Skeer soos ‘n meneer

Selfbeskikking en volhoubaarheid het heelwat fasette. Een waaraan ons heeltemal te min aandag skenk, is ons koopgewoontes. Ons het heeltemal vergeet van die pragtige, skoon, plastieklose land waarin mense in die jare 60’s gelewe het. Die gebruik van plastiek is al so algemeen, dat dit moeilik is om te dink dat baie van ons ouers nog jong werkendes was toe hierdie aaklige ding sy kop uitgesteek het! Hulle sal sekerlik nog kan vertel hoe die samelewing heeltemal goed sonder plastiek gefunksioneer het.

Die gemiddelde persoon wat hierdie nuusbrief lees gooi daagliks plastiek weg, en heelwat daarvan kom uit hulle badkamers. As ons spesifiek na skeergoed kyk, dan is dit elke paar jaar ‘n nuwe skeermes, talle skeerlemkoppe en hope blikke met plastiekdoppe en spuitstukke. Uit die staanspoor wil ek vir jou goeie nuus gee. Om te skeer op die “ou manier” teenoor hoofstroomprodukte, kan vergelyk word met die verskil tussen goeie wyn en goedkoop plonk, kitskoffie en vars geroosterde bone in ‘n pers, of verouderde brandewyn teenoor alkohol met ‘n geurseltjie. Maar tog is skeer anders in een opsig… dit is goedkoper as jy die “beter” uitweg kies. Dit is heeltemal ongehoord! Is beter nie altyd duurder nie?

Kom ons kyk gou na die geldsake; ‘n veiligheidsskeermes-lemmetjie kos jou tussen R1.20 en R6 per lem. As jy met die populêre multi-lem sisteem skeer, kan jy tussen R30 en R60 per lem betaal. As jy weggooi-skeermesse koop, sal jy tussen R 3 en R30 per weggooi-skeermes betaal. Om met ‘n veiligheidsskeermes te skeer, is dus by verre die goedkoopste sisteem om te gebruik. Dit geld ook vir die gebruik van skeerseep teenoor skeerroom of gel uit die blik. Die gemiddelde man gebruik 0.5 gram skeerseep per skeer, terwyl hy tussen 6 en 9 gram van die blik se produk per skeer gebruik.

Weggooibare skeermesse se tol op die omgewing is die hoogste. In die VSA alleen word ‘n geskatte 2 miljard skeermesse jaarliks weggesmyt. Daar is ook die skeerroomblikke met al hulle plastiek komponente wat in berekening gebring moet word, asook al die metaal waarvan die blik gemaak is. Die hulpbronne wat benodig word om al die afval te herwin moet ook in berekening gebring word, en boonop word slegs ‘n klein persentasie afval herwin.

Met ‘n veiligheidsskeermes sal jy ‘n totaal van 250 gram skeerseep, en 30 gram herwinbare lemme gebruik. Dit is nou as jy elke dag vir 365 dae van die jaar skeer. Jou hele jaar se skeergoed weeg minder as een medium grootte biefstuk op jou bord ! As jy dinge wil verander om ‘n ligter voetspoor te trap in ons omgewing, kan ek nie aan ‘n makliker manier dink nie, want jou sukses is so te sê in die bank, en ‘n suksesvolle eerste tree maak daardie tweede een net soveel makliker.

Vir ons stelsel kort jy ‘n metaal veiligheidsskeermes, ‘n skeerkwas, lemme en skeerseep. Vir party ouens is dit so ‘n belewenis, dat hulle skeer hulle stokperdjie maak! Daar is manne met honderde skeermesse, kwasse en skeersepe. ‘n Skeermes, skeerkwas, lemme en seep kan jou so min as R450 per stel kos, en dit gaan jou ‘n volle jaar se skere gee, selfs al skeer jy 7 dae ‘n week! Daarna kan jy wegkom met so min as R200 per jaar vir lemme en seep, want die skeermes en borsel kan jou dekades hou!

Die reeks skeermesse, kwasse, staanders en ‘sagteware’ is astronomies. Jou eerste keuse van produkte kan vergelyk word met ‘n vakansie rit, jy kan Soddies toe te ry met ‘n Volla of ‘n Benz, jy gaan wel jou einddoel bereik, maar die genot en gerief waarin jy van punt A na B reis gaan aansienlik verskil. Jy moet dus nie verbaas wees dat ‘n vol metaal DE1 skeermes jou so min as R129 kan kos, maar… jy kan ook R30 000 vir ‘n titanium ‘Wolfman’ hoes, dieselfde geld vir borsels en sepe. Daar is produkte wat in China massavervaardig word, maar daar is ook produkte wat deur spesialis-ambagsmanne van rou komponente en materiale vervaardig is. Dit is natuurlik die ander lekker van hierdie manier van skeer. Die keuse van produkte is bykans onbeperk. Dit gaan beslis nie daaroor om gou by die supermark in te hardloop en te kyk wat daar is nie. Met díe manier van skeer kan jy jou skeertegniek vervolmaak en opskerp tot iets wat perfek pas by jou tipe baard, vel, lewenstyl, en selfs jou persoonlike voorkeure soos kleure en materiaaltipes.

Alhoewel ek gewoonlik mense aanmoedig om een keer per jaar hulle benodighede aan te koop, skaf die meeste mans genoeg skeergoed binne die eerste twee jaar aan om hulle ‘n leeftyd te hou. Alhoewel dit vir hulle meer oor die genot van skeer gaan, maak dit ook baie sin, veral as jy iemand is wat streef na volhoubaarheid. ‘n Jong man wat op die ouderdom van 20, daagliks begin skeer en aanhou tot hy 70 is, sou vandag R10 000 kon spandeer en alles aankoop wat hy nodig het (alles pas in twee skoenbokse) om die volgende 50 jaar seepglad rond te loop. Alternatiewelik kan die 20-jarige begin met die populêre multi-lemsisteem, en dan oor 50 jaar R2.4 miljoen rand op skeergoed spandeer, en terselfdertyd menige ure in supermarkte deurbring. Alle faktore in ag geneem hoef jy nie baie slim te wees om die beter opsie te kan identifiseer nie, en ons kry weekliks mense wat só spyt is omdat hulle te lank gewag tot hulle tot aksie oorgegaan het.

Skeer was baie jare lank vir mans iets wat hulle geniet het, en die oorgrote meerderheid van mans voel presies so wanneer hulle hierdie manier van skeer weer herontdek. Vergeet asseblief die ouvroustorie van “die tipe skeermesse laat die velle waai.” Baie van ons het al die volgende stap gevat en gebruik al vaste-lem skeermesse (cutthroats), en is baie gemaklik en handig met enige van die twee maniere van skeer. Sou iemand beweer die “skeermesse laat die velle waai”, vra ek hom/haar gewoonlik om vir my die litteken te wys, óf om my in kontak te bring met die “oom of tannie” met wie dit gebeur het. Gewoonlik kry ek nooit die arme persoon nie. Smaak my dit kon dalk die spook van Uniondale gewees het! Daar het wel al een tannie vir my haar been gewys, maar dit het vir my meer na ‘n varkbyt as lemskade gelyk, moontlik was sy onder die prop toe sy die aand probeer skeer het (of die varke kos gegee het). As ‘n persoon skepties bly, wys ek hom/haar die reeks van 100 skeermesse voor hulle op die tafel en vra dan die volgende: “Verduidelik vir my hoe kan ek skeer met al die verskillende tipes skeermesse, sonder om ‘n enkele krappie op te doen… dit is soos om met Michael Schumacher te stry oor Ferrari se werkverrigting omdat jou Oupa 40 jaar terug vir twee minute in een gesit het by die Randse skou.” Gewoonlik word ek begroet met ‘n lang kyk en ‘n kopkud, of die oom stap brom-brom weg. Enige mens, man of vrou, van normale hand en gedagte sal maklik regkom met die skeergoed. Ons het al oor die 3000 veiligheidsskeermesse verkoop en nie ‘n enkele persoon het een terug gestuur omdat hy/sy nie ‘kon regkom’ nie. Inteendeel, ons het soveel vertroue in ons produkte dat ons dikwels ‘n 30-dae teruggee-waarborg vir mense gee wat bietjie onseker is. Hierdie tipe produkte is meestal net aanlyn beskikbaar, maar meeste supermarkte verkoop wel lemmetjies by hulle sigaretafgelings.

AANBOD:

Gee so ‘n treetjie terug in die verlede, en vind uit hoekom jou Oupa so mal was oor skeer, altyd so goed gelyk het, en natuurlik altyd so goed geruik het.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Jaco Grobler
  • Jaco Grobler

2 Comments

  • Almal in ons huis (manlik en vroulik) skeer al soos n meneer. Ek het eerste n Bundubaard skeermes ontdek, die manne het my pragtige pienk skeermes met aanmoediging een keer probeer en vandag skeer my manne (met n sensitiewe velle) met niks anders nie. En manlief was n groot voorstaander van n skeermes moet 3 lemme hê. Ek kan die Bundubaard span beslis aanbeveel, hulle is supper geduldig en help met passie om die regte skeermes by die regte persoon te pas.

    • Dankie Ansa! Dis so lekker as ons gesinne so ‘oorvat’ geniet die skeergoed ❤️

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui