
Voordele en probleme van Robotika-opleiding
‘n Onderwerp in die opleidingsgemeenskap en skole wat deesdae baie ter sprake kom is robotika.
Opwindende gesprekke vind plaas rakende die vele voordele wat opleiding van ons kinders in die elektroniese veld inhou. Met ‘n oogopslag kan gesien word dat sulke opleiding ook voordele vir ander skoolvakke inhou.
Robotika is natuurlik nie net belangrik vir skoliere nie. Dit is ook betekenisvol vir enige iemand wat belang stel in robotika, elektronika, huis-outomatisering en die bou van projekte as ‘n stokperdjie.
Die voordele
- Vir skoliere is die hoofvoordeel opleiding in elektronika en programmering. In moderne elektronika spandeer studente gemiddeld 80% van hulle tyd aan die programmeringsaspek van elektroniese projekte. In beide programmering en elektronika kan die student al op die eerste dag van opleiding fisies en prakties sien wat hulle leer. Verder word die skolier blootgestel aan die eerste beginsels van elektronikakonsepte.
- As gevolg van bogenoemde rede verander vervelige leermodules gewoonlik in interessante projekte wat studente se belangstelling prikkel. Modules wat voorheen moeilik was om aan te leer kan nou baie makliker verstaan word. Die voordele hierin is ooglopend – kinders begin dit geniet om te leer! En nie net kinders nie. Jonk en oud spandeer hulle vrye tyd op praktiese en produktiewe wyses en geniet dit teselfdertyd.
- Robotika sluit aan by baie ander vakke soos wiskunde en wetenskap. Beide hierdie vakke se leerplanne kan in praktiese toepassings in robotika gebruik word om beginsels te demonstreer en dit vinniger en op ‘n meer opwindende manier te verstaan. Skielik kan die groter waarde van hierdie vakke in ander vakgebiede raakgesien word. Meer toepassings in hierdie gebiede word ook geïdentifiseer die insig word word ontwikkel waarom wiskunde en wetenskap belangrik is.
- Robotika en moderne elektronika het in die laaste paar jaar só gegroei dat projekte wat voorheen slegs deur ervare elektroniese ingenieurs aangepak kon word, deesdae deur enige iemand in ‘n kort tydperk geleer en uitgevoer kan word. Elektronika as stokperdjie is nou makliker as ooit om mee te begin. Dit is ook baie moontlik om sulke stokperdjies in besigheid te omskep.
- Robotika is ‘n perfekte beginpunt om ‘n fondasie te lê vir meer gevorderde elektroniese rigtings soos huis-outomatisering, produksie-outomatisering, stelselmonitering en vele meer.
- Lae intreekostes bied natuurlik ook ‘n groot voordeel. Vir minder as ‘n R1 000.00 kan enige persoon ‘n begin hiermee maak. Hou egter ook die probleme wat ons hierna bespreek in gedagte.
Die probleem
Die vraag wat ons telkemale van beide skole en ander belangstelendes hoor is – waar begin ons? Wat benodig ons? Is daar ‘n leerplan?
Opleidingsmateriaal
Baie inligting word op die Internet aangebied, maar dit is meestal baie oorweldigend. Dit gebeur gereeld dat mens ‘n artikel vind wat presies is wat jy nodig het om te doen, net om daarna uit te vind dat daar inhoud is wat jy eers uit ander bronne onder die knie moet kry. Dit raak so erg dat jy later nie eers meer kan onthou wat die oorspronklike kennis was waarna jy gesoek het nie.
Die ideaal is egter om volgens ‘n leerplan te werk wat stap vir stap die nodige agtergrond aan die student verskaf – sonder om ‘n magdom tyd te spandeer om die antwoorde op die Internet te probeer navors.
Hardeware
Daar is letterlik duisende modules, sensors en mikro-rekenaars op die mark. Dit is verskriklik maklik om oorboord te gaan met onnodige hardeware. Dit is net so maklik om die verkeerde hardeware aan te koop. Die kostes kan baie vinnig eskaleer sonder genoegsame begeleiding en begrip van elektronika en robotika.
Programmering modules en voorbeelde
Die laaste probleem om in gedagte te hou het te doen met die programmeringsvoorbeelde en addisionele programme wat modules soos onder andere sensors beheer.
As student kan die programvoorbeelde heeltemal onverstaanbaar wees. Klein elektroniese veranderinge en verskillende hardeware modules kan veroorsaak dat die hele program nie werk nie. Die student kan letterlik dae spandeer en heeltemal verward raak wanneer hulle poog om hulle projekte te laat werk.
Die oplossing
Bot shop is vir die laaste 10 jaar doenig met moderne elektronika en robotika. Ons het vroeg reeds leerplanne en werkswinkels in die elektronika-omgewing begin aanbied. Ons weet presies watter stappe nodig is en die orde waarin die stappe uitgevoer moet word. Op die wyse word die studente in ‘n gemaklike en opwindende manier deur hulle opleiding geneem.
Die afgelope twee jaar het ons die GoGoBot-robot tesame met ‘n leerplan ontwikkel. Die leerplan is gratis aanlyn beskikbaar vir GoGoBot-kliënte. Vir skole en opleidingsinstansies het ons ook die kursus in ‘n handleidingformaat beskikbaar gemaak.
Ons doel is eenvoudig. ‘n Robotika-opleidingsplatform met alles insluit om mee te begin. Die opleidingsmateriaal bevat ook alles wat jy nodig het en begelei jou vanaf die eerste paragraaf, stap vir stap, terwyl jy elke module deurwerk.
Beide skole en selfleerders het nou ‘n platform om onmiddellik ‘n begin te maak sonder om ‘n magdom tyd te spandeer om vooraf te probeer vasstel wat is nodig is, waar om te begin en wat om te leer met ‘n logiese stap-vir-stap-metode.