekspo terrein en sal ’n sterk klem op interaktiwiteit en demonstrasies hê
Afgesien van sowat 125 landbou uitstallings word ook voorsiening gemaak vir ’n propvol program met bekende en kundige sprekers, bekendstellings, demonstrasies en kompetisies oor veeteelt, akkerbou, ander minder bekende boerderygeleenthede en aktuele sake.
Daar sal een tent wees wat fokus op akkerbou aanbiedings en tweede tent vir veeteelt.
’n Verskeidenheid van rasse sal deur telergenootskappe bekend gestel word, maar daar sal ook aan die hand van lewendige vee wenke verskaf word oor beoordeling van ’n dier wanneer oorweeg word om dit aan te koop vir vleis en produksie doeleindes.
In die arena-program sal, behalwe leersame en interaktiewe items (ook vir die kinders), vertonings soos ruiterboogskiet en ander perde-optredes bevat.
Van die hoogtepunte is die Toyota Jong Afslaers Streekskampioenskappe en ’n Slaglam Karkas kompetisie.
Hou gerus die KragDag nuusbrief en Facebook dop vir nog interessante aankondigings oor die landbou sub-ekspo.
KragDag 2019 vind op 8-10 Augustus plaas op die Diamantvallei Landgoed, 20 km oos van Pretoria.