Verkry beter kuilvoer as jy suurstof flink en doeltreffend verwyder
Sedert antieke tye is die vooruitstrewende boer deurentyd besig om te innoveer ten einde produksie te vermeerder, kwaliteit van produkte te verhoog en kostes te verminder. Vandag word die boer met dieselfde uitdagings gekonfronteer en meer so nog in Suid-Afrika.
Wanneer kuilvoer gemaak word kan dit op verskeie moontlike maniere gedoen word, soos byvoorbeeld konvensionele droë bale, silosakke, silos en ook “bunkers” in bedekte hope of kuile.
Daar is egter ‘n metode van kuilvoermaak wat hoër kwaliteit lewer met veel minder verliese.
Sulke kuilvoer kan tot 3 jaar geberg word en kan direk op en vanaf die landerye verpak, verseël en vervoer word. Die kuilvoermaakmetode wat hier na verwys word is die verseëlde, toegedraaide bale wat met AGRONIC-balermasjiene gemaak word.
Hierdie uitsonderlike baler-tegnologie is in Finland deur AGRONIC ontwikkel in samewerking met KNOLL in Nederland en word in Suid-Afrika ingevoer deur SAXENI AGRIC wat as ‘n alleenmandaat-diensagentskap optree.
Die kwaliteit en leeftyd van kuilvoer word bederf deur blootstelling aan suurstof. Die beste kwaliteit groenkuilvoer word verseker deurdat suurstof binne een en ʼn half minuut verwyder word. Om hierdie rede is die proses om kuilvoer deur die AGRONIC-balermasjien te maak uniek. Met dié proses word suurstof op ‘n doeltreffende en flinke wyse uit die kuilvoer verwyder deur die kompakterings-proses wanneer die baal gerol word. Dit word daarná outomaties met ‘n net-materiaal toegedraai en met ‘n dun hersirkuleerbare plastiekfilm lugdig verseël.
Die resultaat is minimale hitte-opbouing terwyl voerverliese weglaatbaar klein is en ʼn groenkuilvoer geproduseer word. Dit maak die vervoer van die kuilvoer makliker en skakel die risiko van muf wat dikwels in die bek van kuile voorkom, grootliks uit. Omdat die boer weet wat die gehalte en gewig van die kuilvoer in ʼn baal is, maak dit die meng van voerrantsoene veel makliker. Daar is grootskaalse verliese wanneer mielies in kuile geberg word. Met kontrakwerk het ons ‘n kuilvoer-bunker wat volgens die boer sowat 3 000 ton moes weeg, gebaal, maar uiteindelik was daar slegs sowat 1 100 ton kuilvoer.
Kuilvoer vir beeste wat deur Agronic MultiBaler-masjiene gebaal is, is wetenskaplik getoets en het melkproduksie vermeerder met 7 liter per koei per dag. Vleisproduksie is ook met meer as 20kg per slagbees verhoog. ‘n Hoë gehaltelewering is gemeet vir gebaalde lusern wat tydens toetsing ‘n proteïeninhoud van 29% getoon het.
Volgraan mielie-kuilvoer het ʼn proteïeninhoud van gemiddeld 8%, ʼn styselinhoud van 32% en die pH is normaalweg 3,5 tot 3,6. Die mieliekultivar wat vir kuilvoer gebruik word, speel ‘n rol in die gehalte van die uiteindelike produk. Op droë lande gebruik ons die mieliebaster DKC74-26 wat die beste ontleding vir proteïeninhoud van 8,3% gegee het. Die mielies word teen 38 800 plante per hektaar geplant met 340 kg/ha van die kunsmismengsel 13:7:10 wat opgevolg word met 250 kg/ha 10:1:2 tydens die groeiseisoen. Die gemiddelde opbrengs is 29 t/ha.
Verskeie produkte kan suksesvol gebaal word byvoorbeeld mielies, soja, lusern, koring, hawer, tef, hooi, gras, TMR, Alfalfa, gekerfde hout, saagsels en someer. Hierdie werktuie kan gebruik word om die meeste voergewasse te baal. Indien dit gekerf kan word, kan dit gebaal word.
Daar is ook ekonomiese voordele met hierdie wyse van kuilvoermaak.
Dieselkostes word drasties verminder omdat bale vars in die landerye gerol en verseël word. Die baler word aangedryf deur middel van die trekker se kragaftakker (PTO – power take off). ‘n Verdere voordeel is dat verliese as gevolg van vervoer en berging minimaal is in vergelyking met die maak van konvensionele kuilvoer waar die verliese tot so hoog as 30% kan wees! Verder word ‘n beduidende besparing met verlengde stoorleeftyd te weeg gebring. Voer wat in die wintermaande baie duur is, kan nou gelewer word teen tussen R500 en R1400 per ton. Hou verder ook in gedagte dat kuilvoer maklik per baal verkoop kan word.
Met sommige areas wat die ergste droogte in 150 jaar ervaar, is kuilvoer ‘n logiese alternatief vir die voer van plaasdiere sowel as wild. Groot hoeveelhede bale kan verpak en dan tussen plase vervoer word wat baie handig is, veral onder droogte toestande. Só byvoorbeeld kan tot ongeveer 34 ton voer op ‘n Link-vragmotor gelaai en verskuif word.
Saxeni Agric het tans twee MultiBaler-modelle op die mark naamlik die 820 en die groter 1220.
Die Agronic 820-model produseer ‘n baal wat tussen 350 en 400kg weeg, ‘n deursnit van 85 – 90cm het en wat 85cm wyd is. Die Agronic 1220-model produseer ‘n baal van 750 tot 850kg met ‘n 105 tot 120cm deursnee en ‘n wydte van 1m. Albei masjiene het ‘n werksverrigtingtempo van ongeveer 40 bale per uur. ‘n Nuwe Agronic XL-model is oppad wat soveel as 50 bale per uur kan lewer.
Elke AGRONIC-masjien is toegerus met ‘n hidrouliese stelsel wat deur ‘n trekker/kerwer met ‘n kragaftakking aangedryf word. Die 820-model benodig ‘n trekker van 80 tot 85 perdekrag en die 1220-model benodig ‘n trekker van 100 tot 110 perdekrag.
Saxeni Agric verskaf ook ‘n diens aan boere deur baalmasjiene na plase toe te neem. Daar is etlike groenmielie-produsente wat hierdie diens ná oestyd gebruik. Hoewel daar geen pitte in sulke kuilvoer is nie, kan die materiaal tog as veevoer benut word en help boere om hulle land vinnig skoon te kry sodat dit weer benut kan word. Op hierdie wyse kry die boer ook ʼn inkomste uit die plantmateriaal wat voorheen verlore sou gaan. Die brandstofverbruik is ongeveer 1,3 liter diesel per ton kuilvoer terwyl net een operateur vir die werk benodig word.
Waarom sal jy AGRONIC-balermasjiene gebruik?
Die kort antwoord is dat dit gaan oor die doeltreffendheid van die proses met die aanwending van minimale arbeid. Die stelsel verminder vermorsing, skakel ʼn klomp werktuie en moeite uit deurdat daar nie kuile is waarin die voer vasgetrap en toegemaak hoef te word nie. Die werktuie is robuust gebou en kom met ʼn fabriekswaarborg van een jaar. Dit word gerugsteun deur bekwame tegnici wat met volledig toegeruste bakkies boere besoek wanneer daar enige probleem ontstaan.