Só vestig Akademia ’n vernuwe Afrikaanse universiteitwese
Suksesvolle kultuurgemeenskappe benodig gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Daarom het Solidariteit destyds vanaf 2010 begin dink, droom en bou aan die idee van Akademia – om ’n onafhanklike akademiese tuiste vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe daar te stel. Na twee jaar se beplanning en ontwikkeling ontvang dié instelling op 3 Januarie 2012 die nuus dat Akademia suksesvol as ’n private hoëronderwysinstelling geregistreer is. Akademia laat nie op haar wag nie en verwelkom slegs twee maande later 42 studente oor vyf programme.
Gesien in die konteks van die tyd, was hierdie ’n versiende projek – openbare universiteite soos die Puk, Maties, Kovsies en Tuks het op daardie stadium steeds Afrikaans as primêre onderrigtaal gebesig. Min het ons geweet dat universiteite sou wegskram van Afrikaans as onderrigtaal en dat Akademia juis ’n selfs belangriker rol in die universiteitswese sou speel.
Hoekom die reusetaak aanpak om ’n Afrikaanse universiteit te bou? Talle kenners en denkers het al aangevoer waarom gemeenskappe ’n eie universiteit moet hê vir suksesvolle voortbestaan. Hierdie verskynsel kan nie self gebeur nie, en is dit ons verantwoordelikheid om as gemeenskap ’n selfstandige universiteit wat in ons moedertaal bedryf word op die been te bring. Sodoende kan ons jongmense ongesteurde toegang tot wêreldgehalte opleiding in ’n vriendelike en veilige omgewing ontvang.
Vandag is ons baie dankbaar dat Akademia reeds vanaf 2012 met klasse begin het. Nou, byna ’n dekade oud, groei Akademia teen ’n snelle pas en word die instelling se aanbod jaar na jaar groter en beter. Vanaf 2021 is twaalf kwalifikasies oor vier fakulteite in die nauurse onderrigleermodel aangebied. Hierdie model span die jongste onderrigleer- en kommunikasietegnologie in ter ondersteuning van studente, en is veral aantreklik vir werkendes wat wil studeer.
Covid-19 het reeds vanaf verlede jaar akademiese kalenders ontwrig en doen dit tot ’n mate steeds. Akademia se nauurse onderrigleermodel, wat met gevorderde tegnologie geïntegreer is, verseker egter ononderbroke studies. Studente het ’n keuse tussen regstreekse klasbywoning aanlyn via die e-leer opsie of by een van die twaalf landswye studiesentrums. Studente kan ook tussen die twee opsies skuif namate hulle omstandighede verander. Regstreekse klasaanbiedings word ook opgeneem en ná die tyd beskikbaar gestel om selfs verdere akademiese ondersteuning te bied.
Volgens Paul Vogel, bedryfshoof by Akademia, word die instelling oorweldig deur navrae vanaf so ver as Dubai, Nieu-Seeland en Nederland. “Daar is ál minder geleentheid vir studente om internasionaal en selfs nasionaal in Afrikaans te kan studeer, en die behoefte na gehalte moedertaalonderrig het toegeneem.”
Volgens Sean Blignaut, ’n finalejaarstudent in BCom (Bestuursrekeningkunde) wat klasse aanlyn vanuit Nieu-Seeland bywoon, is dit ’n voorreg om in jou moedertaal te kan studeer. “Akademia is ’n baanbreker in Suid-Afrika, en beslis ook wêreldwyd, en het vir seker uitgestaan met die ontwrigting wat die Covid-19-pandemie verlede jaar veroorsaak het.”
’n Bykomende studiekeuse is vanjaar in die vooruitsig gestel. Studente draf voltyds in hulle moedertaaltaal klas op die nuutingerigte Centurion-kampus. Hier neem hulle aan ’n lewenskragtige studentelewe deel wat bydra tot die groei en ontwikkeling van hulle menswees. Hierdie eerste studente is baanbrekers in die vestiging van tradisies, en ontvang wêreldgehalte onderrig in hulle moedertaal.
Die kampus is sentraal in Centurion geleë, binne loopafstand vanaf die Gautrein-stasie en ’n inkopiesentrum. Dit is ingerig met hoëspoedinternet, ’n biblioteek, kafeteria, studenteverblyf, sewe klaskamerlokale, sekuriteit en ’n lieflike ouditorium. Studente neem ook deel aan aktiwiteite soos ’n eerstejaarskamp, gholfkompetisies, debatvoering, aksiesport, pretstappe, dramaklasse, ’n erfenisvereniging en selfs ’n wynvereniging om maar net ’n paar te noem.
“By Akademia strewe ons daarna om’n akademiese tuiste te bied waar hart en denke gevorm word vir ’n betekenisvolle en vrye toekoms,” sê Vogel. “Daarom sal studente, ongeag die model wat hulle kies, nie net boekkennis ontvang nie, maar werklik gevorm word in hulle menswees sodat hulle die werksplek as opgevoede graduandi kan betree. Akademia het uitnemende akademici en ondersteuningspersoneel aan boord om hierdie opvoedingsideaal met kurrikula en studente-aktiwiteite te vervleg.”
Akademia se toekomsplanne is rooskleurig en sal daar in die toekoms ’n omvattende residensiële kampus die lig sien. Hier sal 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente op ’n pragtige kampus in Pretoria kan studeer. Die ontwikkeling van kwalifikasies oor sewe fakulteite is tans in proses, met die uiteindelike doel om ’n volledige programaanbod oor verskeie dissiplines aan te bied.
Akademia beoog nie om bloot die universiteitswese wat baie van ons en ons ouers geken het weer te laat herleef nie, maar om selfs nóg meer as dit te bereik. Ons voorsien ’n universiteit wat nie net wêreldklas opleiding aan ons gemeenskap bied nie, maar ook die klassieke rol van die universiteitswese vervul – om jongmense tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. Akademia werk onophoudelik in geloof, hoop en liefde om dít vir ons gemeenskap tot stand te bring. Só vestig ons ’n vernuwe Afrikaanse universiteitswese.