Span lewe in waar jy kan!
PROMOSIE-ARTIKEL
So onlangs as 150 jaar gelede het Joseph Lister eendag voorgestel dat dokters voor operasies hulle hande moet was en instrumente moet steriliseer. Skoner teatertoestande het daartoe gelei dat prosedures oneindig meer suksesvol was as voorheen. Skielik het mense begin verstaan hoe belangrik higiëne is. Vandag nog word die gereelde was van hande as ’n baie belangrike aspek van gesondbly beskou.
Maar êrens het ons begin om alle bakterieë as ‘skadelik’ te sien. Oormatige gebruik van anti-bakteriële middels uitwendig en antibiotika inwendig, het wel aansteeklike siektes laat verminder, maar sedertdien het allergieë en outo-immuunsiektes geweldig toegeneem en ons wonder waarom. Nuwe navorsing dui egter daarop dat meeste bakterieë eintlik baie voordelig is en dat elkeen van ons ‘n baie komplekse verhouding met ons eie mikrobioom het.
Bakterieë is mos eintlik eensellige fabrieke. Hierdie bakterieë gebruik boustowwe wat in hulle omgewing gevind word om allerhande nuttige samestellings te vervaardig. Ons gebruik reeds bakterieë om produkte soos antibiotika, vitamines, proteïene, inentings en ensieme vir ons te vervaardig.
Afvalprodukte word ook baie doeltreffend deur bakterieë afgebreek. Wanneer ’n besoedelde area deur mikrobes herstel word, word dit bio-remediëring genoem. Miskien het jy al van groot olie-stortings gelees soos in die geval van die Exxon Valdez (wat 380 miljoen liter olie in die see gestort het), óf die Deepwater Horizon boor (wat 800 miljoen liter olie gelek het). Omdat ru-olie van tyd tot tyd natuurlik in die see voorkom wanneer dit soms spontaan vanuit die seebodem die see inlek, is daar rééds bakterieë in die see wat die koolwaterstowwe in ru-olie kan verteer. Al wat opruimwerkers nodig gehad het om te doen, was om hierdie bakterieë se getalle groter te maak deur meer daarvan op die ru-olie te spuit. Dit word biologiese aanvulling genoem.
Hier in Suid-Afrika is daar al meer as ’n dekade gelede besef dat bakterieë wat behoort tot die bacillus genus, baie nuttig aangewend kan word. Bacillus bakterieë is staafvormige, aërobiese bakterieë wat spore vorm. Die spore is bestand teen hitte, koue, bestraling en uitdroging – maar ook ontsmettingsmiddels. Dit beteken daarom dat hulle nuttig is as aktiewe agente in skoonmaakmiddels.
Beide die beginsels van bio-remediëring en biologiese aanvulling word ingespan. Kom ons dink aan ’n stortvloer. Die goeie bacillusbakterieë is reeds teenwoordig op jou stortvloer. Jy kan dit nie help nie en dit beteken ook nie dat jy vuil of onhigiënies is nie. Hulle is daar omdat bakterieë oral is en omdat daar vir hulle kos is. In plaas daarvan om daarteen te stry deur jou stort steriel te probeer kry – wat in elkgeval onmoontlik is omdat die lug vol bakterieë is en wat onnodig is omdat hulle vir jou onskadelik is! – kan jy die beginsel van biologiese aanvulling toepas. Gebruik eerder ’n skoonmaakmiddel wat die populasie aanvul!
Só werk dit: Daar is miljoene bacillusspore in die skoonmaakmiddel wat jy op die stortvloer spuit. Binne minute kan die spoor begin ontkiem. As toestande gunstig is, begin die bakterieë vermeerder. Die eerste ding wat die bakterieë doen, is om reuke te bestry. Omdat hulle dadelik begin vermeerder, kompeteer hulle vir ruimte en woel en wemel letterlik die skadelike bakterieë uit die pad. Die bakterieë begin ook dadelik ensieme produseer wat die afval, wat op die stortvloer is, afbreek sodat hulle dit kan eet. Wanneer die stort weer gebruik word, spoel die bakterieë in die septiese tenk in, waar dit vaste stowwe begin verteer. Dit het die gevolg dat die tenk stadiger vol word en dat daar minder blokkasies is.
Veronderstel dat jy nie ’n septiese tenk gebruik nie, maar die water wegspoel. Op die pad na die watersuiweringswerke gaan die bakterieë voort om nitriete en nitrate uit die water te haal. So vind bio-remediëring op die stortvloer en in die afvoerwater plaas. Alles word algaande skoner, en sodra die bakterieë se kos op is, sterf hulle af.
’n Paar dinge moet egter ingedagte gehou word as jy oorskakel na hierdie manier van skoonmaak. Natuurlik moet daar seker gemaak word dat die bakterieë in die seep inderdaad vriendelik is en nie patogenies is nie. Dit kan nie in ’n komposgat gekweek word nie – dit moet in ’n laboratorium gekweek word en daar moet dit noukeurig nagegaan word vir siekte. Dit maak ook sin om inheemse bakterieë te gebruik eerder as ingevoerde bakterieë. Verder kan anti-septiese middels soos byvoorbeeld JIK nie saam met sulke skoonmaakmiddels gebruik word nie. As jy biologies wil skoonmaak, kan JIK nie meer deel van jou arsenaal wees nie. Dit maak al die bakterieë in jou seep dood en dan is die seep se doeltreffendheid daarmee heen. Omdat bleikmiddels bowendien sleg is vir die omgewing, is dit nie regtig skade om dit opsy te sit nie. Onthou, soos met alle natuurlike oplossings, vat dit langer om te werk. Bakterieë het tyd nodig. Hoe meer jy die populasie aanvul, hoe vinniger raak die proses, maar aanvanklik gebeur dinge nie oornag nie.
Die voordele van hierdie manier van skoonmaak is maklik om raak te sien. Die natuur word nageboots. Lewe wat reeds daar is, word ingespan om vir ons te werk. Minder skoonmaakchemikalieë word benodig. Net ’n bietjie surfaktant of benatter om die water te benat is bykans al chemikalieë wat nodig is – die bakterieë doen die res. Dit is ’n intelligente manier van skoonmaak – bakterieë ontleed die omgewing en produseer die regte hoeveelheid van die regte soort ensieme om alles te verteer.
As jy belangstel in ’n reeks skoonmaakmiddels wat inheemse bacillusspore bevat wat in top laboratoriums in Pretoria gekweek word, besoek gerus www.mrsmartins.co.za. Kom ons span lewe in!
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.