Sonkrag – Die groot bevryder van ons tyd

Daar is sekerlik niemand in Suid-Afrika wat nog nie na sonkrag gekyk het as ‘n oplossing om besparing te bewerkstellig of om beurtkrag to oorbrug nie. As jy, soos soveel ander, dit al begin navors het, sal jy sekerlik saamstem dat dit ‘n mynveld is waarin daar soveel geld gestort word, dat dit ‘n industrie geword het wat baie vinnig om die verkeerde redes bekend geword het – amper soos Ponzi-skemas wat ‘n mens se hardverdiende geld insluk.

Vir baie is dit ‘n deurmekaar industrie met verwarrende terminologie en skynbaar onverwante aspekte wat deur ‘n volgende paddastoelinstalleerder gebruik word om d.m.v. verwarring sy volgende kliënt te werf, net om met aflewering ‘n goedkoop oplossing te lewer teen ‘n nie-goedkoop prys wat nie voldoen aan die aanvanklike beloftes nie.

Dié wat egter reeds die “vryheid” gesmaak het van ten minste verminderde afhanklikheid sal dit beaam dat sonkragoplossing vir hulle groot verligting gebring het in ‘n donker tyd.

Ek gaan hier kortliks aspekte uitlig waarop ‘n mens bedag moet wees met die aanskaf van ‘n sonkragoplossing. Sekere goed het ons op die harde manier geleer in die 10-jaar wat ons reeds mense help om van die netwerk te speen.

Waar begin ek?

Daar is baie slaggate met produkte wat bemark word as “net die beste”, maar wat dan nie noodwendig die regte produk vir ‘n spesifieke aanwending is nie. Deesdae begin banke en versekeringsmaatskappye kyk na die produkte vanuit ‘n kwaliteit- en veiligheidsoogpunt. Alle versekeringsmaatskappye vereis deesdae ‘n voldoeningsertifikaat (CoC) alvorens hulle ‘n stelsel sal verseker.

Hierdie twee aspekte, kwaliteit en veiligheid, is waardes in ons besigheid wat in ons produkte en dienste sigbaar is. Ander aspekte soos funksionaliteit, argitektuur, energieverbruik is alles ook belangrik wanneer sonkragstelsels ontwerp word.

Energieverbruik en Maksimum drywing

Geen stelsel kan suksesvol geïmplementeer word as dit nie die hoeveelheid energie (kWh) teen die verlangde drywing (kW) kan lewer nie. Eenvoudig gesien, aan die hand van ‘n voorbeeld: ‘n 200 liter Geyser verlang ‘n drywing van 4kW en verbruik 8kWh se energie oor ‘n tydperk van 2 ure. In isolasie beskou is daar dan ‘n 4kW wisselrigter nodig met ‘n batterybank van 10kWh met 1.8kWp se sonpanele.

Hoe kom ons daarby uit? Deur ‘n paar eenvoudig berekeninge:

  1. Maksimum drywing word bepaal deur die hoeveelheid krag wat ‘n las benodig om te werk. Hierdie las word gewoonlik op die naamplaat van die toestel aangedui. In ons voorbeeld, is dit 4kW. Die wisselrigter wat verantwoordelik vir die aandrywing van die las is, moet dus instaat wees om 4kW (of die maksimum drywing) te kan voorsien.
  2. Energiebehoefte word bepaal deur die tydperk waaroor ‘n spesifieke las aangedryf moet word. In ons voorbeeld gebruik ‘n 4kW geyser 2h x 4kW = 8kWh se energie in die twee ure wat dit werk. Om voorsiening te maak vir bewolkte of onvoorsiene omstandighede, moet die energie vanuit ‘n battery voorsien kan word. Die battery moet dus 10kWh (teen ‘n 20% veiligheidsfaktor) kan stoor.
  3. Ons moet ook die energie vanuit die son kan opwek. Hiervoor is daar ‘n 1.8kWp sonpaneelinstallasie nodig en word bereken teen 1650kWh/kWp sonkrag per jaar. Die syfer van 1650kWh/kWp word gedefinieer vir ‘n spesifieke ligging en weerpatrone dwarsdeur die jaar vir ‘n gebied waar die sonpanele geïnstalleer word en is die tipiese lae-gemiddelde (pessimistiese) syfer vir die Suid-Afrikaanse binneland. As ons aanneem dat die geyser elke dag van die jaar 8kWh benodig, is dit 8kWh x 365 dae = 2920kWh per jaar/1650kWh/kWp = 1.77kWp ≈ 1.8kWp. As ons 450Wp panele gebruik beteken dit dus dat daar dan 4 panele benodig word om aan die geyser se energiebehoefte te voldoen.

Indien premiumprodukte, soos SMA, gebruik word, is dit in die meeste gevalle slegs nodig om die energiebehoefte aan te spreek. Produkontwerp, veral in mini-“grid” oplossings is sodanig dat die drywingsbehoefte deur die produkte self aangespreek word.

Doen-dit-self teenoor gekontrakteerde installasie

In die Suid-Afrikaanse konteks is doen-dit-self-installasies baie gewild. Dit is egter steeds nodig om die regte produkte te gebruik en die veiligheid van die stelsel te waarborg. In konsultasie kan produkverskaffers help met die keuse van die regte komponente volgens die behoefte van die kliënt.
Soos genoem, moet versekeringsmaatskappye in kennis gestel word van sulke installasies en ‘n sertifikaat van voldoening (CoC) moet uitgereik word. ‘n Doen-dit-self-installeerder sal dus ‘n elektrisiën met die nodige kennis van gelykstroominstallsies moet kry om so ‘n sertifikaat uit te reik.

Daarteenoor neem gekontrakteerde installeerders die verantwoordelikheid vir die kwaliteit van die vakmanskap en is ook verantwoordelik vir die veiligheid van die stelsel na die tyd. As deel van die installasie word ‘n sertifikaat van voldoening uitgereik wat as gemoedsrus dien.

Kwaliteit

Die algemene en holruggeryde spreekwoord geld hier dat jy kry waarvoor jy betaal. Daar is altyd ‘n goedkoper produk op die mark wat dieselfde funksie verrig. Probeer om ten minste produkte vanaf betroubare verskaffers met ‘n goeie na-verkoopdiens te gebruik wat ten minste ‘n 5-jaar waarborg dra en met ‘n naverkoopdiens wat plaaslik beskikbaar is. Ideaal moet dit ‘n produk wees wat deur enige ander verteenwoordiger of installeerder gediens kan word in oorleg met die oorspronklike verspreiders of vervaardiger.

Veiligheid

‘n Swak ontwerpte stelsel gaan altyd probleme gee. Daarby kan dit ook gevaarlik wees indien alle scenarios nie in aanmerking geneem word met die produkkeuse nie. Produkte wat gebruik word in ‘n installasie moet intrinsiek veilig wees d.m.v. voldoeningsertifisering aan bepaalde standaarde. Verder moet prosedures tydens installasie voorsiening maak vir die veilige handering en beheer van komponente. Die koponente moet sodanig geïnstalleer wees dat blootstelling aan gevaarlike komponente verhoed word.

Argitektuur

Ons kan nog verder uitbrei oor aspekte van kwaliteit en veiligheid. Stelselargitektuur word egter deur baie bloot geïgnoreer sonder om te weet dat gelyk- en wisselstroomkoppeling elk unieke einskappe met voor- en nadele het wat oorweeg moet word tydens beplanning. Ons sal dit in ‘n opvolgartikel aanspreek.

Wie is LessWatts?

LessWatts bestaan al vir meer as 10 jaar en het vele kliënte, residensieël en kommersieël, al gehelp om hulle afhanklikheid van Eskom te verminder deur deeglike vakmanskap en produkte met gewaarborgte werkverrigting. Hulle gebruik slegs hoë gehalte produkte met ten minste ‘n 5-jaar waarborg vir wisselrigters, 10-jaar vir sonpanele en lithiumbatterye. Alle werk word met ‘n sertifikaat van voldoening voorsien. Verders is LessWatts ook lid van AREP, ‘n kwaliteitsversekeringsorganisasie. Verwysings is beskikbaar.

Navrae

Enige navrae kan aan LessWatts gerig word by info@lesswatts.co.za of deur te skakel na 012 004 0173 of aan die outeur van die artikel op 082 784 4798.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Ignatius Cronje
  • Ignatius Cronje
  • Ignatius Cronjé is die stigter en besturende direkteur van LessWatts, 'n hernubare energiemaatskappy wat mense help om hulle afhanklikheid van netwerkdienste te verminder en selfstandigheid te bevorder.

    Die vraag na tegnologiesgedrewe oplossings vir alledagse probleme het nog altyd sy belangstelling geprikkel en energiesekerheid en -dinamika is die nuutste openbare uitdaging wat die hoof gebied moet word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui