Chané Gouws

Chané Gouws: Eco Pilots eienaar en stigter. Die lewe begin as ‘n klein dogtertjie: mal oor my maatjies en almal om my, opgewonde oor die samesyn van vriende en ander kinders. Ek was ook (en is nog steeds) deel van die Voortrekkers en dit het my ‘n nog groter liefde vir kinders en die natuur gegee. Daarna besluit ek toe om my passie uit te leef en B.Sc. (Biologiese Wetenskappe) te gaan studeer. Ek het toe met ‘n groot skok agtergekom dis nie so maklik soos wat ek gedink het nie en dat dit nie vir my is nie. Ek het toe oorgeskuif na Natuurbewaring toe (wat my tweede liefde was en kinders my eerste liefde) Alhoewel dit nou ook nie maklik was nie, het ek toe gekwalifiseer as ‘n natuurbewaarder. Ek het op die idee van Eco Pilots gekom terwyl ek nog studeer het. Ek het geweet ek wil kinders oor die natuur leer. In Oktober 2010, aan die einde van my prakties, het ek amptelik besluit ek gaan Eco Pilots begin. Dit was nie maklik vir ‘n jong meisie om haar eie besigheid te begin nie, wat nog iets te begin wat nog nie voorheen gedoen is nie. Alhoewel my vriende en familie gedink het ek is laf, het ek alles ingesit en dit gedoen. In die 2de kwartaal van 2011 het Eco Pilots amptelik begin om lesse aan kinders te gee en vanjaar vier Eco Pilots ons 10de verjaarsdag. Eco Pilots is nie net ‘n besigheid nie, maar ‘n klein droom wat omskep is in ‘n groot droom en nou ‘n klein besigheid wat gegroei het tot ‘n groot besigheid. Dit is vir my so wonderlik en so ‘n voorreg om my twee passies te kon kombineer en elke dag dit te kan uitleef: Om kinders te kan leer oor die natuur en die Skepping daar buite en om die kinders ‘n passie te gee vir die lewe en te verstaan en dit lief te hê en hulle opgewonde te maak oor die toekoms.