Alternatiewe argitektuur en boumetodes
In hierdie aanbieding deur argitek Frans Joubert word huishoudelike argitektuur in ‘n verskeidenheid vorme, wat opgerig is met verskillende boumetodes, deur middel van skyfies toegelig. Dit varieer van ultra-modern tot klassiek, alledaags tot eksoties of ongewoon. Verskillende boumetodes word bespreek… vanaf die algemene konvensionele, bousisteme wat hedendaags in Suid-Afrika weens arbeids- en kostebesparing vinnig veld wen, ongewone vorms en strukture tot absoluut ekonomiese wonings wat sonder veel tegnologie self opgerig kan word. Hier word gedink aan onder andere strooibaalhuise, eko-modderhuise, korbeelkliphuise, skeepsvraghouerhuise, en vele meer.
Biografie van Frans Joubert
Frans groei op as plaaskind in Pongola en matrikuleer in 1966 op Piet Retief. Daarna, in 1967, doen hy vrywillige militêre opleiding in die Lugmag Gimnasium. Hy studeer argitektuur aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy B.Arch-graad behaal.
Frans wen ‘n internasionale argitektuur kompetisie vir spesiale behuising in Saoedi-Arabië.
Sedert 1977 praktiseer hy onder die naam Suidland Argitekte waar sy werk en projekte ‘n wye spektrum van argitektuur behels. Hy was ook lektor in Argitektuur en Interieur Ontwerp aan TUKS en TUT. Hy het ‘n spesiale belangstelling in argitektuur vir droë, warm streke asook in alternatiewe boumetodes.
Sy stokperdjies sluit in diepsee-skiboothengel en hy het ‘n groot passie vir die Afrikaanse Boeretaal en -kultuur.
Verder stel hy belang in Bybelnavorsing asook die Groot Piramiede van Gizah en verwante strukture in verwantskap met die Skrif. Frans bied landswyd lesings aan oor onder andere die Tabernakel, Tempels, Heraldiek asook Bybelse syfers en name.
Frans is amptelik as predikant georden en staan ook in die bediening.