Annerle Barnard

Annerle Barnard is op 30 April in Musina gebore. Aan die einde van haar Graad 4-jaar verhuis hulle en verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. Sy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Wolmaransstad. In 1993 voltooi sy ’n BA (Hons) (Engels) aan die Noordwes-Universiteit. Daarna volg 'n Hoër Onderwys Diploma. Aanvanklik hou sy skool, maar begewe haar later in die korporatiewe sektor. Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe, stiefdogter. Sy hou van lees, reis en die natuur. En noodgedwonge kyk sy redelik baie sport. In 2017 word haar debuutroman, Sweepslag, benoem vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur. In 2019 word Sindikaat bekroon met die silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur. In 2021 word Spel benoem vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur. (Die wenners behoort teen die einde van 2021 aangekondig te word.)