Ope brief aan Mantashe | Waarom soveel ander die SEB-skema verafsku

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie NEASA, skryf aan Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumhulpbronne:

Geagte minister Mantashe

Gedurende ʼn onlangse televisie-onderhoud het u die verregaande bewering gemaak dat sekere politieke partye (wat terloops ʼn sterk “wit” politieke basis het), en gevolglik die ondersteuners van hierdie partye, swart ekonomiese bemagtiging “haat”.

Minister, wat ook al u veronderstelde redes vir wit mense se – en ek haal aan – “haat” vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is, u is bloot verkeerd. Ons haat nie die ekonomiese bemagtiging van enige ras nie, maar ons verafsku beslis die rasgebaseerde SEB-skema. Dit is nie net omdat wit mense ernstig daardeur benadeel word nie, maar ook omdat die inherente tekortkominge daarvan alle rasse negatief raak. Trouens, die hele bevolking en die ekonomie.

Behalwe vir die polities gekonnekteerde, “bevoorregte” enkelinge wat skouspelagtig deur hierdie skema verryk word – daardie “tenderpreneurs” wat hul siele opgeoffer het ter wille van vinnige, alhoewel korttermyn rykdom – word die res benadeel; “Suid-Afrika Bpk.” word verarm tot voordeel van ʼn paar gulsige individue.

Diegene wat egter nou deur hierdie skema bevoordeel word, sal uiteindelik die grootste verloorders wees. Niemand ontsnap die uiteindelike gevolge van deelname aan oneerlike aktiwiteite nie, en SEB is inherent ʼn bedrieglike vorm van handel.

Enigiemand wat vinnige rykdom verkry en “geld maak” sonder om werklik te weet hoe om “werklike waarde” uit “niks” te skep nie, sal uiteindelik deur die beduidende gevolge daarvan in die gesig gestaar word. Ware entrepreneurskap behels die identifisering en vervulling van ʼn behoefte binne ʼn spesifieke omgewing, terwyl ʼn mens jouself onderwerp aan die persoonlike opofferings van harde werk, volharding, geduld, en die vermoë om terugslae te oorkom en deur finansiële ontbering – selfs bankrotskap in sommige gevalle – te weerstaan. Dit is die kenmerke van ʼn ware entrepreneur, ʼn bona fide-skepper van welvaart.

Die onmiddellike straf van “SEB-sukses” is onsekerheid, ʼn diepgewortelde ontevredenheid, ʼn besef dat jy nie jou rykdom deur harde werk verdien het nie, dat jy geen waarde toegevoeg het nie en dat jy uiteindelik uitgevang sal word. Dit is waarom die bevoordeeldes van die skema ten prooi val van buitensporige gierigheid, met ʼn steeds toenemende vrees dat wanneer die dag van verrekening kom, wat hulle ook al bymekaargemaak het, nie genoeg sal wees om hulle te beskerm teen die gevolge daarvan om op ʼn inherent oneerlike wyse ryk te word nie.

Daardie SEB-bevoordeeldes aan wie aandele in besighede geskenk word – nie deur harde werk nie, maar as gevolg van politieke dwang waar maatskappye forseer word om aan afpersing toe te gee vir die voorreg om toegelaat te word om aan die hoofstroomekonomie deel te neem – ervaar die teleurstelling wanneer hulle besef dat hul aandeelhouding niksseggend is, en dat dit geen vervulling teweegbring nie. Dit mag dalk onmiddellike materiële voordele bied, dikwels op skouspelagtige wyses, maar dit gaan gepaard met geen ware bevrediging nie. Dit is waarom aandele wat op hierdie wyse verkry is, nie lojaliteit en die begeerte om waarde toe te voeg kweek nie. Vir enige maatskappy is dit ʼn massiewe las wat voortdurende uitdagings teweegbring, wat altyd teen ʼn groot finansiële koste geskied.

Aandeelhouding, soos dit in SEB-wetgewing voorsien word, bring nooit die persoonlike vervulling van ware eienaarskap mee wat deur harde werk en opoffering verdien word nie. Dit is leeg en laat die SEB-bevoordeelde dus met niks anders as ʼn voortdurende najaag van materialistiese gewin nie.

Die SEB-model verbreek elke reël van volhoubare welvaartskepping. Nêrens anders, nie in enige sakehandboek of erkende suksesvolle sakemodel, sal enigiets gevind word wat selfs vaagweg ooreenstem met hierdie model van verryking nie.

Sedert die ontstaan van die skema is honderde miljarde, indien nie triljoene nie, in programme gepomp om individue in rekordtyd tot die status van sogenaamde entrepreneurs en industrialiste te verhef, terwyl alle natuurlike prosesse wat normaalweg sukses voorafgaan, omseil is. In die meeste gevalle was dit bloot vrugtelose en verkwistende besteding. Die “SEB-tenderpreneurs” wat oorleef, ten spyte van die skending van sakebeginsels, slaag slegs daarin omdat hulle voortdurend finansieel aan die lewe gehou word. Die totale koste vir die ekonomie hieraan verbonde beloop triljoene.

Die hoogste koste vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is egter die feit dat SEB-bevoordeeldes die rigtingbepalers is wat aanleiding gegee het vir die vestiging van ʼn kultuur om jouself nie uit armoede uit te werk nie, maar om jouself uit armoede en selfs tot boaan die voedselketting te bedrieg. Hulle het ʼn voorbeeld gestel wat die blywende, suksesvolle kombinasie van harde werk, geduld en ʼn matige lewenstyl verkleineer. Dit het gelei tot die skepping van ʼn bevolking wat daarna streef om vinnig rykdom te bekom deur op die suksesgolf van ander te ry, sonder enige bereidwilligheid om hoegenaamd opofferings daarvoor te maak.

Die koste van die verlies aan ʼn geloofwaardige sakekultuur oortref by verre die monetêre verliese wat as gevolg van die SEB-skema gely is. Hierdie mentaliteit het ʼn bevolking besoedel en, in die proses, Suid-Afrika baie jare teruggesit. Dit sal vir Suid-Afrika moeilik wees om hiervan te herstel.

Vir baie het die drang na vinnige rykdom so oorweldigend geword dat dit aanleiding gegee het tot misdaad. Maar SEB op sigself is ʼn misdaad – ʼn vorm van afpersing, ʼn vorm van onteiening sonder vergoeding – wat neerkom op diefstal.

By diegene wat die skouspelagtige rykdom verkry het wat deur die SEB-skema gefasiliteer is, het arrogansie in plaas van skaamte die oorhand gekry. Hul arrogansie is egter misplaas en sal van korte duur wees. Hierdie SEB-bevoordeeldes het niks bygedra nie en niks gebou nie. In plaas daarvan het hul aksies aanleiding gegee tot die grootste diefstal in die geskiedenis en gevolglik die land verarm. Soos ʼn parasiet suig hulle bloot die lewensbloed uit iemand anders se bestaande prestasies, of dit nou iemand anders se besigheid is of die belasting wat gehef word op die swaarverdiende geld van eerlike hardwerkende bona fide sake-eienaars.

Daar gaan egter ʼn dag kom wanneer ʼn kommersiële “waarheidskommissie” die inherente skynheiligheid van die onregmatig verkrygde SEB-winste sal blootlê. Indien so ʼn kommissie egter nie ingestel word nie, sal die samelewing dit in elk geval uitpluis. Diegene wat nou in hul rykdom verdrink, sal dan tot die besef kom dat hulle hul kastele slegs op sand gebou het.

Minister, u fouteer wanneer u sê dat “enigiemand wat vandag ʼn debat oor SEB begin, wit oorheersing bevorder”. Wit mense koester nie meer ʼn begeerte na wit oorheersing nie. Ons verafsku egter die nuwe soort valse oorheersing bloot omdat ons dit sien vir wat dit is – ʼn valse herverdelingskema wat mettertyd gaan misluk, maar wat die land intussen saam in die afgrond insleep.

Ons sal nie ophou om dit te ontbloot vir wat dit is nie.

Die uwe
Gerhard Papenfus
Uitvoerende hoof van NEASA

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui