
Goggas – ons redding
As mense aan goggas dink dan is dit selde met bewondering of respek. So dikwels hoor ‘n mens: “hierdie blerrie vlieë!”of, “tjek vir bosluise!” of, “ek weet nie hoekom muskiete bestaan nie!” of, “pasop – daar’s ‘n spinnekop!” Baie van die verwysings na insekte in die Bybel is negatief soos die plae van vlieë en sprinkane. Dit is dan ook verstaanbaar dat mens in elke kettingwinkel, kafee en natuurlik koöperasie insekgif kan koop.
Maar daar is gelukkig ook positiewe verwysings na insekte in die Bybel, soos eetbare sprinkane en heuning (en dus bye). Hierdie is natuurlik vanuit die menslike oogpunt. Insekte is, naas bakterieë, swamme en plante sekerlik dié belangrikste bousteen van die ekologie. Elke organisme het ‘n plek of ‘n “werk” in die ekologie, anders sou dit nie bestaan het nie.
Daar is oor ‘n miljoen bekende insekspesies – dit is meer as al die ander spesies plante, swamme en ander diere saam! Daagliks word daar nuwe spesies ontdek en ons vermoed dat daar moontlik selfs tot 10 miljoen insekspesies op Aarde is. Dit is dan ook doodlogies dat, as jy helfte van die spesies op Aarde uitwis, sal daar bitter weinig van die ekologie oorbly.
Die ekologie op land (buiten natuurlik Antarktika) is absoluut afhanklik van insekte. Insekte is onder andere verantwoordelik vir bestuiwing asook vir die afbreek van dooie plantmateriaal, dierkarkasse en mis wat belangrik is vir kompostering. Insekte is verder ook verantwoordelik vir die belugting van die bogrond, beheer van pesspesies en dien as kosbron vir meer as helfte landlewende werweldierspesies. Om dus die rol van insekte in die ekologie te minag is soos om met ‘n brandende vuurhoutijie in kruitfabriek rond te loop!
Dikwels dink mense dat dit net genoeg is om die heuningby te probeer red. Inderdaad, as dit nie was vir die heuningbye se bestuiwing van ons kosplante nie, sou ons omtrent driekwart van ons kosse verloor. Maar weereens kyk ons slegs na ons eie direkte behoeftes. Ons kyk nie wyer na die ekologie nie. Daar is ongeveer 1000 byspesies in Suid-Afrika waarvan die heuningby maar een is! Hou ook in gedagte dat die blomplante van Suid-Afrika ÁL daardie spesies bye benodig om te bestaan. Hiersonder sal ons die meeste van ons meer as 20 000 plantspesies verloor wat hierdie bye bestuif word. As ons daardie plante verloor, verloor ons die meeste van die dierspesies wat direk of indirek daarvan afhanklik is.
Insekgetalle en insekverskeidenheid het met ongeveer ‘n driekwart in ontwikkelde lande oor die laaste 50 jaar afgeneem. Die hoofoorsaak is die gebruik van gifstowwe. Ons ekologie is reeds besig om op ‘n mespunt gebalanseer te word – selfs nog voor die impak van klimaatsverandering in aanmerking geneem word. Dit is daarom baie belangrik om ‘n manier te vind om met insekte saam te leef en hulle toe te laat om hulle ekologiese rol te vervul – al is dit net omdat ons vir nog ‘n bietjie langer op Aarde wil leef.
In my aanbieding by Kragdag vanjaar gaan ek kyk na maniere om insekte en ander diere in jou tuin te huisves en dit op so ‘n manier te bestuur dat dit ekologies-verantwoordelik is. Ek gaan ook praat oor die gebruik van insekte as hoendervoer en kos.
Kom luister gratis na Prof Francois Durand se aanbieding tydens Sakeliga KragDag op Vrydag 15 Oktober 2021 vanaf 15:45 tot 17:00 in die Raadsaal.
Ek stem 100% saam met u.Mense gryp alte dikwels te gou na die Doomblikkie.Ek wens mense wil net besef dat God ons almal met ñ doel geskape het.