
Tuisonderwys: Toe tot nou
Voor 1994 was dit onwettig om jou kinders self by die huis skoolonderrig te gee. André en Bokkie Meintjes is byvoorbeeld tronkstraf opgelê omdat hulle geweier het om hul kinders in die skool te sit. Hul kinders is na ‘n kinderhuis weggestuur. Met die hulp van ‘n veldtog deur die Home School Legal Defense Association van Amerika is die ouers na sewe maande uit die tronk vrygelaat as deel van die Mandela-vrylatings in 1994.

Reeds teen die laat tagtigerjare het baie ouers begin besef dat hulle nie hul kinders in die staatsonderwysstelsel sou kon opvoed nie. Die probleem was egter dat die regering nie tuisonderwys toegelaat het nie. Tuisskolers het besluit om hul kragte saam te snoer en in 1992 word die Vereniging vir Tuisonderwys gestig, met Leendert van Oostrum as voorsitter. Tuisonderwys was daardie jare, voor Facebook en selfone, ‘n onbekende en sosiaal-onaanvaarde opsie. Net die heel eksentriekes het dit gewaag om só stroom-op te swem. Gou het meer mense begin belangstel en het die Vereniging begin om inligting oor tuisonderwys te versprei.
Die nuwe Grondwet wat in 1994 aanvaar is, beskerm die reg op onderwys uitdruklik: “Elkeen het die reg op basiese onderwys” (Artikel 29); asook ouers se reg op ouersorg (Artikel 28). Tuisskolers het uit hul wegkruipplekke begin kom en die getalle het gegroei, soveelso, dat in 1995 die eerste Tuisonderwyskonferensie buite Pretoria gehou is. Van heinde en verre het mense opgedaag om dit by te woon.
In 1996 word die SA Skolewet (84/1996) gepubliseer en dit maak uitdruklik voorsiening vir tuisonderwys. Volgens Artikel 51 van die SA Skolewet kan die Hoof van die Departement ‘n leerder onder sekere voorwaardes registreer vir tuisonderwys. Die voorwaardes was vir die meeste tuisskolers nie aanvaarbaar nie en dit het daartoe gelei dat baie min tuisskolers by die Departement geregistreer het.
In 1997 verskyn die eerste navorsing oor tuisonderwys in Suid-Afrika. Leendert van Oostrum behaal sy M.Ed. oor die reg op tuisonderwys. Ander navorsing wat hierop gevolg en dit ondersteun het, het beteken dat tuisonderwys gaandeweg ‘n meer aanvaarde onderwysmodel in Suid-Afrika geword het.
Die Vereniging vir Tuisonderwys besef mettertyd dat hulle “tande” nodig sou hê indien hulle hul op die howe sou wou beroep om die reg op tuisonderwys af te dwing. Die Vereniging het die bestuur dus opdrag gegee om ‘n regsfonds te stig en gevolglik is die Pestalozzi Trust in 1998 gestig.
Die Pestalozzi Trust is een van net drie soortgelyke regsfondse ter wêreld. Die ander twee is die Home School Legal Defense Association in die VSA en die Home School Legal Defense Association in Kanada. Die Trust is ‘n nie-winsgewende organisasie, en die inkomste word verkry uit ledefooie wat lidgesinne jaarliks betaal. Dit is ‘n lede-organisasie en nie ‘n registrasie-owerheid nie. Die Trust is daargestel om die regte en vryhede van gesinne te beskerm om hul kinders tuis volgens hul eie godsdienstige en/of filosofiese oortuigings en kulturele tradisies op te voed.
Die Beleid oor Tuisonderwys word in 1999 gepubliseer. Die registrasievereistes wat volgens hierdie beleid toegepas is, het weereens veroorsaak dat min tuisskolers by die onderwysdepartement geregistreer het.
Van die eerste kurrikulumverskaffers vir tuisonderwys het uit die geledere van tuisskolers gekom – van ouers wat self hul kinders tuis geleer het. So het Theocentric Christian Education onder leiding van Graham en Alison Shortridge ontstaan en ook Breinlyn (nou Brainline), die breinvrug van Hannes en Coleen Cronjé. So ook is Le-Amen deur die tuisskoolouers, Vincent en Louise Willemse gestig en Love2Learn deur Marc en Ivana Ries. Pieter en Elize Botha het Impak (nou Impaq) gestig. Hierdie tuisskoolverskaffers wou in die eerste plek vir hul eie kinders ‘n beter toekoms skep en daaruit het besighede ontstaan wat die breër tuisskoolgemeenskap kon dien. Vandag is daar kurrikulumverskaffers te kus en te keur.
Daar het nog meer tuisskoolverenigings ontstaan. Die meeste het oorspronklik as ondersteuningsgroepe begin. Hierdie verenigings kan as verteenwoordigende liggame ‘n belangrike rol speel wanneer daar met die owerheid onderhandel moet word en om insette in voorgestelde wetgewing te gee. Vandag bestaan daar ook talle ander ondersteuningsgroepe, Whatsapp-groepe en Facebookgroepe. Verskillende ekspo’s is oor die jare aangebied om kurrikulummateriaal bekend te stel en ook om die tuisskoolgemeenskap ‘n geleentheid te bied om te netwerk.

Dié verenigings en die Pestalozzi Trust was betrokke by die eerste fase van die hersiening van die wet en beleid op tuisonderwys, wat in 2014 begin het. Die tuisonderwys-afvaardiging het die departement baie deeglik ingelig oor alle moontlike aspekte van tuisonderwys. Min daarvan het egter neerslag gevind in die hersiene wetgewing wat in Oktober 2017 as die BELA Bill verskyn het. Hierdie Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette wil groot wysigings aan die wetgewing op tuisonderwys aanbring. Die BELA Bill sowel as die Hersiene Beleid op Tuisonderwys wat in 2018 verskyn het, het baie opstand en onrus in tuisskoolgeledere veroorsaak. Dit het gelyk of die staat tuisonderwys nou finaal die nekslag wou toedien en dit in die kanne en kruike van staatsonderwys wou giet.
Teen hierdie donker agtergrond van verdrukking is die African Home Education Indaba 2019, wat van 17 tot 19 Oktober in Pretoria plaasvind, ‘n simbool van hoop. Tuisskolers gee nie moed op nie en weet dat daar inteendeel ‘n blink toekoms wink vir hulle. Die idee van ‘n Afrika-konferensie het ontstaan nadat afgevaardigdes uit Suid-Afrika, Kenia en Uganda die Global Home Education Conference (GHEC 2018) in Rusland bygewoon het. In die voormalige Sowjet-Unie floreer tuisonderwys nou, en tuisskolers ondervind minimale inmenging vanaf die staat. Die Pestalozzi Trust beskou internasionale skakeling as van groot belang en was ook betrokke as organiseerders en sprekers by die vorige GHEC 2016 in Rio de Janeiro asook die GHEC 2012 in Berlyn.
Benewens ‘n kurrikulum-uitstalling wat tydens die African Home Education Indaba 2019 sal plaasvind, is daar van die beste internasionale en plaaslike sprekers oor tuisonderwys genooi. Sprekers uit die VSA, Kanada, Rusland, Kenia, Namibië en Uganda het die uitnodiging aanvaar. Tegelykertyd word die mondigwording van die Pestalozzi Trust ook dan gevier.
Om ma en pa die kans te gee om rustig na die praatjies te kan luister en deel te neem, is daar ‘n interessante kinderprogram uitgewerk, wat die kinders opvoedkundig sal besig hou. Moet dit nie misloop nie!
******************
Vir meer besonderhede oor die Gauteng Tuisonderwys Ekspo en die Afrika Tuisonderwys Konferensie (Africa Home Education Indaba 2019), wat hierdie naweek in Pretoria plaasvind, besoek die volgende webtuistes:
Alhoewel kaartjies by die hek beskikbaar is, kan jy ook jou toegangskaartjie, met een van die volgende twee opsies, HIER koop:
- Afrika Tuisonderwys Konferensie PLUS Gauteng Tuisonderwys Ekspo – 17-19 Oktober: R100 (Kaartjies is beskikbaar tot Woensdag 16 Oktober.)
- Gauteng Tuisonderwys Ekspo – slegs 19 Oktober (maar sluit ook Saterdag se lesings van die Afrika Tuisonderwys Konferensie in): Die hekfooi is R70 per volwassene. (R35 indien jy jou kaartjie voor 24:00 op Vrydag die 18e Oktober koop.)
- Toegang vir kinders tot 18 jaar is gratis.