Hoe maak ek geld met sonkrag?

Daar is tans verskeie maniere om geld in die sonkragindustrie te maak en te belê. Alhoewel daar baie geleenthede in sonkrag is moet daar ook egter kennis geneem word dat daar in die sonkragbedryf baie onsekerhede is wat groot risiko’s inhou. Dit is nie net belangrik om hierdie bedryf te verstaan in terme van tegnologie, regulasies en standaarde nie, maar dit is ook wesenlik om die sonkragmark in terme van aankope en verkope te verstaan. Faktore soos onder andere wisselkoerse, die veranderende beurtkragsituasie, prysstygings in byvoorbeeld sonpanele, staal en ook glas veroorsaak ‘n uiters turbulente sonkragmark. In Carel Ballack se aanbieding gee hy eerstens ‘n oorsig oor die sonkragindustrie in terme van konsepte en beginsels. Hierna bespreek hy die bestaande en toekomstige geleenthede om aan te dui waar nuwe besigheidsgeleenthede is wat ontgin kan word en hoe die sonkragindustrie aaneenskakel. Geleenthede hoe om ‘n bestaande besigheid uit te brei of om ‘n nuwe onderneming te begin word uitgewys. Laastens verduidelik Carel hoe die finansiële somme werk om te besluit of die aanskaffing van ‘n sonkragstelsel lewensvatbaar is of nie.

Biografie van Carel Ballack

  • Carel Ballack is vir langer as 19 jaar betrokke by die fotovoltaïese en hernubare energie sektor. Meer onlangs het sy fokus verskuif na data-insameling, opleiding en verslagskrywing waar hy betrokke is by verskeie programme rondom opleiding en ontwikkeling in Suid -Afrika en in Afrika. As direkteur van ‘n EPC is hy betrokke by energie-analise en voorsien hy energieoplossings vir kommersiële en industriële gebruikers.
  • Behalwe dat hy as konsultant gekontrakteer is deur multi-nasionale energie-organisasies het Carel ook as stigter van PQRS gehelp met strategiese besigheidsontwikkeling in Afrika asook die ontwikkeling van ‘n kwaliteitsversekeringsplatform vir die sonkrag- en fotovoltaïse energiesektor.
  • Gebore in 1971, is Carel tans ‘n konsultant wat inligting en data verskaf om nie-winsgewende organisasies, kommersiële entiteite en belanghebbendes te help om strategieë te ontwikkel vir besigheidsgroei in die hernubare energiesektor van SA en Afrika deur die aanwending van ‘n geverifieerde databasis.
  • Carel was persoonlik betrokke by die opleiding van meer as 5 000 kandidate in sonkragverwante tegnologieë gedurende die afgelope sewe jaar en het ‘n reputasie opgebou gegrond op standaarde en kwaliteit vir die installering en ontwerp van verskillende sonkragtegnologieë. Deur middel van hierdie inisiatiewe het hy ‘n aantal kwaliteitsversekeringsprogramme ontwikkel wat daarop gemik is om die risiko te identifiseer wat verband hou met hernubare energieprojekte vir die sonkrag-fotovoltaïse daksektor.

Carel Ballack, is ook die aanbieder van die sonkragkursus, Verstaan, beplan en installeer jou eie sonkragstelsel wat op Saterdag 09 April 2022 op die KragDag-terrein aangebied word.

 

 

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui