Kyk met jou oë, verstaan met jou brein
Visuele persepsie vorm die basis van alle lees-, skryf- en spelvaardighede. Dit is die brein se vermoë om dit wat gesien word te interpreteer. Visuele persepsie begin ontwikkel van dag een af en hou aan groei diensooreenkomstig die stimulasie wat ontvang word.
Kom ons kyk noukeurig na die vyf basiese visuele persepsies: Visuele Voorgrond-agtergrond, Visuele Diskriminasie, Visuele Sluiting, Ruimtelike Oriëntasie en Vorm Konstantheid.
Visuele Voorgrond-Agtergrond is die vermoë om ‘n spesifieke item uit ‘n besige agtergrond te herken. ‘n Praktiese voorbeeld van dié vermoë sal wees as jy jou liefste eggenoot vra om vir jou die konfyt uit die spenskas te gaan haal. Dié kom egter terug sonder sukses. Jy vererg jouself en maak die spenskas oop en, wraggies, daar staan die konfyt in lewende lywe, op die middelste rak tussen al die ander blikkies en bottels. Die Engels het ook ‘n mooi beskrywing hiervoor: ‘clutter blindness’ of in Afrikaans warboel blindheid.
Kom ons trek die vaardigheid terug na jou kind en sy skoolwerk. Kinders wat sukkel met voorgrond-agtergrond verloor soms hulle plek wanneer hulle lees, en sal dus gebruik maak van hulle vinger of ‘n liniaal wanneer daar gelees word. Hulle voel gou oorweldig met massas geskrewe werk. Kan soms stadig werk veral wanneer daar oorgeskryf/afgeskryf word. Kinders wat goed is met die vaardigheid kan legkaarte lag-lag klaar bou wanneer daar ‘n prent van die legkaart by is.
Hoe kan jy help? Oefen die vaardigheid deur jou kind geleentheid te gee om sy eie sokkies se maats te vind wanneer jy wasgoed opvou, of wanneer jy sy kas regpak; om tyd te spandeer met leesstof wat vereis dat ‘n spesifieke mannetjie of objek gesoek word in ‘n besige agtergrond of toneel prent.
Visuele Diskriminasie is die vermoë om verskille en ooreenkomste uit te ken in verskeie prente, vorms, getalle en letters.
Hierdie vaardigheid is nodig wanneer letters en woorde geskryf word. Die subtiele verskille tussen ‘n ‘b’, ‘d’, ‘p’ en ‘q’ kan soms die kinders uitvang veral as die vaardigheid nog nie vasgelê is nie.
Hoe kan jy help? Oefen prente waar verskille geïdentifiseer moet word. Staan voor jou kind, laat hom omdraai, verander iets aan jou voorkoms en laat hom weer na jou kyk. Vra hom om te identifiseer wat nou anders is. Gee vir jou kind prente waar daar subtiele verskille is wat hy moet identifiseer.
Visuele Sluiting is die vermoë om ‘n gedeelte te sien, en die res in jou gedagtes te voltooi. Hierdie is slegs moontlik vir items/objekte wat aan jou bekend is. Gestel ek wys jou ‘n gedeelte van ‘n item wat jy nog nooit van gehoor het, of gesien het nie, in kontras met ‘n kat se poot. Jy gaan dadelik kan identifiseer dat die poot behoort aan ‘n kat. Dit was bekend aan jou en dus kon jy die prentjie maklik voltooi in jou gedagtes.
Die vaardigheid word benodig veral wanneer jou kind ‘n legkaart moet bou, sonder ‘n prentjie. Sy moet sin maak van hoe die klein stukkies bymekaar pas om ‘n groter geheel te vorm. Die vaardigheid is belangrik vir skoolwerk om letters en/of woorde te voltooi wanneer hulle skryf. Dit het ook ‘n invloed op taakvoltooiing.
Hoe kan jy help? Vat ‘n papier met ‘n prentjie op en knip dit in ‘n paar stukke. Laat jou kind weer die prent probeer bou. Of gee vir jou kind ‘n prent wat nie volledige geteken is nie, en vra hom om dit te voltooi deur die stukkies wat ontbreek te teken. Laat jou kind baie legkaart bou, sonder die prentjie. Leer jou kind dat een taak eers afgehandel moet word voordat die volgende taak aangepak moet word.
Vorm-Konstantheid is die vermoë om te weet dat die basiese eienskappe van ‘n vorm/voorwerp dieselfde bly al verander mens die kleur, grootte of die posisie daarvan. Met ander woorde, ‘n vierkant bly ‘n vierkant, maak nie saak of ek sy kleur verander, sy grootte verander of hom op sy sy draai nie. Baie kinders is gou om te sê dat ‘n vierkant wat op sy sy gedraai is, ‘n diamant is.
Kinders het die vaardigheid nodig om die grootte, afstand en hoogte van verskeie objekte te kan identifiseer en organiseer. Op skool het hulle nodig om letters en woorde te kan identifiseer al is dit in ‘n ander font. Soos byvoorbeeld ‘n woord op ‘n padteken, woorde in ‘n boek asook handgeskrewe notas.
Hoe kan jy help? Skep baie geleentheid vir kinders om items wat die selfde eienskappe het te organiseer. Gesels oor hoekom hulle verskil en waarom hulle deel vorm van dié groep. Soos byvoorbeeld, hierdie is ‘n klein pienk vierkant, en hy pas by die vierkant groep.
Ruimtelike Oriëntasie is hoe ons spasie om ons ervaar. Die vaardigheid bestaan uit twee dele:
Ruimtelike verhoudings. Dit is waar ons objektief kyk na waar items is in verhouding tot mekaar. Byvoorbeeld, die bal is voor die stoel en die stoel is langs die tafel.
Posisie in die ruimte is subjektief, waar ek is in verhouding met dit wat om my is. Byvoorbeeld, ek staan langs die bal, maar as ek my voete draai kan die bal voor of agter my wees, afhangende van waarheen ek my voete draai.
Ons benodig die vaardigheid om ons lyf deur verskeie ruimtes en spasies te navigeer. Hierdie is ook een van die baie vaardighede wat ontwikkel wanneer babas kruip. Op ‘n skolastiese vlak is dit belangrik vir letter vorming. Om seker te maak dat die letters soos die ‘b’, ‘d’,’p’ en ‘q’ reg geleer en verstaan word.
Visuele persepsie word eers geleer en ervaar met ‘n mens se hele lyf (kinestetiese vlak) en daarna op ‘n drie-dimensionele vlak en laastens op twee dimensionele vlak. Meeste skoolwerk gebeur op ‘n twee-dimensionele vlak. Arbeidsterapie het die vermoë om kinders te help om hulle visuele persepsievaardighede te identifiseer, te korrigeer en verder te ontwikkel.
Bogenoemde artikel is deur ‘n onafhanklike persoon, onderneming of instansie saamgestel. Menings en standpunte wat in die skrywe gestel word, is nie noodwendig die standpunt of beleid van KragDag, sy werknemers, die nuusbriefredakteur of enige van sy aandeelhouers nie.