
Gratis virtuele skryfkursusse vir skole, tuisskolers en individuele leerders – deel 2
5 Dinge wat ek wens ék geweet het voordat ek begin skryf het …
Eerste weergawes is nie baie goed nie.
Dis nie noodwendig ‘n slegte ding om te dink dat jou skryfwerk nie goed is nie. Wanneer jy iets skryf en dit ‘n week later weer lees en dink dat dit gemors is, beteken dit dat jy in daardie week iets geleer het — en jou vaardighede verbeter het. Onthou net, ‘n mens kan 1000 woorde se gemors redigeer, maar ‘n leë bladsy is en bly leeg.
“Get it down. Take chances. It may be bad, but it’s the only way you can do anything really good.” — William Faulkner
Daar is geen geheime formule nie.
Toe ek begin het, het ek gedink dat ek ‘n ‘plotter’ moet wees, m.a.w. die plot in die fynste besonderhede moet uitwerk, want dit is hoe my brein normaalweg werk.
‘Plotters’ beplan hulle stories baie deeglik, insluitend die karakters, plot, subplot, klimaks en ontknoping.
Wanneer ek egter ‘n plot probeer beplan, is daar slegs ‘n vakuum.
‘Pantsers’ word as die vrydenkendes van die skryfwêreld beskou. Hulle laat die karakters toe om hulle self te vorm en laat die plot toe om vanself te ontvou. Die nadeel van ‘n ‘pantser’ wees is dat jy jouself kan vasskryf. Die voordeel is dat jou plot jóú ook verras.
My plot ontvou soos die karakters dit stuur, maar ek doen baie navorsing wat betref karaktereienskappe en dit wat die karakters sielkundig onderlê. Ek beplan die karakters haarfyn nadat hulle vanself kom aanmeld het.
Vreemd?
Dit werk vir my en dis al wat tel.
Ek begin dikwels slegs met ‘n idee en navorsing en het geen idee waar die storie heen sal gaan nie. Die karakters meld aan. Wat vir een persoon werk, werk nie noodwendig vir ‘n ander een nie. Vind jou eie unieke skryfwyse en maak seker jy werk gedissipineerd.
Skryf eers en redigeer later (as dit vir jou werk).
Aanvanklik het ek geredigeer terwyl ek gewerk het en elke oggend die vorige dag se werk geredigeer. Die probleem was dat ek so besig was om te redigeer dat my storie geensins gevorder het nie. ‘Analysis paralysis.’ Nou kry ek net eers die storie op papier en dan redigeer ek. Ek moet bieg dat die proses van redigering vir my al lekkerder raak. Ek geniet die redigering amper meer as die skryf.
‘Skryf’ is ‘n werkwoord.
Dit neem baie tyd om ‘n manuskip te voltooi. Dan kom die herskryf en redigeer. En dan weer alles van vooraf.
My eerste jeugroman, Sweepslag, het 6 jaar geneem voordat dit uiteindelik gepubliseer is.
Sindikaat was ‘n proses van ongeveer 2 jaar.
Aanhouer wen.
Die vrees vir mislukking agtervolg nie slegs debuutskrywers nie. Die eerste 3 000 woorde is elke keer vir my ‘n nagmerrie en daarna wonder ek of ek uiteindelik ooit by 10 000 gaan uitkom.
Aanhouer wen.
Byt vas. As ek my droom kon bereik, kan jy ook.
Vir meer inligting, kyk na my webwerf en blog: www.annerlebarnard.co.za
Annerle Barnard (Skryfkursus graad 10-11)
Goed gestel.