Die Pestalozzi Trust
Ons beskerm tuisonderwys en veg teen die BELA-wet
Die Pestalozzi Trust is in 1998 gestig om die vryhede en regte van ouers wat tuisonderwys kies, te beskerm. Onder Suid-Afrika se vorige regering was tuisonderwys onwettig.
Ouers wat tuisonderwys gekies het, het tronkstraf gekry. Na die aanvaarding van die grondwet, was daar ‘n nuwe skolewet. Aanvanklik wou die nuwe wetgewers tuisonderwys weer onwetting maak, maar, danksy ‘n toegewyde veldtog van die Vereniging vir Tuisonderwys en die hulp van tuisskolers in Suid-Afrika, is daar voorsiening gemaak vir tuisonderwys onder artikel 51 van die SA Skolewet van 1996. Onder hierdie wet moet tuisleerders geregistreer wees, en die onderwys wat hulle ontvang mag nie van ‘n laer standaard wees as die onderwys wat in die skole gegee word nie.
Daar was groot vreugde nadat die wet voorsiening gemaak het vir tuisonderwys, en die tuisskool-gemeenskap het sedertdien net eksponensieel gegroei. Die Vereniging vir Tuisonderwys het egter besef dat die wetgewing waarskynlik tot konflik tussen tuisskool-ouers en owerhede kan lei, omdat die wet onvoldoende beskerming bied aan ouers wat self wil besluit wat in hul kinders se beste belang is.
Om hierdie probleem op te los, het die Vereniging vir Tuisonderwys besluit om ‘n organisasie te stig wat op ’n volhoubare wyse die regte en vryhede van tuisskoolgesinne sou beskerm om daardeur ’n veilige ruimte vir tuisonderwys te skep. In 1998 is die Pestalozzi Trust gestig, wat vernoem is na Heinrich Pestalozzi, ’n Switserse onderwyskundige. Hy het geglo dat onderwys afgestem moet wees op die unieke persoonlikheid van elke individuele kind, en sy ideaal was dat elke moeder haar eie kinders kon leer. Die feit dat ongeletterdheid in 1830 in Switserland bykans heeltemal verdwyn het, word aan die werk van Pestalozzi toegeskryf.
In die eerste plek beywer die Pestalozzi Trust hom daarvoor om met wetgewers te skakel om te verseker dat wette en regulasies die regte en vryhede van tuisskolers omvattend beskerm. Dis om hierdie rede dat die Pestalozzi Trust tans veldtogte loods teen die Wysigingswetsontwerp vir Basiese Onderwys, of die sg. BELA Bill (Basic Education Laws Amendment Bill). Trustees van die Pestalozzi Trust is ook deel van die taakspan wat regulasies ontwikkel vir tuisonderwys.
Tweedens wil die Trust toesien dat alle ouers wat tuisonderwys kies, dit met gemoedsrus kan doen. Ouers moet in vrede kan fokus op hulle tuisonderwys, sonder om besorg te wees oor onregmatige inmenging deur owerhede. Gesinne wat aansluit by die Pestalozzi Trust ontvang ‘n noodnommer van die Trust. As daar ’n konfliksituasie ontstaan, kan ouers die noodnommer bel, en die Pestalozzi Trust kan namens ouers skakel met amptenare. Indien nodig, sal die Trust sy netwerk van prokureurs inspan om geskille in die hof te besleg. Die Pestalozzi Trust is bv. tans besig met litigasie teen die LUR vir Onderwys in KZN. Danksy die bestaan van die Trust is nog geen tuisskoler suksesvol vervolg deur die staat nie, ondanks vele pogings.
Sedert 2012 het die Pestalozzi Trust ook betrokke greraak by die beskerming van die grondwetlikke regte van klein skole. Hierdie sklein skole het grotendeels ontstaan uit tuisonderwys. Weens hierdie skole se grootte en die diversiteit van programme wat gebruik word, vind hierdie skole dit moeliker om te registreer as onafhanklike skole, soos deur die wet vereis.
Die BELA-wet:
Tans is die parlement besig om die BELA-wet te hanteer. Klousule 37 van hierdie wysigingswet is ontwerp om tuisonderwys te transformeer in blote staatsonderwys tuis, soos onlangs geartikuleer deur die Adjunkminister van Basiese Onderwys: “It will be brought into one court, one curriculum, directed by one department, be it a homeschooling like what we saw in China. The community based ECD where parents, they come twice a day to get, to be lectured whatever by the specialists. Then they go home, they teach the children, they come the following day, they give a report, and they get more lessons to go back to teach to their children. We’ll see what works best for South Africa.” Die Pestalozzi Trust het verskeie veldtogte teen hierdie wysigingswet geloods en die parlement moes al enkele konsessies maak. Daar is egter nog baie wat gedoen moet word.
Dis nie moontlik vir die Pestalozzi Trust om hierdie drakoniese inmenging in die soewereiniteit van die gesin en die regte van ouers stop te sit sonder die getroue ondersteuning van sy lede nie. Sluit dus gerus aan by die Trust indien u as ouers tuisonderwys kies vir u kinders, of as u ons stryd vir vryheid in die onderwys wil ondersteun.
Kontakbesonderhede:
Webtuiste: https://pestalozzi.org/en/home/
Cell: 071 192 6070