EPOG – Die opkoms en val van die Weste

Ons het die einde van ‘n epog bereik – ‘n merkwaardige tydperk van groot geskiedkundige belang in die menslike geskiedenis. Ons is getuies van die val van die Weste, en tegelyk die einde van die Westerse beskawing. Dit kan slegs geklassifiseer word as die mees monumentale geskiedkundige tydstip sedert die val van Rome in 476 nC. ‘n Debat hieroor is eintlik onnodig. Of dit nou volgens morele, ekonomiese, kulturele, sosiale, geopolitiese of godsdienstige maatstawwe sou wees – feit bly staan, die Weste het geval.

Die Weste het twee dinge gelyktydig verloor, en hierdie twee elemente kan nie geskei word nie. Dit het beide sy Christelike fondamente verloor en die beskawing wat daarop gevestig is. ‘n Mens kan nie goedsmoeds die fondamente waarop ‘n toringhoë vesting operig is, vernietig en verwag dat dit staande sal bly nie. Ná die val van Rome het die Christelike wêreld- en lewensbeskouing vir die volgende duisend jaar die grondslag gevorm van Christelike uitgangspunte met betrekking tot die reg, kultuur, politieke vryhede, ekonomie, wetenskap, liefdadigheid, gesinslewe, seksualiteit en onderwys. Reusagtige ekonomieë, robuuste samelewings en magtige state is op hierdie fondamente gebou. Maar hierdie fondamente is met verloop van die tyd – en veral gedurende die laaste twee eeue – stelselmatig ondergrawe. Grondslae wat oor ‘n duisend jaar gelê is, word egter nie skielik afgebreek nie. Die proses het lank reeds begin met die Italiaanse Humanistiese, mensgesentreerde Renaissance, en daarna het die Humanistiese Verligting die Protestantse lande Duitsland, Engeland en Skotland stadig maar seker gekorrupteer. Invloedryke magte het nasionale instellings, veral die universiteite en kweekskole, die media en die massakultuur, stelselmatig ontmagtig.

Kerkbywoning in Westerse lande soos Engeland, Frankryk, Nederland en Skotland is tans in enkelsyfers. Die Christelike kerk het misluk as die primêre morele invloed op die nasies. ‘n Paar simbole bly oor van ‘n afgeleefde Christelike godsdiens, wat eens met groot katedrale en invloedryke Christelike geloof gespog het. Die Katolieke en Protestantse kerke het toenemend liberaal geword of ‘n gebrek aan geloof en geestelike krag getoon deur ‘n skynbare eindelose reeks ontstellende skandale (wat meesal die molestering van kinders behels). Sosialistiese regerings is oral aan die bewind. Vryheid kwyn. Staatsbesteding as ‘n persentasie van die Bruto Nasionale Inkomste het tussen 1900 en 1965 algaande toegeneem. Daardie verhouding het sedert 1965 vir die meeste Westerse nasies met ‘n verdere 50% gestyg. Freedom House, ‘n organisasie wat sedert 1948 die vryheid in nasies regoor die wêreld moniteer, het sedert 2006 elke jaar ‘n algehele verlies aan vryhede wêreldwyd gekatalogiseer. Wat die nasionale morele en sosiale indekse betref, is daar vandag in geen Westerse land enige betekenisvolle beperkings meer op aborsie, die gebruik van aborsiemiddels, seksuele perversies of egskeiding nie. Die karakter van nasies is besig om geslag vir geslag te disintegreer, in ‘n wêreld waar 40-60% van alle kinders vaderloos gebore word, die helfte van huwelike eindig in egskeiding, 80% van alle jong mans verslaaf is aan pornografie, 80% van alle jong paartjies die huwelik uitstel, en slegs 5% van die bevolking kerkdienste bywoon.

Die res van die wêreld behoort uiters besorgd te wees oor die val van die Weste, want hierdie ramp sal sekerlik elke land ter wêreld raak. Ondanks al sy sondes het die VSA en die Weste nog steeds oor die jare grootliks tot die res van die wêreld bygedra deur ekonomiese handel, deur wetenskaplike en mediese ontdekkings, deur sendingwerk, deur die verdediging van godsdienstige en politieke vryhede, deur die bydraes van liefdadige inisiatiewe, en deur morele en sosiale stabiliteit aan die wêreldtoneel te bied. Maar waartoe sal die val van die Weste uiteindelik lei?

*****

Om lesers op hierdie stadium nie totaal moedeloos te laat nie, laat my eindig met ‘n paar ligpunte van hoop en leiding vir die toekoms.

1. Daar is steeds ‘n erfenis om te bewaar – en hierdie duisendjarige erfenis het die wêreld tot in die 21ste eeu geseën. Ek katalogiseer hierdie ryk erfenis in my boek EPOCH, wat vooruitgang in eerlike ekonomieë, betekenisvolle vryhede, Christelike onderwys, liefdadigheidstelsels, egte wetenskap (teenoor die moderne pseudo-wetenskap) en volhoubare kulturele stelsels (musiek, kuns, ens.) insluit. Ons moet gedurende hierdie tydvak van dekonstruksie en ineenstorting hierdie goeie erfenis aan ons kinders oordra. Ons vertrou dat, deur God se genade, ons kinders of ons kleinkinders tuine in die as van ‘n post-Christelike tydperk sal plant. Dit is hoekom ouerlike dissipelskap en opvoeding van die opkomende geslag van sulke groot belang is. Terwyl die Marxiste en post-Christelike humaniste hulle met oorgawe beywer vir ‘n vernietigende agenda in ‘n revolusionêre era, moet ons nogtans ‘n konstruktiewe toekomsblik vir ons eie gesinne en gesonde gemeenskappe behou.

2. Laat ons voortgaan om aan die basiese boustene van die menslike samelewing te werk. Alhoewel ons nie die politiek of enige ander lewensterrein kan veronagsaam nie, is daar nie veel wat in die politiek gedoen kan word nie. Ons fokus moet baie eerder gerig wees op die bou van sterk gesinne, sterk kerke, sterk private liefdadigheidsorganisasies, en sterk openbare liefdadigheid en sterk plaaslike gemeenskappe.

3. Terwyl ons op pad is na ‘n tyd van agteruitgang en pessimisme, laat ons nie die hoop van die Evangelie, en die opdrag wat Christus aan ons gegee het, verlaat nie. Ons moet steeds die nasies dissipel deur hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het (Matt. 28:18-20). Wat ook al gebeur, laat ons in ons missie volhard. Kom ons gee ons kinders ‘n optimistiese siening van die geskiedenis en die toekoms – en dit is wat ons probeer het om te doen met ons Generations-kurrikulum vir kinders. Jesus het die wêreld oor 2 000 jaar verander. Terwyl ryke kom en gaan, en nasies opstaan en val, het die positiewe invloed van Jesus op die wêreld deur die eeue geleidelik toegeneem. Ons beveel ‘n wêreldwye, 2 000 jaar siening aan van wat Christus bereik het, eerder as om alle hoop en verwagtinge te baseer op nasionale trots, etniese trots, of trots in ‘n mens se eie prestasies.

Dit is moeilik om ‘n boek van 800 bladsye oor die mees monumentale wêreldgebeurtenis sedert 476 nC in net ‘n paar woorde op te som. Daar is meer om te sê. Ek beveel my boek “Epoch, The Rise and Fall of the West” aan as ‘n belangrike leesstuk. Die manne van Issaskar van die Ou Testament het die tye verstaan, sodat hulle sou weet wat om te doen. Dit is hoekom ek hierdie boek geskryf het. EPOCH is beskikbaar by za.generations.org.

Kevin Swanson bied ‘n Tuisskool en Familie Konferensie aan op 20 en 21 September 2024, by Brooklyn Kerk in Pretoria. Dit is gratis om by te woon, maar u kan vooraf hier registreer. Klik HIER om die program vir die 2 dae te besigtig.

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Kevin Swanson
  • Kevin Swanson

One Comment

  • Ek is tans besig met n ECD by my huis en ek leer die kinders AL vroeg bybel skrifte so ek Sal graag Meer Wil leer en toepas by my dag sorg

    Ek Sal ook voor bereid Wil wees vir tuis skool ek ho van wat ek van u gelees het

    Ek bly in n gang gevestitige area waar daar baie gehelp moet word
    Elsies River Good wood kaap stad

    Dankie by voor baat

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui