
Welstand deur Werksyn
Elke jaar kies Solidariteit Helpende Hand met toewyding en visie ’n jaartema wat rigting gee aan hul dienswerk en samehorigheid bevorder onder donateurs, personeel, vrywilligers en gemeenskappe. Vir 2025 is die tema gepas: “Welstand”.
Hierdie tema vorm die hart van Solidariteit Helpende Hand se strewe om holistiese welstand binne Afrikaner kultuurgemeenskappe te bevorder. Dit sluit nie net die fisiese en emosionele welstand van individue in nie, maar ook geestelike, kulturele en finansiële welstand. Deur gesprek en betrokkenheid word daar gefokus op die uitdagings wat welstand bedreig, asook op praktiese oplossings om ’n voorspoedige toekoms vir komende geslagte te verseker.
Die Hart van Welstand deur Werksyn
Die slagspreuk “Welstand deur Werksyn” verwoord Solidariteit Helpende Hand se missie: om mense met waardigheid te bemagtig deur werk, ondersteuning en gemeenskapsverbondenheid. Hierdie beginsel vind gestalte in elke projek, van skooltassies aan graad een-leerlinge tot veilige hawens vir kinders in die vorm van Ons Plekke, asook rentevrye studielenings en die hantering van maatskaplike krisisse.
’n Eenvoudige maar betekenisvolle definisie van welstand, soos dit in Solidariteit Helpende Hand se benadering geleef word, is wanneer individue en gemeenskappe met geborgenheid en verbondenheid hul roeping uitleef, gesond van liggaam en gees, en gelukkig in hul plek en doel.
Werksyn: ’n Dieper Betekenis
Vir Helpende Hand is werksyn veel meer as blote ekonomiese aktiwiteit. Dit beteken dat gemeenskapslede met selfverantwoordelikheid, roepingsgedrewenheid en samewerking saamwerk aan ’n vry, vervulde toekoms. Dit is hierdie idee van werksyn wat Solidariteit Helpende Hand se projekte dryf, regdeur hul nasionale netwerk van 200 takke, 127 Ons Winkels, en 7 Ons Plekke.
Unieke Waarde-aanbieding van Solidariteit Helpende Hand
Met die fokus op welstand deur werksyn beklemtoon Helpende Hand hulle omvattende diensaanbod, wat insluit:
- Toegang tot die geleentheid om te studeer deur die Studietrust
- Vaardigheidsopleiding in versorging deur die SHH Opleidingsinstituut
- Welstandsgerigte gemeenskapsontwikkelingstruktuur
- Praktiese projekte waarby die gemeenskap betrokke kan raak
- Gemeenskapskonsessie-netwerk van Ons Winkel
- Kleuterskool- en naskooldienste deur Ons Plekke en terapeutiese dienste deur Ons Sentrum
Welstand as Geloofsdaad
Vir Solidariteit Helpende Hand is welstand ook ’n geestelike pad. Die organisasie vertrou op God se genade en glo dat ware welstand begin met geloof, liefde en gehoorsaamheid aan God se wil. Soos Romeine 8:28 bevestig:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
2025 ’n Jaar van Gebalanseerde Groei
Solidariteit Helpende Hand nooi die publiek, donateurs en gemeenskapslede uit om in 2025 deel te wees van hierdie beweging van welstand deur werksyn. Deur saam te werk, kan ’n toekoms gebou word wat vryheid, veiligheid en voorspoed verseker, vir vandag én vir die geslagte wat volg.
“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Besoek www.helpendehand.co.za en maak saam met ons ‘n verskil.
