Die APA: Vesting van Afrikaans as vaktaal en Christelike hoër onderrig
Suid-Afrika moet seker een van die onderling teenstrydigste lande ter wêreld wees. Dit kan seker ook nie anders met so ‘n bonte mengelmoes van ‘n bevolking nie. Om aan al hierdie uiteenlopende belange reg te laat geskied het Suid-Afrika met die aanvaarding van die nuwe grondwet in 1996 ‘n sekulêre staat geword. Dit wil blyk of hierdie stap egter net die teenstrydighede vererger het! Oorweeg bietjie die volgende statistiek, vrygestel deur STATS SA: ‘n allemintige 73% van Suid-Afrikaners beskou hulself as praktiserende Christene, tog sit ons met een van die hoogste geweldsmisdaadsyfers ter wêreld en laat ons regstelsel aborsie toe. Verder word Engels, vreemd genoeg, beskou as die algemene voertaal – alhoewel dit maar die derde algemeenste taal is wat buite die huis gepraat word, naas Zoeloe en Xhosa en Afrikaans in ‘n kortkop vierde plek, en slegs die sesde grootste huistaal in Suid-Afrika.
Dit is seker binne die konteks van hierdie teenstrydige en verwarrende aard van ons land dat mens die stand van sake moet beoordeel met betrekking tot die taalbeleid en kulturele raamwerk wat binne hoër onderwys tans die botoon voer. Waarom, sou mens tereg kon vra, moet al die universiteite in die land slegs Engels as onderrigtaal gebruik? Moenie dat iemand vir u vertel dat die ander tale wat universiteite soos Pretoria of KwaZulu-Natal Natal ook amptelik erken, werklik op universiteitsvlak gebesig of uitgebou word nie – dit is maar blote veeltalige lippediens. Inderwaarheid is die Noord-Wes Universiteit die enigste voormalige Afrikaanse universiteit wat werklik erns maak met veeltaligheid d.m.v hul tolksisteem. Rakende die kulturele raamwerk waarbinne hoër onderwys en opleiding geskied: waarom is liberale humanisme, sosialisme of Marxisme die enigste aanvaarbare lense waardeur studente na die werklikheid mag kyk? Waarom mag daar nie deur ‘n behoudende of Christelike lens na die werklikheid gekyk word nie?
Suid-Afrika se teenstrydighede is natuurlik nie ‘n nuwe tendens nie. Om die waarheid te sê, Afrikaans is ‘n produk van hierdie teenstrydighede. Verder het Afrikaners al meermale die ongelukkige ervaring gehad om hulself vervreem te voel van die staat en heersende kultuuropvattings. So skryf die voorblad van die vroeë Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, gedateer 15 Januarie 1876, rakende die totstandkoming van ‘n Afrikaanse koerant: “Dit het baiang moeite gekos om so vêr te kom; dit kan ek julle verseker, want die meeste Afrikaanders is nes steeks pêrde, hulle wil mos nie glo dat ons een ei’e taal het nie. Die ou’e Patriotte, hou vas, en klou vas, aan die Hollans taal; die jong mense vind die Engelse taal weer so danig mooi, en o’ertui’e gaat net so moeilik as om steeks perde te leer pronk in die voortuig.” Uit hierdie aanhaling word dit duidelik dat die skrywer van die voorblad, en ander soos hy, ook hulself vervreem gevoel van die Engelsgesindheid van die dag maar belangriker, en dit is die punt, hulle het hand aan die ploeg geslaan en iets gedoen aan hulle vervreemding – hulle bring ‘n mondstuk tot stand vir hul saak. Gelukkig vir ons dat hulle dit gedoen het en dat ons vandag op hulle inisiatief kan voortbou met Afrikaans wat sedert die twintigerjare van die vorige eeu doelbewus in ‘n volwaardige wetenskapstaal ontwikkel is.
Gelukkig is die ware Afrikaner etos, wat self die vervreemding aanspreek, ook steeds lewendig – dit blyk uit die totstandkoming van privaat Afrikaanse tersiêre instellings soos die APA. Enigeen wat graag in Afrikaans wil studeer en vir wie die bemiddeling van die wêreld waarin ons leef met die Christelike geloof belangrik is, behoort ernstige oorweging te skenk aan die APA as ‘n moontlikheid vir tersiêre onderrig. Deur middel van afstandsonderrig, wat studente in staat stel om te werk en te studeer, kan die APA ‘n wye verskeidenheid van studente-behoeftes aanspreek. Moedertaalonderrig is ‘n verdere voordeel van groot waarde. Taal is die stroom waarin die gedagtegang vloei en konsepvorming in die moedertaal is van integrale belang om uiteindelik verstaan te bewerkstellig. Dit is geen toeval dat moedertaal-onderrig- skole in die algemeen bewysbaar beter presteer in wiskunde, wetenskap en die tale nie. Die APA bou voort op hierdie grondslag van uitnemende standaarde binne Afrikaanse onderrig met bewese vakspesialiste as dosente en ‘n vinger op die pols van ‘n groter prentjie as net die plaaslike.
Gestig in die laat tagtigerjare as ‘n skool vir teologiese opleiding, het die APA ontwikkel tot ‘n volwaardige selfstandige universiteit wat spesialiseer in die geesteswetenskappe. Binne die omraming van ‘n Christelike wêreldbeeld wil die APA studente begelei om krities idees te verken en te beredeneer. Die sogenaamde vierde industriële rewolusie wat die hele wêreld aan die gons het gaan van toekomstige gegradueerdes vereis om ‘n blote tegniese kennis te vervang met oordraagbare kritiese en analitiese vaardighede wat vindingrykheid en probleemoplossing in die hand werk. Die geesteswetenskappe, wat uitmond in meningsvormende beroepsvelde soos: sielkundiges, joernaliste, onderwysers en predikante, ontwikkel en bevorder by uitstek kritiese en analitiese denke. Hierdie vaardighede verouder nie maar rus die een wat dit ontwikkel het toe vir ‘n leeftyd van onafhanklike denke. Wat die oorspronklike ontstaansrede van die Akademie aanbetref: die APA se splinternuwe BDiv is ‘n volledige graad in Teologie en alhoewel reformatories van aard is dit nie denominasie gebonde nie – die Fakulteit Teologie is daarop toegespits om bande met ander instellings wat teologiese opleiding van ‘n soortgelyke aard doen, ook internasionaal, te bewerkstellig en in stand te hou.
Nagraads bied die APA tans ‘n afstandsgebaseerde Nagraadse Gevorderde Onderwys Sertifikaat (PGCE) aan. Studente kan dus ‘n drie jaar BA graad aan die APA voltooi en voortgaan om ‘n aanwendbare NGOS-kwalifikasie te verwerf. Gegradueerdes wat reeds kwalifikasies verwerf het aan ander instellings en wat graag hul vaardigheidspektrum wil uitbrei is welkom om aansoek te doen binne die NGOS program. Die APA oorweeg elke aansoek op meriete en staan kandidate by met advies aangaande die oorbrugging van ‘n bestaande kwalifikasie ten einde ‘n NGOS te kan verwerf. Studente wat Afrikaans goed lees en verstaan, maar meer gemaklik is om in Engels te skryf en te antwoord, is ook welkom om die APA te kontak rakende die NGOS program.
Om dit meer geredelik leesbaar te maak — kan artikels nie asb in SWART eerder as GRYS geplaas word nie?
Ek was redakteur/redaksielid van meer as een publikasie, en dis welbekend dat ‘n serif font makliker lees as ‘n sans serif font
Baie dankie vir u inset Dr Bernhard. Die letterkleur het ons swart gemaak en ons hoop dit lees nou makliker – ook vir ons ander lesers. Ons is nog so bietjie terughoudend wat die serif vs sans serif aanbetref en sou graag nog meer inligting hieroor wou inwin. Ander lesers is meer as welkom om ook hulle inset hieromtrent te gee.