Een ding! … ‘n les wat ek as KragDag junior entrepreneur geleer het

 

KragDag se Junior Entrepreneurskompetisie en uitstalling by die KragDag ekspo bied ‘n waardevolle wegspring vir jong entrepreneurs om hulle voete te vind in die sakewêreld. Die bydrae wat hieronder volg kom van Pieter van Deventer, een van verlede jaar se deelnemers, en verskaf ‘n getuienis oor die waarde van Fergus Ferguson, ‘n ActionCOACH besigheidsafrigter, se junior entepreneursprogram wat daaruit gespruit het:

“Whether you think you can or you think you can’t, you’re right!” – Henry Ford

Hierdie bekende aanhaling deur een van die suksesvolste besigheidsmanne ooit, is baie aangrypend, maar dit is ook baie inspirerend.

Ek het vir die eerste keer met ActionCOACH te doen gekry toe ek gelukkig genoeg was om deur Fergus Ferguson uitgenooi te word na wat hy die “Young entrepreneur mavericks workshop” genoem het, en onortodoks was dit inderdaad! Ons het met tye gesweet, maar wat nie doodmaak nie maak groot.

Sederdien het my besigheid gefloreer soos nooit voorheen nie.

Ek het baie geleer by oom Fergus – soos ons hom genoem het – sowel as sy mooier helfte, maar ook die ondersteunende jong entrepreneurs wat saam met my in die leeu se bek in geloop het.
Waar sal ek begin? By die avontuurlustige atmosfeer? By die houding van oom Fergus wat die status quo altyd uitdaag? By die onnutsige mede-entrepreneurs wat jou nie ‘n oomblik laat ontspan wanneer jy die slag jou besigheidstrategieë moet voorhou nie?

O, dit het soms maar broekskeur gegaan, veral as jy moet praat oor die finansies van jou besigheid terwyl jy glad daarop voorberei is nie, en ook wanneer jou skootrekenaar boonop nie op die grootskerm wil speel nie. Maar, ten spyte van al hierdie uitdagings was dit ‘n ondervinding wat ek vir niks op hierdie aarde sal verruil nie. Oom Fergus weet werklik hoe om ‘n kursus op so ‘n manier aan te bied dat jy op die ou einde nie net by hom leer nie, maar ook by jouself en by die mense rondom jou.

Ek het so baie dinge geleer dat dit moeilik, en tot ‘n mate onbillik is om een van die dinge uit te sonder, maar daar is tog iets wat ek daar geleer het, wat nie net tot ‘n besigheid beperk is nie. Dit het my lewe op so ‘n manier verander dat ek dit gaan aanhou uitleef tot die dag dat ek hierdie aarde totsiens toewuif.

Een ding

“Get that bloody one thing and stick to it! Learn it, know it, own it, and only when you have fixed it, move on to the next one thing!” – Fergus Ferguson.

Die betekenis van die lewe is nie 42 dinge nie, dit is 1 ding. Kry daai een ding in jou lewe wat jy nie tevrede mee is nie, leer dit, ken dit, besit dit, en net as jy 100% seker is dat jy dit reggemaak het, kan jy aanbeweeg na die volgende een toe. Moenie aan tien dinge tegelyk probeer werk nie. Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n Jack of all Trades en ‘n besigheidsman.

In my besigheid het dit behels dat ek die baie doelwitte wat ek gestel het op die agtergrond moes skuif, of selfs moes opgee, omdat ek harder aan ‘n ander een wou werk. Daar was baie doelwitte wat ek gestel het, maar uit hulle almal het ek een gekies wat onbetwisbaar bereik moes word. Daar mag nie daaroor onderhandel word nie. Daardie doelwit moes ek bereik, en het ek ook. Dit het my besigheid heeltemal verander.

Jy is dalk nie ‘n besigheidsman of ‘n entrepreneur nie, maar laat ek jou vertel dat hierdie ‘n lewensles is wat enigiemand kan uitleef. Kry daai een ding in jou lewe. Daai een ding wat jy ononderhandelbaar wil bereik. Daai een ding wat van jou ‘n beter mens gaan maak, kry dit, ken dit, besit dit, en leef dit!

Baie dankie oom Fergus, tannie Marina, en al die ander mense wat saam met my hierdie wonderlike ervaring kon meemaak. Dit was ‘n ondervinding wat ek vir die res van my lewe sal bewaar!

 _______

As jy enige iets van kleuter tot 21 is en graag die besigheidswêreld wil betree, nooi ons jou om vanjaar aan KragDag se Junior Entrepreneurskompetisie te kom deelneem.

Inskrywings sluit op 7 Julie 2018 en jy kan HIER inskryf of ‘n e-pos stuur na info@kragdag.co.za vir meer besonderhede.

 _______

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui