
5 Vrae vir jou makelaar
Jou gesondheid en die gesondheid van jou geliefdes is van wesenlike belang. Mense maak daarom seker dat hulle in die beste moontlike posisie is om dit wel te kán doen. Gesondheid word, soos ‘n mens ouer word, belangriker – eerstens omdat ‘n ouer mens nie dieselfde gesondheid geniet as ‘n jong mens nie en tweedens, omdat gesondheidsorg duurder word soos ‘n persoon ouer word. Die regte keuses ten opsigte van die bestuur van jou gesondheid is daarom baie belangrik. Mens pas jou liggaam op in terme van jou lewenstyl, jy sorg dat jy raad inwin van kundige persone ten einde die beste besluite te neem, jy maak seker dat jy beplan om die nodige middele te hê om die beste mediese advies en prosedures te kan bekostig en jy sorg dat jy jou gesondheid op ‘n gedissiplineerde wyse so vroeg as moontlik bestuur.
Dieselfde geld ook vir die beplanning van daardie ander belangrike aspek van enige mens se lewe naamlik sy of haar finansies. Soos wat gesondheid oor jou hele lewe nie vanselfsprekend is nie, so is gesonde finansies ook nie vanselfsprekend nie. Dit moet gedissiplineerd beplan word. Weens die kompleksiteit van die finansiële landskap benodig die meeste mense ‘n finansiële adviseur of makelaar om hulle van die beste en mees toepaslike advies te bedien. Alle finansiële advies is nie noodwendig die beste advies nie. Amelia stel daarom voor dat 5 pertinente vrae aan ‘n voornemende adviseur of makelaar gevra word alvorens ‘n persoon belangrike en wesenlike besluite oor sy of haar toekoms neem.
Biografie van Amelia Morgenrood
Amelia het 29 jaar ervaring as ‘n aandelemakelaar, met spesifieke betrekking tot beleggings- en aftreebeplanning. Sy verwerf in 1994 ‘n graad in JSE Lidmaatskap aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sederdien verwerf sy ook ‘n B Com in Risikobestuur aan UNISA en ‘n B Com Honneurs in Finansiele Beplanning aan die Universiteit van Johannesburg. Amelia is lid van verskeie professionele liggame, insluitend die Instituut vir Aandelemakelaars asook die Investment Analyst Society. Tans is sy by PSG werksaam en is ook ‘n nie-uitvoerende direksielid van Sakeliga.