
Bek- en klouseer in die era ná Covid: Het ons werklik geleer?
Wat as ’n uitbreking van ’n beheerbare siekte begin het, het ontwikkel tot ’n nasionale ramp wat beide die vleis- en melkbedryf in ’n wurggreep het en met gevolge wat die gewone man op straat ook nie gaan vryspring nie.
Die bek- en klouseer (BKS) krisis versprei reeds maande lank soos ’n veldbrand deur beesproduserende streke. In KwaZulu-Natal is die siekte gevestig, met bevestigde gevalle in feitlik al die ander provinsies. Kwarantyngebiede brei uit, veilings word opgeskort en die beweging van vee word streng beperk.
Die impak is groot. Wanneer die bemarkingsiklus in die veebedryf onderbreek word, bly kostes onveranderd voortloop, en in baie gevalle styg dit as gevolg van bykomende biosekuriteits- en mediese uitgawes. Voer moet gekoop word, werkers moet betaal word en finansiële verpligtinge bly staan. Intussen word inkomste vertraag of heeltemal afgesny. Hierdie ontwrigting beweeg deur die hele waardeketting van voer, vervoer, verwerking en verspreiding. Wat as ’n diergesondheidsprobleem begin het, het ’n ekonomiese skok geword. Die impak is egter baie meer as net ‘n ongerief of terugslag – die minister van landbou en sy departement se hantering van die saak gaan die direkte oorsaak wees vir die ondergang van talle boere.
Doeltreffende siektebeheer is noodsaaklik. Die vraag is nie óf daar beheer moet wees nie, maar hóé dit gestruktureer word.
Die huidige model rus op drie bedenklike staatspilare: sentrale aanmelding, ’n entstofmonopolie en breë bewegingsbeperkings. Al drie konsentreer besluitneming weg van die punt waar die impak gevoel en bestuur moet word. Wanneer goedkeuring, toegang tot entstof en bewegingsbesluite deur ’n enkele administratiewe sentrum moet vloei, word vertraging en rigiditeit ingebou in die stelsel self. Dit is nie ’n uitsondering nie, dit is ’n eienskap van gesentraliseerde beheer.

Dit laat ’n noodsaaklike vraag ontstaan: Het ons die lesse van die Covid-19-grendelstaat werklik so gou vergeet?
Die grootste les van daardie tyd was nie bloot dat die staat soms foute maak nie. Dit was dat wanneer die staat eksklusiewe beheer oor lewensmiddele verkry, die skade sistemies word. Die grendelstaat het gewys hoe sentralisering bottelnekke skep, hoe monopoliebeheer markseine uitskakel en hoe eenvormige regulering uiteenlopende plaaslike werklikhede ignoreer. Besluitneming is verwyder van die punt van impak, maar die koste word steeds plaaslik gedra.
Daardie patroon is herkenbaar. ’n Staatsmonopolie op entstofverkryging beteken toegang word ’n administratiewe funksie. Sentrale aanmelding beteken reaksiespoed word bepaal deur die kapasiteit, vaardigheid en gewillgheid tot dienslewering van ’n staatsentrum. Breë bewegingsbeperkings beteken sekondêre ekonomiese skade word vergroot. Die biologiese risiko word so veelvuldig vererger deur regulatoriese risiko.
Daar is feitlik nie ‘n enkele terrein waarby die staat betrokke is, waarvan hy nie ‘n mislukking gemaak het oor die afgelope paar dekades nie. ‘n Mens moet uiters naïef wees om te dink dat hy met ‘n krisis soos wat nou beleef word, en wat oneindig meer vindingrykheid en ywer vereis as die gewone daaglikse take waarmee die staat hom besig hou, hy by vermoë gaan wees om te kan presteer. Ondervinding het geleer dat enige betrokkenheid van die staat eerder skade veroorsaak of selfs tot vernietiging ly – dit is reeds duidelik dat dit soveel meer waar gaan wees met die BKS krisis. Voeg hierby die eersoekende arrogansie van beheersugtige politici asook korrupsie – daar is geen beter geleentheid as ‘n krisis om te skep en sakke vol te stop nie. Dit is ‘n resep vir ‘n slagveld.
Waar mag gekonsentreer word, word risiko gekonsentreer.
Waar besluitneming verwyder word, vervaag aanspreeklikheid.
Waar afhanklikheid groei, verswak veerkragtigheid.
Die alternatief is nie wanorde nie. Dit is gestruktureerde selfstandigheid.
Selfstandigheid beteken prakties:
- Plaas-spesifieke biosekuriteitsbeplanning gebaseer op werklike plaaslike risiko.
- Direkte toegang tot en samewerking met privaat veeartse en tegniese kundiges.
- Streeksvlak-koördinering tussen produsente waar differensiasie erken word.
- Finansiële buffer- en likiditeitsbeplanning vir regulatoriese onsekerheid.
Dit beteken risiko word bestuur waar dit ontstaan, deur mense wat die direkte gevolge van daardie risiko dra.
Die kernvraag is watter bestuursmodel die grootste veerkragtigheid lewer. ’n Model wat beheer konsentreer en afhanklikheid verhoog, of ’n model wat verantwoordelikheid versprei en besluitneming nader aan die grond plaas?
Landbou kan nie op administratiewe toestemming funksioneer nie. Dit funksioneer op kennis, aanspreeklikheid en tydige besluitneming.
Selfstandigheid is nie ’n slagspreuk nie. Dit is die enigste betroubare beskerming teen sistemiese skade.