Bronkhorstspruit-studiegroep en KragDag se Landbou sub-ekspo

Landbou is deel van vele van ons mense se genetiese samestelling. Dit kan seker teruggevoer word na die koms van Jan van Riebeeck en al die Hugenote en Setlaars wat gevolg het, wat hoofsaaklik uit een of ander boerderybedryf hul bestaan begin maak het. Dit is dus nie vreemd dat talle van ons nog steeds ‘n boerdery-in-die-bloed-gevoel het en daarom ons op een of ander manier daarmee besig hou nie.

So het dit dan gebeur dat sommige van ons met skape boer, wat jaarliks geskeer moet word. Die skeerdery was telkens ‘n uitdaging. Eerstens om ‘n geskikte span te kry wat darem nou nie jou skape slag in stede van skeer nie. Daarna was dit ‘n storie om die skeersel bemark te kry en uiteindelik die paar rand wat jou toekom, in jou bankrekening te kry. Na jare van rondvallery het ons uiteindelik by CMW (Cape Mohair and Wool) beland, wat ons wolsake meer van ‘n plesier as ‘n gesukkel maak. Die manne aan stuur van sake is Cornie Faber, voorsitter van Carolina se welbekende Misbelt Skaapstudiegroep, asook Bruce Lewis wat plaaslik dinge glad laat verloop.

‘n Gesprek tussen myself en bogenoemde twee here het uitgeloop op die stigting van die Bronkhorstspruit-studiegroep, wat aanvanklik as Skaapstudiegroep bekend gestaan het en wat ten doel gehad het om die behoeftes van die plaaslike boerderygemeenskap aan te spreek.

Soos ons ledetal gegroei het en ons aan ons konstitusie gewerk het, het dit duidelik geword dat ons moes uitbrei om ook die res van die veebedryf in te sluit. Ons embleem weerspieël dan ook dat ons alle herkouers en wild onder een dak huisves.

Die Studiegroep bied ‘n gulde geleentheid aan alle klein- en grootveeboere om hul kennis te verbreed oor alle aspekte van die bedryf en ook veral om mekaar te help. Oor die afgelope twee en ‘n half jaar sedert stigting, is uitstekende saamkom-dae gereël met top kundiges as sprekers. Saam met Diamond L  Voerkraal en Slagpale is ook reeds twee baie leersame praktiese dae aangebied wat ‘n slaglam-kompetisie ingesluit het. Nog ‘n suksesvolle inisiatief was ’n boeredag met die klem op WATER as skaars hulpbron en hoe ons dit reg moet bestuur.

Vir 2019 word daar groot dinge beplan. Die jaar se program het reeds op 17 Januarie by Bronkhorstspruit se Hinterland-konferensiesentrum afgeskop, met ‘n praktiese werkswinkel deur dr_Hendrik Smit, die hoof van bewaringslandbou by Graan Suid-Afrika, oor hoe ons weer lewe in ons grond en weidings kan plaas en dit reg bestuur.

Die volgende geleentheid vind plaas op 12 Maart wanneer dr Vlok Cilliers van RCL Foods (Molotek) ons gaan toelig met ‘n aanbieding oor alles van ooi- en lamversorging waaroor ons nog gewonder het.

Lede van die studiegroep is ook deel van die inisieerders en organisering van die Landbou Sub-Ekspo, ’n belangrike hoogtepunt op vanjaar se kalender, wat tydens KragDag 2019 vanaf 8 – 10 Augustus 2019 aangebied word. ’n Propvol program vir hierdie geleentheid is reeds besig om vorm aan te neem – hou hierdie spasie dop.

As u by die Bronkhorstspruit-studiegroep wil aansluit of inligting verlang, skakel gerus met een van die volgende persone:

  • Attie du Toit (voorsitter) 083 225 8600
  • Bruce Lewis (ondervoorsitter) 072 043 0809
  • Sinette Pretorius (sekretaresse) 076 838 3274
  • Hannes Oosthuizen (addisionele lid) 082 373 1343
  • E-pos: studie@gmail.com

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui