Leer meer oor die natuur saam met Eco Pilots

Eco Pilots is ‘n opvoedkundige natuurbewaringsprogram vir leerders van 2 jaar tot Gr 5.

Ons kweek ‘n passie en liefde vir die natuur en alles daarin. Ons glo dat niemand iets werklik kan liefhê of omgee daarvoor as jy geen kennis het nie.

Kennis is mag en daarom leer ons met opgewondenheid die leerders van ‘n groot verskeidenheid aspekte in die natuur.

Ons besoek kleuterskole en skoolsentrums vir heerlike interaktiewe instappies en bied ‘n verskeidenheid temas aan – van “die weer” tot “soogdiere”.

Ons bied weeklikse lesse vir leerders aan vanaf Gr R – Gr 5 as ‘n buitemuurse aktiwiteit.

Eco Pilots is begin deur ‘n natuurbewaarder wat ‘n passie het vir kinders en vir die natuur. Vir ons is dit ook ‘n passie om soveel as moontlik kinders te leer hoe wonderlik die Skepper die natuur gemaak het.

Daagliks word daar duisende en duisende studies gedoen oor hoe ons wonderlike natuur bedreig word en besig is om agteruit te gaan.

Daar word vermoed dat ons ongeveer 8 miljoen spesies op aarde is wat bedreig word waarvan ten minste 15,000 heel moontlik uitgewis gaan word. Hulle vermoed dat ons dalk 150 spesies per dag verloor.

Niemand weet wat die presiese getalle is nie – ons weet nie eers hoeveel verskillende spesies, plante en insekte ons het nie. Wetenskaplikes weet meer oor ons sterrestelsel as wat hulle oor al die spesies op aarde weet.

Wat ons wel weet is dat die verskeidenheid spesies drasties verminder as gevolg van habitatverwoesting.  Die mens gebruik te veel hulpbronne: daar is onwettige handel in wilde diere, perlemoenstropery, uitwissing van onder andere die Reënwoude asook besoedeling en oorbevolking.

Duisende wetenskaplikes is besig met studies oor die natuur en hulle probeer hul bes om vas te stel teen watter spoed ons wêreld besig is om te verdwyn, wanneer ons varswater gaan opraak, wanneer die aarde te warm gaan word vir ons om te oorleef en wanneer ons kos gaan opraak!

Die waarheid is: elke dag verander dinge en niemand het al die antwoorde nie.

Die bewyse is ongelukkige daar. Ons aarde, die mooi diertjies, die vars water, woude en oseane om net ‘n paar te noem, is in groot gevaar!

Ons leer die kinders oor die realiteit waarin ons lewe – byvoorbeeld dat ons korale in die see verskriklik belangrik is, maar dat dit besig is om baie vinnig te sterf.

Maar ons wil nie ‘n bron van pessimistiese nuus vir kinders wees nie. Eco Pilots is daar om nie net vir die kinders te leer oor hoe om die natuur te beskerm nie, ons wil vir ons volgende generasie HOOP gee en dis waarop ons fokus.

Dis maklik om in vandag se tyd mismoedig te word. As jy as ‘n klein mensie om jou kyk dan voel dit asof jy nie ‘n verskil kan maak nie.

Ons wil hê dat elke Eco Pilot-leerder verryk moet word met kennis, liefde en hoop. Wanneer hulle hier wegstap moet hulle verstaan wat liefde en respek is, dat ons gemaak is om dit uit te leef, dat elke leerder HOOP sal hê en dat elke bietjie wat hulle doen ‘n groot verskil kan maak.

Natuurbewaringsopvoedkundige programme hou baie voordele in – nie net vir die kinders nie. Daar word in Spreuke 22:6 gesê:  “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” Ons glo dit is van toepassing op alles wat ons die kinders leer.

Ses voordele wat omgewingsopvoedkundige programme vir kinders het

1. Gesonde leefstyl

Dit kweek ‘n gesonde leefstyl by kinders. Ons probeer altyd, waar ons kan, om ons instappies en lesse buite in die vars lug te hou.  Kinders kry dus meer sonlig: propvol natuurlike vitamine D wat help om gesonde bene te groei en spiere te bou. Sonlig kan kinders help om beter te konsentreer en dit kan dus lei tot sinapsbevordering in die brein.

Om in die natuur te wees het ook ‘n groot positiewe effek op kinders met gedrags- en leerprobleme. Die kalmte wat die natuur bring help hiermee.

Minder tyd met kunsmatige lig soos TV’s, selfone en videospeletjies word spandeer.

Kinders kry dieptepersepsie, want alles om hulle is in 3D en daar is soveel verskillende aspekte: bv. ‘n blom wat ons nie eers raaksien nie. Dit leer kinders om dieper te kyk.

Kinders leer van die klein dingetjies, soos ‘n bosluis, tot die groot dinge soos die son.

2. Respek

Wanneer kinders leer om respek te bewys teenoor ‘n diertjie en die natuur en hoekom dit belangrik is, raak dit ook makliker om te verstaan hoekom ons respek teenoor ander maatjies en mense moet hê.

3. Die verskillende uitdagings in die natuur

Die kinders leer van situasies wat huidig in die wêreld en in ons natuur aan die gang is, hoe dit ons raak en hoe ons kan help. Dit help dat kinders beter kennis verkry en dat hulle nie bang sal wees nie.

4. Leer kinders om goedhartig te wees.

Kinders kry die kans om te leer hoe om goedhartig te wees. Nie net teenoor diere nie, maar ook teenoor mekaar. Dis makliker wanneer jy begin verstaan hoe kosbaar ‘n by is en hoe bye gehelp kan word. Dit kan hulle weer toepas op vele terreine van  hulle lewe.

5. Ontwikkel belangrike denkvaardighede

Om oor die natuur en die uitdagings wat die natuur bied te praat, word kinders uitgedaag om bietjie daaroor te dink en planne te maak.

6. Leer verantwoordelikheid

Kinders kry die kans om verantwoordelikheid te leer soos byvoorbeeld wanneer hulle ‘n saadjie plant en dit hulle verantwoordelikheid is om dit water te gee anders gaan dit nie groei nie.

Bogenoemde artikel is deur ‘n onafhanklike persoon, onderneming of instansie saamgestel. Menings en standpunte wat in die skrywe gestel word, is nie noodwendig die standpunt of beleid van KragDag, sy werknemers, die nuusbriefredakteur of enige van sy aandeelhouers nie.
0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Chané Gouws
  • Chané Gouws
  • Chané Gouws: Eco Pilots eienaar en stigter.
    Die lewe begin as ‘n klein dogtertjie: mal oor my maatjies en almal om my, opgewonde oor die samesyn van vriende en ander kinders. Ek was ook (en is nog steeds) deel van die Voortrekkers en dit het my ‘n nog groter liefde vir kinders en die natuur gegee.
    Daarna besluit ek toe om my passie uit te leef en B.Sc. (Biologiese Wetenskappe) te gaan studeer. Ek het toe met ‘n groot skok agtergekom dis nie so maklik soos wat ek gedink het nie en dat dit nie vir my is nie. Ek het toe oorgeskuif na Natuurbewaring toe (wat my tweede liefde was en kinders my eerste liefde) Alhoewel dit nou ook nie maklik was nie, het ek toe gekwalifiseer as ‘n natuurbewaarder.
    Ek het op die idee van Eco Pilots gekom terwyl ek nog studeer het. Ek het geweet ek wil kinders oor die natuur leer. In Oktober 2010, aan die einde van my prakties, het ek amptelik besluit ek gaan Eco Pilots begin. Dit was nie maklik vir ‘n jong meisie om haar eie besigheid te begin nie, wat nog iets te begin wat nog nie voorheen gedoen is nie. Alhoewel my vriende en familie gedink het ek is laf, het ek alles ingesit en dit gedoen.
    In die 2de kwartaal van 2011 het Eco Pilots amptelik begin om lesse aan kinders te gee en vanjaar vier Eco Pilots ons 10de verjaarsdag.
    Eco Pilots is nie net ‘n besigheid nie, maar ‘n klein droom wat omskep is in ‘n groot droom en nou ‘n klein besigheid wat gegroei het tot ‘n groot besigheid.
    Dit is vir my so wonderlik en so ‘n voorreg om my twee passies te kon kombineer en elke dag dit te kan uitleef: Om kinders te kan leer oor die natuur en die Skepping daar buite en om die kinders ‘n passie te gee vir die lewe en te verstaan en dit lief te hê en hulle opgewonde te maak oor die toekoms.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui