
Wat die Voortrekkermonument ons vandag bied
Die Voortrekkermonument is in die Pretoria (Tshwane)-streek, in ‘n natuurreservaat, in die noordelike deel van Suid-Afrika geleë. Dié unieke monument gedenk die pioniersgeskiedenis van suidelike Afrika en die geskiedenis van die Afrikaner en is in ’n pragtige omgewing geleë. Dit is ontwerp deur die argitek Gerard Moerdijk en is in 1949 ingewy . In die monument se Heldesaal is die wêreld se langste historiese marmerfries terwyl ’n tapisserie met meer as drie miljoen steke in die Senotaafsaal gehuisves word. Tans is die monument die mees besoekte erfenisterrein van sy soort in Gauteng en een van die top tien kultuurhistoriese besienswaardighede in die land. Dit is ook die eerste verklaarde Nasionale Erfenisgebied in Pretoria. Die Bloedrivier Erfenisterrein word ook bestuur as deel van die monument.
Voortrekkermonument
Die Voortrekkermonument is ‘n groot, grys granietkolos wat vanuit alle rigtings sigbaar is as Pretoria genader word en is gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het. Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om ’n monument te ontwerp wat as ’n “gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik.”
Afgesien van die massiewe grootte van die monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak – die historiese fries en die senotaaf.
1938-Klipstapel
Tydens die hoeksteenlegging in 1938 van die Voortrekkermonument, is duisende klippe deur feesgangers, van oral uit die land, na dié terrein gebring. ‘n Klipstapeling is gedurende 13 tot 16 Desember gedoen. Klippe van die erfenisterrein is ook deur feesgangers vir die stapeling gebruik.
Die sekretaris van die Sentrale Volksmonumentkomitee het tydens die verrigtinge verklaar dat die klipstapel, tot in die verre toekoms, sou dien as bewys dat die Afrikaners van 1938 die geestelike en stoflike erfenis waardeer wat in 1838 aan hulle nagelaat is en dat hulle onderneem om die erfenis onbeskadig vir die Afrikaners van 2038 te behou.
Hierdie klipstapel moes dien as simbool van die vurige verlange na volkseenheid.
‘n Verdere oogmerk van die klipstapeling was, om op daardie spesifieke plek ’n replika van die Geloftekerk in Pietermaritzburg te bou. Die klipstapeling het plaasgevind op ’n sementvloer met ’n ringmuur daaromheen en is op 22 November 1938 geopen. Die klipstapel is toegemessel, maar die plan om ’n replika van die Geloftekerk te bou, het egter nooit gerealiseer nie.
Nagmaalwa
Mnr. SP (Fanie) Botha het saam met sy pa op die plaas Rietspruit geboer en het hierdie wa laat maak met die oog op die Simboliese Ossewatrek van 1938. Dié wa het aan die 1938-Eeufeesvieringe in Heidelberg deelgeneem en is later hoofsaaklik tydens Geloftefeeste gebruik.
Gedurende die laat 1960’s is die wa aan die Normaalkollege Pretoria (NKP) geskenk waar dit in die ingangsportaal van die kollege gestaan het. Na die verskuiwing van die kollege is die wa, na vele omswerwinge, aan die Voortrekkermonument geskenk. Die wa is in 2003 deur Erik Holm gerestoureer en die tradisionele skilderwerk is deur Elsabé Holm gedoen.
Die monument beskik ook oor ’n reeks fasiliteite wat gehuur kan word naamlik: Monument Kapel, Fort Schanskop Amfiteater, Die Voortrekkermonument, Die Heldesaal, Die Senotaafsaal, DeKroon-kamer, Galery 20.20, Die Raadzaal, Amfiteaterdak, Piekniekterrein, Voortrekkersaal, Die uitspanpiekniek, Monument Amfiteater en Sportroetes.
Die Erfenisstigting
Die Erfenisstigting (ES) is in 2002 as ’n maatskappy sonder winsmotief opgerig en is ’n gerekende rolspeler binne die Suid-Afrikaanse kulturele erfenis-industrie. Die ES se visie is om ‘n openbare bewussyn van ‘n bedreigde erfenis te skep deur die behoud, bewaring en volhoubare benutting van erfenishulpbronne.
Verskeie vaste, roerende en nie-tasbare Suid-Afrikaanse erfenishulpbronne word bedreig ten spyte van wetlike beskerming. Bedreigde erfenishulpbronne sluit onder meer historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte in. Bedreigings wissel van natuurlike verval, toevallige skade en vandalisme tot ‘n gebrek aan befondsing en kapasiteit as gevolg van verskuiwings in politieke ideologie en staatsprioriteite.
Vir minderheidsgroepe en ander gemarginaliseerde groepe is die erfenishulpbronne ‘n tasbare uitdrukking van hul identiteit. Waar bedreigings manifesteer, veral as gevolg van vandalisme, maar ook as gevolg van politieke of burokratiese afsydigheid, is dit onvermydelik dat sommige gemeenskappe dit as ’n direkte aanslag op hul kultuur en identiteit ervaar.
Om die ES se visie te bereik, het ons vyf programme ontwikkel wat daarop gemik is om fondse in te samel ten einde ‘n bedreigde erfenis te beskerm. Hierdie fondse stel ons in staat om die nodige infrastruktuur, kundigheid en dienste aan te bied om bedreigde roerende en vaste erfenishulpbronne te bestuur, om erfenisnavorsing te onderneem en om ‘n openbare bewussyn van die belangrikheid en waarde van ‘n erfenis te skep.
The survival of monuments( in this case a covenant), culture, and a nation does not lie in human endeavour… Untill God is placed FIRST and directs the endeavours they are doomed to failure. Ps127:1