Ons ingesteldheid teenoor tegnologie en werkskepping
Mense stroom Suid-Afrika binne, aardverwarming vind plaas, daar is ekonomiese verarming, werkloosheid, geweld, diefstal, staatsinmenging, politieke storms, en nog vele meer ander probleme waarmee ons gekonfronteer word. Verder verander die tegnologiese wêreld waarin ons leef teen ‘n geweldige tempo. Inderdaad ‘n donker prentjie!
Maar, die geskiedenis het al geleer dat wanneer die vooruitsigte donker is, kom die beste in mense dikwels na vore. Is dit nie nou die tyd om met “ruggraat” op te tree nie?
Mense is geneig om weerstand te bied teen veranderinge omdat dit hulle roetine en denkwyse versteur. Soms is dit doodgewoon net makliker en geriefliker om in jou groef te bly.
Die moderne lewe vereis egter van ons dat ons nuut sal dink. Om hierdie rede benodig ons entoesiastiese en tegnologies-onderlegde entrepreneurs in die land. Tegnoloë met deursettingsvermoë, meer nog … met ‘n positiewe instelling wat geleenthede kan identifiseer en kan benut!
Ontwikkelde lande se geheim
Wêreldwyd het studies getoon dat lande, wat nie op tegnologie fokus nie, agterbly en verarm. Daarteenoor ontwikkel die lande wat tegnologiese kundigheid najaag en gaan ekonomies vooruit.
Lande soos Egipte, Griekeland, Indië, Rusland en vele ander bestaan al vir baie eeue, maar ontwikkel nie na wense tot voordeel van hulle inwoners nie. Daarenteen ontwikkel lande soos Taiwan, Maleisië, Suid-Korea, Australië, Nieu-Seeland, Switzerland, Duitsland, Amerika, Sjina en andere teen ‘n geweldige tempo. Waarom gebeur dit en wat gebeur in laasgenoemde lande?
Die een gemeenskaplike faktor tussen hierdie ontwikkelende lande is hulle houding of instelling. Wat het hierdie lande reg gedoen?
In die laat negentiger jare het daar in Finansies en Tegniek ‘n artikel verskyn wat die Bruto Binnelandse Produk (BBP) van die RSA met dié van Taiwan vergelyk het. Gedurende ‘n tydperk van 30 jaar was daar geen noemenswaardige groei in die BBP van die RSA nie. Daarteenoor het die BBP van die heelwat armer Taiwan vanaf ‘n laer basis as dié van die RSA gegroei tot ‘n groter BBP-syfer as die heelwat ryker RSA. Wat was die rede dat Taiwan se BBP dié van die RSA verbygesteek het?
In hierdie artikel is beskryf wat die Regering van Taiwan gedoen het om sy mense op te hef. Hulle het ‘n groep kundige persone aangestel om die regering te adviseer oor watter veranderinge in Taiwan te weeg gebring moes word. Die adviseurs het ‘n SWOT-analise (SWOT = Sterkpunte, Swakpunte, Geleenthede en Bedreiginge) op alle ekonomiese aktiwiteite van Taiwan gedoen en onder andere die volgende gevind:
- Die mense van Taiwan is baie arm en ongeletterd en onkundig – ‘n swakpunt.
- Taiwan het nie baie minerale grondstowwe nie – ‘n swakpunt en ‘n bedreiging.
- Taiwan het wel heelwat landbougrond om kos te produseer – ‘n sterkpunt en ‘n geleentheid.
- Die groep het aanbeveel dat die regering baie aandag moet skenk aan opleiding van die inwoners – ‘n geleentheid.
- Daar moet op opleiding gefokus word om voldoende voedsel te produseer en op die bemarking daarvan aan die inwoners – ‘n geleentheid.
- Tegnologiese opleiding moet voorkeur geniet sodat fabrieke tot stand gebring kan word – ‘n geleentheid.
- Die groep en die regering het verder daarop gefokus om elektriese en elektroniese bedrywe by te staan en te bevorder – ‘n geleentheid.
- Fabrieke, klein en groot, is bygestaan om grondstowwe in te voer en om toerusting te vervaardig wat daarna uitgevoer kon word – ‘n geleenthede en ‘n sterkpunt. Die eerste Apple rekenaars het die wêreldmark hierna betree.
Wat in Taiwan gebeur het, het ook in Duitsland en Tsjegoslowakye gebeur wat sterk ontwikkel het deur die filosofie van “Vorspung durch tegnik” of ”Progress through technology”. Ons moet deeglik bewus wees wat in al die bogenoemde lande gebeur het sodat ons ook in die RSA hierdie benadering kan volg. Dit is nodig sodat werkloosheid en gepaardgaande armoede en misdaad bekamp kan word.
Elke persoon, besigheid en werksplek moet aan ‘n SWOT-analise onderwerp word om optimalisering van alle kundigheid te bewerkstellig en om te bepaal wat ten goede verander moet word.
Werkskepping
Alles wat vooraf genoem is, het ‘n invloed op werkskepping. Werkskepping kan in twee katogorië verdeel word naamlik die
- dienstesektor en
- die vervaardigingssektor.
Die dienstesektor sluit alle dienste in soos byvoorbeeld verrig deur kantoorwerkers, mediese doktors, wetgeleerdes, onderwysers, winkelassistente, ens. Ongelukkig vervaardig die dienstesektor niks konkreet nie en kan ook nie direk uitgevoer word nie.
Die vervaardigingsbedryf is die bedryf wat ‘n land kan ophef deur buitelandse valuta te verdien.
Om iets te vervaardig is dit noodsaaklik dat die entrepreneur oor die nodige tegniese kundigheid moet beskik om prosesse/metodes/resepte tegnologies te verstaan. Die proses/metode/resep moet die beste ter wêreld wees om die bepaalde produk te vervaardig. Daarmee saam moet die effektiewe arbeid of geoutomatiseerde toerusting gebruik word om die produk kompeterend ten opsigte van die wêreld te vervaardig. Die produk moet dan uitgevoer word om buitelandse valuta te verdien.
Om hierdie doelwitte te behaal moet entrepreneurs se instelling, kundigheidsontwikkeling en opleiding gepaard gaan met ‘n voordurende SWOT-analise. Bogenoemde tegnieke moet dan gebruik word om besighede te ontwikkel en te stimuleer.
Die skrywer, Louis Verhoef, nooi die KragDag-gemeenskap uit om in die artikel se kommentaarblok:
Vrae te vra oor enige van bogenoemde onderwerpe.
Vrae te vra oor behoefte aan opleiding.
Vrae te vra oor enige tegnologiese inligting van toepassing op die landbou.
Kommentaar te lewer en ‘n bydrae te lewer.
Voorstelle te maak oor hoe ons hierdie land gesamentlik kan opbou.