‘n Tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en ons trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder. Ons simboliseer graag ’n roosboom met Afrikaans, kom kuier en blom saam by die FAK, hier is jy tuis!
Die FAK is tans besig met verskeie projekte om dié roosboom verder te laat groei en ontwikkel. Onder hierdie projekte is daar verskeie skoleprojekte, geskiedenisprojekte, asook die FAK se kultuurnetwerke. Kortliks iets oor elkeen:
Skoleprojekte:
1. Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunskompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hul skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars. Die tema vir 2021 is Boeke! Daar is agt afdelings waaraan leerders hierdie jaar kan deelneem en groot pryse is te wen: die Algehele Junior en Senior wenner ontvang R2 000 en die skool met die meeste inskrywings R10 000. Klik op die skakel vir meer inligting https://ekspo.fak.org.za/
2. Sing in Harmonie is die FAK se eie skoolkoorkompetisie! Sing in Harmonie is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan TV-blootstelling, pryspakette en die aantal inskrywings. Kore van 230 verskillende laer- en hoërskole neem aan dié kompetisie deel, wat dan oor 50 episodes uitgesaai word.
3. Die FAK se Nasionale Afrikaanse Geskiedenis-olimpiade. Hierdie kompetisie word vir beide hoër- en laerskole aangebied.
Die hoërskoolkompetisie vind plaas in die vorm van ’n aanlyn toets vir leerders van graad 8 tot 12. Dit word in 2021 vir die tweede keer aangebied. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, nl. Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.
Vanjaar is die tema die Pionierstydperk (1652 tot 1820). Vyf e-publikasies oor hierdie tema is opgestel om as bronne te dien vir vanjaar se toets.
Die geskiedenisolimpiade bestaan uit twee rondtes. Die eerste rondte behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit multikeusevrae en in die tweede rondte moet die leerders ’n opstel skryf.
Die laerskoolkompetisie word vanjaar vir die eerste keer aangebied. Dit bestaan uit ’n aanlyn toets vir leerders van graad 4 tot 7. Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Die bronne vir die laerskole se Geskiedenis-olimpiade is die Patriot Troefkaarte en die boekie – Klopdisselboom: idiome oor waens en trekdiere. Skole wat deelneem, ontvang een stel kaarte en ’n plakkaat gratis. Verdere stelle kaarte kan aangekoop word. Die Idiome-boekie is by die FAK beskikbaar teen R50 per boek. Klik op die skakel vir meer inligting https://olimpiade.co.za/
Verder beskik die FAK ook oor verskeie fasiliteite wat deur ons vriende en lede van die publiek geniet kan word. Hierdie fasiliteite sluit in die FAK Liedjietuin (Pretoria) en Udolpho Rivierplaas (naby Parys in die Vrystaat).
Die FAK Liedjietuin:
Aan die voet van ons Voortrekkererfenis en trotse monument lê die Afrikaanse Liedjietuin tussen lowergroen bome en pragtige natuurskoon. Stap hand aan hand deur die asemrowende rose en word sag getroebadoer deur die kabbel-kabbel van ’n verdwaalde stroompie. Neurie of sing saam die woorde van merkwaardige Afrikaanse treffers vasgevang in granietblaaie regdeur die Afrikaanse Liedjietuin, en word nostalgies weggevoer na jou eie kinderdae van jonk en vry wees.
Die Afrikaanse Liedjietuin is die tuin waar jy jou eie spyseniering, dekor, program, speletjies, vermaak en idees kan uitoefen!
Udolpho Rivierplaas:
In 1993 is die plaas aan die FAK geskenk vir ’n bruikhuurooreenkoms van 99 jaar, met die voorwaarde dat dit vir jeug- en kultuurprojekte gebruik word. En dié voorwaarde het die FAK gestand gedoen. Die plaas kreun onder die kultuur en geskiedenis.
In 2019 is ’n sandsteen-standbeeld van ’n jong seun, oftewel Penkop, wat al die seuns verteenwoordig wat tydens die Anglo-Boereoorlog vinnig mans moes word om in die oorlog te help veg, onthul. ’n Muur met twee reuseborde bevat ’n lys met die name van 2466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het. ’n Aambeeld op ’n voetstuk by die monument bring hulde aan nog ’n stukkie geskiedenis: Dit verteenwoordig die na-oorlogse seuns wat vanuit die as van die oorlog weer die plase moes help opbou. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, daadkrag en harde werk van dié seuns.
’n Monument is in 2020 onthul om eer te bring aan ons dapper Afrikanervroue en -dogters wat die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (ABO) oorleef en teruggekom het na hulle plase wat totaal vernietig was, en toe self hand aan die ploeg geslaan en vorentoe gekyk het om dié plase weer te herbou. Dié monument genaamd “Opstaan” en wat bestaan uit brons en sandsteen, is onthul om Nasionale Vrouedag en -maand te gedenk. Saam met die Opstaan-monument is ’n herinneringsmuur aangebring met die name van sowat 800 vroue en dogters wat die ABO oorleef het.
Udolpho Rivierplaas is nie sommer net ’n oord nie. Dis ’n plaas waar jy jou skoene kan uitskop, kan rus en kan heel word. Dis die ideale plek om in die stilte van die natuur die stokperdjie te kom beoefen wat jy al vir jare onder in jou kas bêre. Hier kan jy kom skryf, op die stoep sit en hekel of verf of fotografie doen. Niks gaan jou steur nie – behalwe miskien ’n visarend wat roep of ’n jakkals wat tjank.
Die FAK se kultuurnetwerke woeker met die bewaring van ons trotse Afrikanergeskiedenis en erfenis. Elke kultuurnetwerk van die FAK is soos ’n tak van die groter FAK-boom. Hierdie gemeenskapsorganisasies werk in hul gemeenskappe om die plaaslike erfenisskatte, monumente en geskiedenis te bewaar.
Die FAK beskik ook oor ’n Genealogielessenaar. Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sien die FAK genealogie as ’n belangrike sleutel om die historiese geheueverlies onder kinders aan te spreek. Deur genealogie weet elkeen in die gesin waar hy vandaan kom en dit gee baie raakpunte om ook met kinders te gesels oor die konteks waarin hul ouers of grootouers geleef het.
“Afrikaners is een van die min volke ter wêreld wie se rekords redelik volledig tot die 17de eeu terugstrek. Die FAK het ervaar daar is onder gesinne en families ’n nuwe belangstelling in wie ons is en waar ons vandaan kom. Udolpho, die FAK se kultuurvakansieplaas naby Parys, is vir familiesaamtrekke veral gewild. Daar is ’n toename in besprekings van families wat duidelik dui op ’n groot behoefte,” aldus Langner.
Die Genealogielessenaar is in Januarie 2020 gevestig om by te dra tot die bewusmaking en bewaring van persoonlike familiegeskiedenis as onderbou van algemene kultuurerfenis veral met fokus op diens aan FAK-vriende, maar ook tot diens van die algemene publiek. Die FAK wil graag ’n netwerk vorm vir genealogiese navorsing in die RSA.
Die bekende genealoog Isabel Groesbeek, wat familielyne vir meer as 30 jaar naspoor, is nou deel van die FAK-familie en staan aan die hoof van dié navorsingslessenaar.