Die Sasol Sonkraguitdaging
Die Suid-Afrikaanse Sasol Sonkraguitdaging (Sasol Solar Challenge) het in 2008 ontstaan deur die inisiatief van Winstone Jordaan mét die nodige ondersteuning en ónder die mentorskap van die Bridgestone World Solar Challenge se wedren-direkteur Chris Selwood AM. Tydens hierdie twee-jaarlikse gebeurtenis wat oor agt dae gehou word, ding spanne met mekaar mee in sonkrag-aangedrewe voertuie oor die Suid-Afrikaanse landskap wat strek tussen Pretoria en Kaapstad.
Met die aanvang van die eerste Sonkraguitdaging, is daar nie besef wat die toekoms alles ingehou het vir hierdie projek waaroor Winstone Jordaan só passievol was nie. Dit was die eerste gebeurtenis van sy soort in Suid-Afrika en dit was, vir almal daarby betrokke ‘n baie groot leerkurwe. Plaaslike universiteite het vir die Sonkraguitdaging ingeskryf en hulle eie Sonkragkarre vanuit eerste beginsels gebou sonder om te weet wat voorlê. Die eerste internasionale span wat ingeskryf het, was niemand anders nie as die Tokai Sonkragspan van die Tokai Universiteit van Japan.
In 2010 het die Tokai Sonkragspan, as houers van die Bridgestone World Solar Challenge titel, het weereens vir die Sonkraguitdaging ingeskryf en ook gewen. Dit het die Suid-Afrikaanse Sonkraguitdaging as ‘n gebeurtenis van ‘n internasionale standaard gevestig en sodoende die weg gebaan vir deelname van ander internasionale spanne in toekomstige kompetisies.
Die 2012 Sonkraguitdaging was nog ‘n enorme mylpaal vir die kompetisie met die aankondiging dat Sasol die uitdaging se eerste titelborg sou wees. Die gebeurtenis was bestem om die kompetisie tot hoë hoogtes te voer en die ondersteuning van Sasol het die nodige dryfkrag daaraan voorsien. Aangesien die Sonkraguitdaging se groei as aansporing gedien het wat meer internasionale spanne sou betrek, moes beduidende veranderinge aan die roete gemaak word. Die 2012 roete wat ook bekend as die “Lang pad om” omdat spanne bykans rondom die land moes ry vir die gebeurtenis. Dit was waarskynlik die mees uitdagende roete in die kort geskiedenis van die kompetisie. Ten spyte van al die uitdagings was daar weer ‘n wenner. Enige raaiskoot wie dit sou wees? Inderdaad was dit die verdedigende sowel as die 2011 Bridgestone Wêreld Sonkraguitdaging kampioen naamlik die Tokai-span van Japan.
Tydens die 2014 uitdaging is die roete weereens aangepas – hierdie keer was dit blywend. Bo en behalwe die daaglikse skof wat afgelê moes word is ‘n lusafstand ook by elke skof gevoeg. Dit het aan die deelnemende Sonkarspanne die geleentheid gebied om verskillende strategieë te toets aangesien dit die wese van die kompetisie was om soveel moontlik kilometers in ‘n Sonkar af te lê. ‘n Nuwe kampioen is gekroon toe die Nuon Sonkragspan van Nederland se Delft Universiteit, die vorige jaar se Bridgestone Wêreld Sonkraguitdagingkampioen, ook as Sasol Sonkraguitdagingwenner aangewys is.
In 2016 het die Sasol Sonkraguitdaging as gasheer opgetree vir die grootste verskeidenheid plaaslike en internasionale spanne in die geskiedenis van die kompetisie. Die voortsetting van die daaglikse skofte met bykomende lusafstand het die bestendige formaat van die kompetisie verseker. Die wipplank stryd vir die eerste plek in die kompetisie was vir almal ‘n naelbyt gebeurtenis. Uiteindelik het die Nuon Sonkarspan van die Delft Universiteit die Tokai Sonkragspan van Japan die loef afgesteek om as wenner van die Sasol Sonkraguitdaging bekroon te word.
Met die 2018 Sasol Sonkraguitdaging is weereens rekords verbeter tydens die 10-jaar herdenking met ‘n roete wat die verskillende Sonkarspanne na die mees suidelike punt van Afrika, Kaap Agulhas, geneem het. Tydens die kompetisie is spanne van regoor die wêreld ontvang, wat ook ‘n span van aanlyn-speletjie fanatici uit Hong Kong ingesluit het wat die Sonkraguitdaging as ‘n geleentheid gesien het om iets buite hulle eie gemaksone aan te pak. Die Sonke Siyakude-span, was ‘n gekombineerde span van St. Alban’s College en LEAP School St. Augustine’s wat met hulle deelname toeskouers se harte gesteel het. Hulle oorspronklikheid en entoesiasme het skeidsmure afgebreek, nie net vir hulle span nie, maar ook vir andere. Dit was weerspieël in hulle optrede sowel as in hulle sportmansgees. Steeds was daar ‘n stryd om die eerste plek tussen al die spanne. Uiteindelik het die Nuon Sonkragspan van die Delft Universiteit weer hulle titel herower waarna hulle ‘n emosionele viering saam met hulle mededingers gehou het.
Wat kan ons van die 2020 Sasol Sonkraguitdaging verwag? Net die tyd sal leer. Die Bestuurspan het groter en beter planne en werk hard aan die voorbereiding vir hierdie gebeurtenis onder die leiding van die ISF (International Solarcar Federation) President en die Bridgestone Solar Challenge wedrendirekteur Chris Selwood AM. Ons hoop om julle in 2020 daar te sien!
Vertaling deur Deon Vosloo
Artikel geniet. Dankie. Inspirasie gegee om nog verder te loer en kom toe oa op hierdie 2014 ‘verslaggie’ af (hiert! hoe beweeg so ‘n vervoermiddel): https://youtu.be/bKAlwe2TcuI?list=PL6doaQTA4_AO5W_dXAFKlng89IWy1k7xw