Volhoubare wateralternatiewe

Suid-Afrikaners word daagliks belas met nuus van waterinfrastruktuur wat nie onderhou word nie en gevolglik besig is om in duie te stort.  Die realiteit van droë krane is besig om soos ‘n kanker deur ons land te vreet.  Saam met die talle kragonderbrekings wat alle bedrywighede beïnvloed, noop dit ons om alternatiewe oplossings te soek.

Daar is ‘n wanopvatting dat die owerhede nog in staat is om ons watersekuriteit te bevorder. Die tyd het gekom dat elke individu en besigheid sélf verantwoordelikheid moet neem.  Dit is ook waar die waterindustrie nou hande moet vat en die verbruiker moet inlig en onderrig oor die voordele en belangrikheid van volhoubare wateroplossings.

Die werklikheid is dat daar reeds soveel alternatiewe oplossings bestaan, dat daar nie meer verskonings hóéf te wees wanneer daar geen water in die krane is, plante en gewasse vrek, of toilette nie gespoel kan word nie.

Jou swembad as reservoir

Chloor-of soutwater is nie geskik vir direkte gebruik uit die swembad nie, maar kan deur behandeling met ‘n ultravioletlig (UV), jou swembad in ‘n varswater bad omskep.  Jou terugspoelwater kan tuin toe gaan sonder om die tuin te besoedel, en dit kan ook dien as noodwater.

Die water is ook geskik vir meer gebruike as net toiletspoel – jy kan selfs daarin stort, bad en wasgoed was. Dit is nie drinkbaar nie.

Die nadeel van UV-behandeling is dat daar geen vorm van behandeling plaasvind wanneer die pomp af is nie, en alge dan onverpoosd kan groei.  Die antwoord hierop is ‘n kombinasie van UV-behandeling en klein hoeveelheid koperdosering.  Daar is produkte op die mark wat spesifiek ontwikkel is om beide UV en lae dosis koper in kombinasie te gebruik.  Koper hou die groei van alge onder beheer wanneer die pomp nie loop nie, en die elektroniese beheer van koperdosering verhoed dat daar te veel koper in jou bad beland.

Reënwater-oes

Daar is ‘n mite dat reënwater-oes baie min beteken in droogte toestande.  Die waarheid is dat 1mm reën op 1 vierkante meter dak spasie, gelykstaande is aan 1 liter water.

Op die einde van die dag, as ons dit in perspektief sit, kan 30mm reën ‘n maand, ongeveer 6 000 liter water vanaf ‘n 200 vierkante meter dak beteken.

Reënwater alleenlik kan dalk nie die totale aanvraag van ‘n huis of besigheid bevredig nie, maar dit help om die druk van die reeds oorlaaide munisipale stelsel af te neem.  Terwyl reënwater gebruik word, kry die munisipale stelsel kans om op te vang, en behoort daar dus meer water in die reservoirs beskikbaar te wees wanneer die tenk leeg is.  Dit is ook moontlik om ‘n stelsel so te bou dat dit outomaties oorskakel tussen reën- en munisipale water, waar reënwater of die primêre bron kan wees, met munisipaal as reserwe, of andersom.

Gryswaterstelsels

Gryswater is water wat reeds in jou huis gebruik word – dit sluit die water van jou toilet uit wat bekend staan as swartwater (riool).

Alle afvalwater kan hergebruik word vir toilet spoel en besproeiing van jou tuin.

Gryswater is bekend om ‘n baie slegte reuk te hê wanneer die gestoor of gebruik word. Dit maak dat mense hulle neuse optrek vir hierdie idee.  Met minimale behandeling kan hierdie probleem egter oorkom word – gryswater word helder van kleur, dit het geen reuk nie en sal nie die toilet of besproeiing stelsel verstop nie.

Behandel ál jou water en hergebruik dit

Soos met gryswaterstelsels, is daar stelsels wat geïnstalleer kan word om ál jou water (beide grys-en swartwater) op terrein  te behandel, en dan veilig te kan hergebruik vir toiletspoel en besproeiing.

Dit is egter belangrik om seker te maak dat die stelsel wat jy installeer, geen negatiewe impak op die omgewing sal hê nie, en wel watersekuriteit bevorder.

Deur beide swart- en gryswater te behandel, kan elke gemeenskap in die land toegang hê tot spoeltoilette, sonder om ‘n enkele druppel drinkbare water te gebruik.

Meeste klein rioolaanlegte is nie geskik vir stedelike gebruik nie.  Daar is egter wel enkeles wat ontwerp is om ewe goed in stedelike en landelike gebiede te werk. Maskam Water se aanleg is die enigste wat van een huishouding tot gemeenskappe kan hanteer, van informele nedersettings tot hoë-inkomste landgoedere, van binne-stedelike gebruik tot gebruik in die mees afgeleë gebiede.

Om ‘n sukses te maak van die idee van volhoubare water en alternatiewe oplossings, gaan daar eerstens ‘n verandering in denkpatroon oor hierdie oplossings moet wees. Tweedens gaan ons moet ophou praat en begin doen!  Ons water se toekoms is in óns hande.

Maskam Water is opgewonde om hierdie oplossings, en nog meer, ten toon te stel by KragDag Malmesbury en om ‘n werklike impak en verskil te maak.

Gerhard Cronje

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Gerhard Cronje
  • Gerhard Cronje
  • Gerhard Cronje
    Uitvoerende Hoof
    Maskam Water

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui