Bosveld Tuisgemaak – ‘n familie besigheid met ‘n verskil.
Enige besigheid het ‘n hart nodig. Óns besigheid se hart is Corlia Meiring. Oudste dogter van Zachie en Pearl Janse van Rensburg is gebore in Reitz in die Vrystaat en daarna getoë en geleer in Wilro Park, Roodepoort. Van kleins af het sy begeer om te kan vrugte inlê, konfyt kook, brood bak en nog vele meer. Ma Pearl het koekies en beskuit gebak waarby die hele gesin betrek was – sommer met die “Springbok” vleismeule. Pa Zachie het die meule gevoer, Ma Pearl moes bont staan met die vang van die deeg en Corlia en Arno moes panne pak.
Haar belangstellings eindig egter nie in die kombuis nie. Sy hou ook van die natuur, die buitelug en die plaaslewe. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, selfs met staalwerk en bye-hervestiging doen sy haar deel.
Die ander kant van hierdie muntstuk is Jan Meiring. Hy is die oudste seun van Piet en Mariana Meiring, ook gebore in Reitz, maar getoë en geleer in Petrus Steyn in die Vrystaat. Jan het ‘n groot liefde vir die buitelug, boer en ‘n natuurlike aanvoeling vir kos en rekenaars. Jan het groot geword op ‘n plaas tussen Petrus Steyn en Lindley waar jy ook die Peerland Padstal sal raakloop. Daar word die lekkerste konfyte, heuning, droëwors, biltong en nog vele meer verkoop. Peerland Padstal wat reeds in die vroë ‘70s sy ontstaan het, bestaan nog steeds en word deesdae deur pa Piet en jonger broer Jaco en gesin bedryf.
Die Begin
Bosveld Tuisgemaak het op 16 Oktober 2004 ontstaan. Ons het baie klein begin met ons eerste Greenpepper blatjang (Soetrissie), wat nog steeds een van ons top verkopers is. Ons eerste blatjang en konfyte het ons gekook op ‘n plot in Lusthof, net Noord van Pretoria. Op Lusthof staan die mooiste bome wat deel vorm van ‘n Bosveld-bioom en mens voel hier tuis – vandaar ook die naam “Bosveld Tuisgemaak”. Met ons verblyf op Lusthof het ons ‘n trop Saanen melkbokke gehad, wat die inspirasie is vir die bok op die embleem. Elke bokram, -ooi en -lam het sy eie persoonlikheid, maar hulle was stout verby! Ons het begin met ‘n 8 liter koperbodempot, wat ons as trou geskenk ontvang het. Dit was egter baie vining te klein vir die aanvraag en ons het ons eerste 30 liter vlekvrye staal pot aangekoop van Michael Behrens van Mima Catering.
Branders van die lewe
Sodra ons goed op dreef was was dit nodig dat Jan van werk moes verander. Dit het tot gevolg gehad dat ons dikwels van een plek na ‘n volgende moes trek. Met elke trek moes mens maar weer begin en die leertjie weer van onder af uit te klim. Ons sal nog eenmaal trek, die keer plaas toe, maar dan trek die besigheid saam. Tot en met Oktober 2020 was Bosveld Tuisgemaak soos ‘n stokperdjie. Ons het wat ons kon kry verwerk en ons produkte aan ‘n paar verskillende besighede gelewer en ook op ‘n paar markte en ander plekke verkoop. Gedurende September 2020 is Jan by die maatskappy waar hy werksaam was afgelê weens die Covid-pandemie. Sederdien is Jan voltyds betrokke by Bosveld Tuisgemaak. In Oktober 2020 was ons ook genoodsaak om ander werk te doen ten einde die rekeninge te kan betaal. Uit nood gebore, met die hulp van Corlia se broer Arno, het ons begin met byehervestiging en staalwerk vir sonkragstelsels, onder andere vir batterye, en hakies vir sonpanele op teëldakke.
Gesins besigheid
Ons kinders Pearl, Piet en Mariana het ook ‘n eie been van die besigheid. Hulle vervaardig en verpak “Hot Chocolate Bomz”. Baie lekker vir die wintersdae, ‘n koppie warm sjokolade met net die regte hoeveelheid hoë gehalte sjokolade.
Elke nou en dan, wanneer ‘n swerm bye hul intrek geneem het waar dit ongerief of gevaar vir mens en dier inhou, gaan hervestig ons die bye. Hiertydens word elke lid van die gesin aangewend, die kinders een of twee op ‘n slag. Ons as ouers poog om só kundigheid oor te dra na die volgende geslag. Soos in Corlia se kinderdae moet die kinders ook soms van hulle vrye tyd inboet vir koekies bak. Ons sal graag die besigheid wil opbou vir ons kinders, maar dit is vir ons belangrik dat elkeen van hulle vir hulself besluit oor hulle toekoms.
Vir enige navrae kontak ons gerus:
Jan 081 270 6760
E-pos: jan@bosveld.za.net of pepima62@gmail.com
Kuberruimte: http://www.bosveld.za.net
Facebook-bladsy https://www.facebook.com/bosveldhomemade
Genade en groei
As gesin werk ons baie lekker saam as ‘n span – elkeen het sy eie plekkie en takie.
Deur alles heen kan ons die Hand van ons Hemelse Vader sien en beleef. Ons het in die afgelope jaar elke maand verbeter op die verkope van die vorige maand. Alle lof en eer aan ons Hemelse Vader!
Ons wil graag aflsuit met die woorde van 2 Korintiërs 12:9 :
“Sy antwoord was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”
En Filippense 4:13 :
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”