
Onbillike rasseklassifikasiewette verdiep waarskynlik in 2026
NEASA en Sakeliga het ’n formele aanmaningsbrief aan die Minister van Arbeid en Indiensneming en die Minister van Binnelandse Sake gerig waarin hulle eis dat die regering onmiddellik en onvoorwaardelik die instruksie aan werkgewers terugtrek om die herroepte Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 vir rasseklassifikasie te gebruik. Volgens die organisasies is dié direktief onwettig, moreel onaanvaarbaar en prakties onuitvoerbaar, aangesien die wet reeds in 1991 herroep is juis omdat staatsrasseklassifikasie onregverdig, administratief onvolhoubaar en internasionaal onaanvaarbaar was. Hulle waarsku verder dat die herinstelling van sulke praktyke Suid-Afrika blootstel aan ernstige plaaslike en internasionale regs- en reputasierisiko’s.
Die organisasies beklemtoon dat werkgewers nie toegang het tot historiese staatsdata of enige wettige gesag om werknemers se ras te bepaal nie, wat arbitrêre, diskriminerende en regsgevaarlike besluite onvermydelik maak. Dit stel werkgewers bloot aan eise oor onbillike diskriminasie, skending van menswaardigheid en die onwettige verwerking van persoonlike inligting. NEASA en Sakeliga eis daarom dat die staat duidelike, wettige en grondwetlik volhoubare riglyne moet uitreik wat werkgewers onthef van rasseklassifikasie. Indien die regering nie aan hierdie eise voldoen nie, sal regstappe oorweeg word.
Lees meer hier.
