Pretoria FM: Waar luisteraars, lesers en kykers tuiskom

Vir meer as dertig jaar bied Pretoria FM ‘n platform waar onafhanklike nuus en aktuele inhoud gehoor kan word. Met nuus- en aktualiteitsprogramme soos Klankkoerant, Impak en Huis Toe word luisteraars op hoogte gehou van al die belangrikste gebeure – plaaslik en internasionaal.

‘n Radiostasie se taak is egter nie net om in te lig nie maar ook om te vermaak. En daarvan is daar heelwat op Pretoria FM. Met ‘n wye verskeidenheid musiekprogramme, boekvoorlesings en ander interessanthede word daar iets vir elke luisteraar gebied.

Dit het ook toenemend belangrik geraak dat tradisionele media ook kyk na ander platforms waarop hulle produkte aangebied kan word. Pretoria FM se webblad spog reeds ‘n geruime tyd met die jongste nuusberigte waar luisteraars ook lesers word en gebeure kan volg soos wat die ontvou.

Verder het Pretoria FM se span ook die behoefte gesien wat deur die leemte gelaat is met die afskaffing van bekende Afrikaanse handelsmerke in die koerantwêreld. Dit is duidelik dat lesers steeds ‘n behoefte het aan ‘n koerant in pdf-formaat wat uitgelê word met ‘n voorblad, hoofstories en die onderskeie afdelings wat sport, vermaak en menings insluit. Daarom het Pretoria FM vanjaar ook begin om Nuusweek uit te gee wat ten doel het om daardie leemte te vul.

Ons luisteraars is egter nie net ook lesers nie maar daarmee saam ook kykers. Pretoria FM se YouTube-kanaal spog met ‘n nuusbulletin wat elke weeksaand deur duisende kykers gevolg word. In Fokus word daar ook in diepte gekyk na die jongste nuusgebeure wanneer Jaco Versfeld en sy span kundiges dit ontleed.

Pretoria FM is deeglik bewus van die veranderende medialandskap en wil verseker dat ons op die voorpunt bly en in ons luisteraars se behoeftes voorsien as deel van ons deurlopende strewe – Om onafhanklike Afrikaanse inhoud na elke huis te neem.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Moira Kloppers
  • Moira Kloppers
  • Moira-Marie Kloppers is die direkteur van Idille Bemarking.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui