‘n Kykie na ‘n krokodilboerdery

As ons gevra sou word om aan ‘n boerdery te dink, sal die meeste mense aan skaap-, bees-, saai- of dalk ‘n groenteboerdery dink … maar ‘n krokodilboerdery? My storie begin waar ek my, as ‘n nie-volwaardige boer, begewe in iets wat my gedagtes en lewe sou verander.

Ek het op ‘n krokodilplaas in die Noord Kaap beland, ‘n dorre stuk aarde wat jou as mens ‘n nuwe uitkyk op die lewe gegee het. Ek was opsoek na antwoorde om myself weer te vind en het toe die eienaar, Rooies, gekontak wat my genooi het om op die krokodilplaas te kom werk. Op Gariep-water lê sy stukkie grond, Tanien Oranjerivier-krokodilplaas, wat reeds 16 jaar in bedryf was. Sjoe! … dit was werklik ‘n skok om by my aankoms die teenstrydigheid van ‘n dorre wêreld met orals klippe te sien, maar terselfdertyd ook beeldskone berge in die verte wat vir jou loer. Landbou langs die Oranjerivier bestaan hoofsaaklik uit die verbouing van wyn- en rosyndruiwe, maar ook die verbouing van lusern.  Elke oggend word jy wakker gemaak deur visarende wat roep “die dag begin”. Hier is die son dodelik warm in die somer en die aande kouer in die winter.

Soos meeste van ons weet, stap jy nie net by ‘n boerdery in en verwag dat jy nou gaan geld maak nie. Daar is ‘n periode waar daar eers insette moet wees voordat daar resultate is. Elke boerdery se insette is verskillend. Maar een ding waarvan ek seker is, is dat elke boerdery harde werk vereis. Hier op die oewer van die Oranjerivier het ek dan ook eerstehands daarvan ondervinding opgedoen.

Kom ons kyk ‘n bietjie watter insette het betrekking op ‘n krokodilboerdery. Gelukkig is daar darem ondersteuning vir krokodilboere vanaf die staat by wyse van ‘n handleiding. Hierdie handleiding gee dan ook sekere riglyne as vereistes waarby ‘n boer moet hou. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) mag ook van tyd tot tyd kom inloer om te verseker dat die riglyne gevolg word.

Daar is sekere minimum vereistes wat vir die infrastruktuur vir ‘n krokodilboerdery gestel word en wat gevolg moet word. So byvoorbeeld moet die krokodildamme ‘n sekere grootte en diepte wees afhangende van die hoeveelheid krokodille wat aangehou word. ‘n Honderd groot “kroks” sal ‘n dam van ongeveer 25 m x 25 m en ongeveer 3 m diep benodig. Krokodilboerdery is geweldig arbeidsintensief, veral wanneer dit op ‘n afgeleë plek gedoen word. Omdat die meeste werk met die hand gedoen word – behalwe waar groot damme gegrawe word – het ek telkemaal aan die einde van die dag gevoel of my rug gebreek is. Damme, en waar hulle geplaas word, speel ‘n uiters belangrike rol. Waterpypleidings na die damme moet voorsien word. Om te verhoed dat die son hierdie waterpype beskadig, moet slote gegrawe word om die pypleidings ondergronds te begrawe. Dam-uitlate moet voorsien word om die krokodilboer in staat te stel om krokodildamme gereeld skoon te maak. Verder moet nes-areas gebou word om die krokodilwyfies uitmekaar te hou en om die krokodil-eiers makliker uit te grawe. ‘n Uitbroeikamer is ook gebou waarin die krokodileiers uitgebroei word. Dan is ‘n krokodil-kleuterskool ook nodig om pas-uitgebroeide krokodilletjies te versorg, asook ‘n krokodil-laerskool waar krokodilletjies gehou word tot op slaggereedheid .

Krokodille word ook in die Bybel genoem. In Job 41:1 staan daar: “Kan jy die krokodil met ‘n hoek uittrek? En met ‘n tou sy tong afdruk?” Dit gee so bietjie diepte glo ek.

Weens die groottes wat krokodille bereik word die mannetjie-krokodil ‘n bul en die wyfie ‘n koei genoem. Soos amfibieë, reptiele, voëls en visse (byvoorbeeld haaie) het krokodille ‘n orgaan wat ‘n kloaak genoem word. ‘n Kloaak as geslagsorgaan kom nie voor by plasentale soogdiere of in die meeste benerige visse nie. Die krokodilboer kan deur sy vinger in hierdie opening te steek, bepaal wat die geslag van die krokodil is – ‘n baie eienaardige gevoel as jy dit vir die eerste keer doen! Krokodille word tot 6 m lank en kan meer as ‘n  1 000 kg weeg. Hulle eet nie in die winter nie, wat ‘n groot kostebesparing is. Die bytkrag wat ‘n krokodil se kake kan uitoefen wanneer dit sluit is ongeveer 2 000 kg!

Só was ek aan die ontvangkant van hierdie bytkrag toe ‘n 1,4 m krokodilletjie, wat ons gevang het om mee te gaan skou, my aan die arm gegryp het. In ‘n breukdeel van ‘n sekonde was daar orals bloed en eers met ‘n harde pluk kon ek myself van  die krokodil bevry. Vyftien steke later moes ek toe maar vir die hospitaalpersoneel, wat toe gedink het daar is krokodille in die Oranjerivier sê: “Ek het net ‘n grap gemaak”.  Die byt, tesame met die doodsrol wat ‘n krokodil gebruik om ledemate van sy prooi af te skeur, is angswekkend. ‘n Mens of enige ander prooi sal hierdie kombinasie nie oorleef nie. Van tyd tot tyd het ek krokodiltande op die plaas opgetel. Die rede hiervoor is dat krokodille hulle tande wissel. Hulle tonge is deel van die onderkaak en hulle kan nie tong uitsteek nie. Hulle gebruik die water om hulle kos af te sluk.

Die mannetjies klap die bo kaak in die water en brul om ‘n wyfie se aandag te trek en dit is interessant om te sien hoe krokodille in die water draai wanneer hulle paar. Wyfies dra deurentyd eiers in hulle en die mannetjies bevrug dan die eiers binne die wyfies. Sodra die eiers bevrug is en die eiers het deeglik in die wyfie gevorm, gaan die wyfie na die nes-area waar sy met haar agterbene ‘n gat grou waarin sy ongeveer elmboogdiepte haar eiers lê. Wyfies kan tussen 7 en 80 eiers lê afhangend van haar grootte en ouderdom en hulle sal op die neste urineer om vog in die grond hoog te hou. Om die eiers van die wyfies uit te haal het verseker sy eie uitdagings. Sodra jy nader beweeg is daar ‘n opwelling van moeder-instinkte om haar eiers te beskerm. Die eerste keer wat ek krokodilneste uitgehaal het was vir my ‘n angswekkende ervaring. Die wyfies is weggehou deur hulle met ‘n swart plastiekpyp op hulle neuse te tik. Hulle hou niks daarvan nie!

Nadat jy daarin geslaag het om die eiers uit die nes te haal is daar ‘n paar dinge om te doen. Die eiers moet skoon gevee word van die jellie-lagie wat hulle bedek. Hierdie lagie bevat ‘n hormoon wat eie is aan die wyfie wat die eiers gelê het. Die doel van die hormoon is om die plek te merk waar sy haar eiers gelê het. Uitgehaalde eiers word sorgvuldig in ‘n polistrieenhouer geplaas met ‘n basis van vermikuliet. Die eiers mag nie gedraai word nie en moet dieselfde bo-onderoriëntasie hê soos wat dit in die nes gehad het. Die rede daarvoor is dat die embrio aan die bokant van die eier vasklou. Sodra die eier gedraai word gaan die embrio dood. Na ‘n paar dae in die polistrieenhouer sal daar ‘n wit ring op die eiers wees wat bevrugting aantoon. Hierdie houers word na die uitbroeikamer geneem waar die eiers in beheerde temperatuur- en humiditeitsomstandighede uitgebroei sal word.

Die uitbroeikamer het ‘n konstante temperatuur van 32⁰ celsius en ‘n humiditeit van tussen 80% en 90%. Dit help met die afbreek van die kalsium in die eierdop en na ‘n tydperk van ongeveer 90 dae breek baba-krokodilletjies deur die eierdop. Die uitbroeikamer is die kern van die krokodilboerdery omdat dit die voortgang van die boerdery verseker. Elke krokodilboer wil graag ‘n goeie opbrengs hê en in die uitbroeikamer word die krokodilboer se opbrengs bepaal. Dit is interessant om te weet dat ‘n krokodilboer graag meer mannetjies as wyfies wil uitbroei. Die rede hiervoor is dat mannetjies in die eerste twee jaar van hulle lewens baie meer as die wyfies vreet en dat hulle dus onder ideale omstandighede baie vinniger groei. Deur ‘n temperatuur van 32⁰ celsius in die broeikamer te handhaaf word verseker dat mannetjies uitbroei. ‘n Temperatuur van 28⁰ tot om en by 30⁰ celsius verhoog die kanse dat wyfies uitbroei.

Die geroep van ‘n baba-krokodilletjie is werklik ‘n onbeskryflike eerste ervaring!

Die baba-krokodilletjies kruip uit die dop met die magie wat soms nog oop is waar die embrio sakkie aan die dop vasklou vanwaar hulle hulle voeding kry. Die oop magie word dan versorg deur hulle in ‘n BETADINE-en-watermengsel te bad. Wanneer die magies toe is, word hulle uitgeskuif na die krokodille-kleuterskool wat donker, warm en bedompig is om eetlus te stimuleer. Fyngemaalde vleis sonder vet is hier hulle kos. Die vloer van die kleuterskool MOET glad wees sodat die velle van die kleuters nie beskadig word nie. Hierdie eenhede moet daagliks skoon gehou word, sodat die kleuter-krokodille nie enige siektes opdoen nie. Na ‘n klompie maande word die kleuter-babas oorgeplaas na die krokodille-laerskool waar hulle vir ongeveer ‘n jaar gaan bly en groei. Hiervandaan word hulle na die krokodildamme verskuif. Op ongeveer 2 jaar, as die krokodille ‘n grootte van 1,5 m tot 2 m bereik het, is hulle gereed om te slag.

Die slag van krokodille word deur professionele slagters gedoen indien die boer nie self ingerig is vir die slagproses nie. Die vleis word verkoop as ‘n lekkerny en is gesog in sommige lande, maar selfs ook in Suid Afrika. Ook vir die velle is daar ‘n groot aanvraag in die buiteland, met ‘n mark wat in ‘n groot mate onbevredig is.

Ek kon myself weer vind op hierdie krokodilplaas en het meer gekry as wat ek verwag het. Hierdie was werklik ‘n belewenis wat ek nooit sal vergeet nie!

4.50 avg. rating (89% score) - 2 votes
Riaan de Bruin
  • Riaan de Bruin

3 Comments

  • Uitstekende artikel. Ek sal graag met Riaan in kontak wil
    Kom of selfs die krokodil plaas waar hy gewerk het as iemand my daarmee kan help. Jack de Klerk 082 441 6245

  • Ek wil graag n krokedil boerdery begin, maar weet baie min van dit af as iemand my dalk meer info kan stuur sal dit baie waardeur word
    Dankie Theuns

  • Gelukkig is daar darem ondersteuning vir krokodilboere vanaf die staat by wyse van ‘n handleiding.

    Will weet waar ek die handleiding kan kry

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui