Dié Arabier is ‘n besondere woestyndier

Hierdie pragtige woestynperde is nie net mooi nie maar het ook ‘n besondere uithouvermoë

Die Arabierperd, wat vanjaar ook aanskoulik by KragDag teenwoordig sal wees, is die oudste bekende ryperdras in die wêreld. Hulle het in die woestyne van die Midde Ooste ontstaan waar hulle deur Woestyn-Arabiere op die Arabiese Skiereiland geteel is. Die Woestyn-Arabiere kan hul gemeenskaplike geskiedenis met die Arabierperd tot sover terug as 3000 vC naspoor en hulle hou nougeset rekord van die perde se stamboom.

Arabierperde is deur die Woestyn-Arabiere geteel as oorlogperde vir lang reise en om vyandelike kampe vinnig te kan inval. In hierdie strawwe woestyntoestande het die Arabierperd met sy groot longkapasiteit en ongelooflike uithouvermoë ontwikkel. As gevolg van die besondere genetika van die woestyn-geteelde Arabierperd, vloei hul bloedlyn vandag direk of indirek deur elke moderne perderas.

Skoonheid sonder gelyke

n Groot vloeiende oog, mooi konkawe gesigvorm, gepunte ore, oopgesperde neusgate en ‘n pragtige krom nek, gekombineer met ‘n sterk skelet, geheimsinnige intelligensie en grasieuse, opgewekte beweging – dit is die eienskappe van hierdie besondere perderas. Woestyn-Arabiere het al hierdie eienskappe weens praktiese redes uitgesoek. Die groot, oopgesperde neusgate het perde toegelaat om groot hoeveelhede lug tydens veldslae en lang ritte oor die woestynsand in te neem en het daartoe aanleiding gegee dat Arabierperde as “winddrinkers” bekendstaan. Die gepunte ore en krom nek is hoog gedra ten einde enige gevaar op ‘n afstand te gewaar. Die donker oë, groot in verhouding tot hul skedel, het lang wimpers om hul sig van die waaiende sand te beskerm. Die sterk skelet en fyn vel en haarbedekking, en selfs die bekende manier waarop die Arabier sy stert dra, het ook tydens lang ritte of veldslae gehelp om hul koel en gesond te hou en toegelaat dat meer hitte in die onvergewensgesinde klimaat weggelei word.

Die mees veelsydige perderas

Die onmiskenbare elegansie van die Arabierperd word in diverse perdedissiplines vertoon.

Moderne Arabierperde het steeds dieselfde eienskappe wat van hul voorgeslagte waardevolle oorlogsperde gemaak het. Spoed, stamina, intelligensie en ingesteldheid maak hulle gepas vir die meeste moderne perdesport en aktiwiteite.

Arabierperde is die voorkeurperde vir langafstandkompetisies en oorheers internasionaal die uithouritsport. Hulle maak ook elegante dresseerperde, blink uit op die renbaan en is indrukwekkend in die skou-arena, in plesierklasse, springklasse en halterwerk. Hulle is ook skouspelagtig in hul inheemse Arabierkostuumklasse. In Suid-Afrika presteer Arabierperde in teelklasse by die grootste skoue, sowel as SAEF-en SANESA-kompetisies.

‘n Familieperd

Die nomade moes gereeld nie net hul kos en water nie, maar ook hul woonareas met hierdie perde deel, vandaar die perde se noue verwantskap met mense. Slegs perde wat van nature ‘n goeie geaardheid gehad het, is toegelaat om te teel – vandaar die Arabierperd se goeie geaardheid. Die tipiese Arabierperd floreer op menslike kontak. Die ras is saggeaard, liefdevol en maklik om af te rig. Hulle liefdevolle geaardheid en hoë intelligensie laat hulle tussen ander rasse uitstaan. Arabierperde kan liefdevolle kamerade wees en is wonderlike gesins- en beginnerperde. Hul het al konings en pasjas in veldslae gedra en het baie jongmense oor die vreugde en verantwoordelikheid met betrekking tot die eienaarskap van perde geleer.

Strydom Arabierstoet

Tydens Sakeliga KragDag 2019 wat op 8-10 Augustus plaasvind gaan besoekers die geleentheid hê om met die Arabiere van die Strydom Arabierstoet kennis re maak. Die Strydom Stoet teel opregte en kwaliteit Arabierperde van ‘n internasionale standaard. Die Stoet het sedert dit begin is, heelwat sukses gehad deur baie Internasionale, Nasionale en Provinsiale kampioene te produseer en te skou. ‘n Aantal perde is ook na Europa en die Midde Ooste uitgevoer. Die Arabiermerrie,  FS Magnum’s Madonna (Magnum Psyche x *Tai Bey Brittney (VSA)) het die gesogte All Nations Cup Junior Female Championship gewen en is as ‘n klaswenner by die Wereldkampioenskappe in Parys aangewys.

 

Francisca  Strydom is van jongs af deur perde geboei en gefassineer, ‘n belangstelling wat toegeneem het toe sy ‘n Arabierperd as geskenk van haar ouers ontvang het. Op skool het sy reeds begin met die teel van Arabierperde en het sommer gou haar eerste Arabierstoet geregistreer. Francisca het haarself as uitsonderlike perdevrou bewys, met Internasionale titels in die skou-arena en op die uithouritbaan, waarvoor sy in 2005 Nasionale kleure ontvang het. Sy het ook die moordende Afrika Uithouritkampioenskap in Namibië gewen, was kampioen in halter by die toonaangewende Scottsdale Skou in die VSA, top drie in die Western Pleasure afdeling in Brasilië en het ook verskeie Nasionale titels in ‘n verskeidenheid dissiplines verwerf: Western, Country Pleasure, English Pleasure, Hunter en ook in die Halterskou-arena.

Jonty Strydom, volg in ma Francisca se voetspore en het in Julie 2018, toe hy net 11 jaar oud was, die kinderafdeling by die Fauresmith Nasionale uithourit-kampioenskapbyeenkoms gewen in 9 uur en 20 minute. Hy het FS Aurora Red gery, ‘n geregistreede grys Arabiermerrie.

Francisca Strydom en haar seun Jonty by die 2018 Fauresmith Nasionale uithouritkampioenskap

‘n Arabierperd vir jou

Indien jy op soek is na ‘n kameraad wat jou vennoot in avontuur of kompetisie en jou vriend vir die res van jou lewe sal wees, dan is ‘n Arabierperd vir jou. Arabierperdentoesiaste is van mening dat geen ander perd by die Arabierperd kan kers vashou wat betref skoonheid, atletiese vermoë, toewyding en kameraadskap nie.

Die Arabierperd is geskik vir beide beginners asook passievolle en ervare persone en verteenwoordig duisende jare se opregte telings met sy samestelling, intelligensie en persoonlikheid. Hy verwag van sy eienaar slegs dit wat hy self ook vrylik sal gee – wedersydse respek en lewenslange vriendskap. Arabierperde leer vinnig en wil graag tevrede stel, terwyl hul uitsonderlike nuuskierigheid en bereidheid hul speels maak – ‘n eienskap wat hulle waarskynlik nooit sal ontgroei nie.

Onthou om die Arabier te kom groet by Sakeliga KragDag se Landbou Sub-Ekspo vanaf 8 – 10 Augustus 2019!!

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.50 avg. rating (89% score) - 6 votes
Francisca Strydom
  • Francisca Strydom

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui