KragDag deur die jaar – Jou gids tot selfstandigheidsoplossings

KragDag gebeur nie net een keer per jaar, wanneer mense in hulle duisende op Diamantvallei Landgoed toesak nie. KragDag gee jou heel jaar lank die geleentheid om jou lewe meer staatsbestand en selfstandig te maak.

Uitstallerslys:
Die hoofinskrywing op die KragDag kalender, is natuurlik die jaarlikse ekspo. 2023 was die eerste jaar dat ons die Sakeliga KragDag Ekspo beide in Gauteng en in die Wes-Kaap aan gebied het. Dit gee ‘n groter gedeelte van Suid-Afrika se publiek toegang om ‘n ekspo in lewende lywe by te woon.

Wanneer die ekspo verby is, is die lys van uitstallers nog steeds beskikbaar op ons webblad, tot kort voor die volgende jaar se ekspo. Op die webwerf word die KragDag Sentraal uitstallers en KragDag Weskaap uitstallers onder twee kiesbalk inskrywings gebêre.

Die voordeel wat dit vir jou inhou, is dat jy kan teruggaan na die webblad toe om die uitstallers se kontakbesonderhede te kry.

Dit gebeur ook somtyds dat jy ‘n tyd na KragDag op soek is na ‘n spesifieke diens of produk. In daardie geval kan die uitstallerslys jou ook help. Blaai eenvoudig deur die lys van uitstallers, amper soos wat jy deur die stalletjies sou stap, op soek na ‘n besigheid wat jou daarmee kan help.

Daar is ook ‘n baie handige soekfunksie. So kan jy enige sleutelwoord intik en al die resultate kry wat daardie woord in het. (Soms moet jy bv. “solar” en “sonkrag” gebruik om al die resultate te kry.)

KragDag is net ‘n platvorm. Ons skep die platvorm waarop mense soos ek en jy met besighede kan kontak maak.

Kursusse:
KragDag bied gereeld kursusse aan, waardeur jy jou kennis en vaardighede kan uitbrei.

In die nuusbrief is daar gewoonlik skakels wat jou na verskeie kursusse se inligtingsbladsye toe vat. Gaan kyk gerus in die ‘Gebeure’ afdeling van die nuusbrief om te sien watse kursusse op ‘n gegewe stadium beskikbaar is. Hou dit dop, soms mag daar ‘n kursus wees wat jy sal geniet, of wat jou net met die volgende fase in jou lewe sal help.

Ander Ekspo’s
Die KragDag span is heeljaar lank besig om aan ‘n verskeidenheid onderwys ekspo’s te werk.

Die volgende tuisonderwys ekspo is op 14 Oktober 2023 in Kaapstad. Dan is daar ook die Tuisonderwys ekspo in Durban en die Alternatiewe Onderwys Ekspo wat in Pretoria aangebied word.

‘n Nuwe toevoeging is die Mega T Ekspo wat van 5-7 Oktober 2023 op die KragDag Terrein (Diamantvallei Landgoed) aangebied word. Hierdie ekspo is gerig op die padvervoer bedryf en vir die publiek is die Saterdag ingerig in die vorm van ‘n trokkefees.

Opbouende Leesstof:

KragDag se gereelde nuusbrief en hierdie gemeenskapsblad bestaan om aan die KragDag gemeenskap goeie leesstof beskikbaar te maak.

Dit bestaan uit artikels, boekresensies, nuus en gebeure, en artikels of videos wat buitekant die KragDag Gemeenskap webblad lê.

Die boekresensies vertel van nuwe vrystellings wat `n wye segment van ons lesers se belangstelling prikkel.

By elke boekresensie word daar die geleentheid gegee dat ‘n KragDag Nuusbrief leser die boek waaroor die resensie gaan, kan wen.  Hou die afdeling in die nuusbrief dop, onder ‘Gratis Weggee’, of onder die boekresensies.

Dan verder af in die nuusbrief, is daar ‘n mini biblioteek van aanlyn artikels en video’s wat die onderwerp van selfstandigheid aanraak. Hierdie artikels brei jou kennis uit, knap jou vaardighede op, lig soms aktuele nuus uit, prikkel jou kreatiwiteit en help jou om oplossing te kry vir ‘n verskeidenheid probleme.  Dit val onder die afdeling ‘Die moeite werd om te lees.’

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui