
Strategie vir huishoudings om onvoorspelbare elektrisiteit te hanteer
Onvoorspelbare elektrisiteitsonderbrekings en groot tariefverhogings het alreeds deel geword van ons lewens in Suid Afrika. Verskeie huishoudings probeer net om dit na die beste van hul vermoё deur te worstel. Die mees algemene oplossing is om ‘n kragopwekker aan te koop, wat sekerlik vir die onsekerheid van moontlike kragonderbrekings help, maar wat ongelukkig nie ideaal vir grootskaalse of langtermyngebruik in ‘n woongebied is nie. As alternatief, stel die skrywer voor dat ‘n gedeelde kragtoevoer (voltyds gedeel tussen Eskom en die son) deur huiseienaars geïmplementeer word. Dit is baie meer ekonomies as totale selfvoorsiening en gee ook gemoedsrus ten opsigte van moontlike kragonderbrekings. Buigsaamheid word só aan die huiseienaar gebied om met ‘n beskeie “groen” energie-kapasiteit te begin, wat geleidelik in die toekoms vergroot kan word. Tesame hiermee kan energieverkwistende huishoudelike apparate ook met verloop van tyd vervang word, totdat die huiseienaar se elektrisiteitsrekening uiteindelik net ‘n fraksie van die aanvanklike rekening is.
Koste-effektiewe Aksie teen Kragonderbrekings en Tariefverhogings in Suid-Afrika
Gedurende die afgelope dekade, in die besonder gedurende 2018, het daar baie dinge gebeur wat elektrisiteitsgebruikers se vertroue in die vermoё van Eskom en munisipaliteite ‘n knou toegedien het om kontinu elektriese energie te lewer. Verder was daar ook onsekerheid oor die toekomstige bekostigbaarheid van hierdie diens. Hierdie onsekerheid knaag gedurig, en laat ‘n mens wonder wat die beste strategie vir ‘n huisbewoner sal wees om hom- of haarself nie net teen willekeurige kragonderbrekings te vrywaar nie, maar ook om effektief beheer te verkry oor sy maandelikse elektrisiteitsrekening.
‘n Stereotipe vraag word nog dikwels gevra: Hoeveel sal dit kos om my hele huis, met bestaande elektriese apparate, van die kragnet te ontkoppel? Die kort antwoord is dat dit die onsekerheid oor kragonderbrekings dadelik sal besweer, maar dit is die heel duurste roete wat slegs beskore is vir enkele huiseienaars vir wie koste nie ‘n faktor is nie. Vir die meerderheid van huiseienaars egter, is dit veel beter om ‘n beplande strategie te volg wat gemoedsrus as eerste doelwit het, waarna apparate met onnodige hoё energie-verbruik stap vir stap aangespreek sal word. Dit word hieronder verder bespreek.
‘n Groot vooruitgang in tegnologie het in die afgelope dekade plaasgevind, wat baie meer buigsame en koste-effektiewe oplossings as in 2008 bied – toe petrol- of dieselkragopwekkers omtrent ons enigste keuse was. Om dit te illustreer, dink maar aan die volgende voorbeelde:
- Fotovoltaïese (PV) panele se pryse het gedaal tot ‘n fraksie van pryse in daardie tyd.
- Omsetters (gelykspanning na 230V wisselstroom) is baie kragtiger, meer gesofistikeerd en meer bekostigbaar.
- Batterye vir die stoor van son-energie is meer effektief.
- Kunsmatige Intelligensie(AI) word reeds ingespan om huishoudelike energiestelsels te bestuur.
In plaas daarvan om standaard-stelsels te gebruik, wat gemik is op verskillende oorsese behoeftes, is dit nou moontlik om nuwe strategieё te volg wat spesifiek saamgestel is om die behoeftes van Suid-Afrikaanse huishoudings aan te spreek. In eerste-wêreld lande byvoorbeeld, is daar baie selde kragonderbrekings. Verder is daardie huiseienaars baie meer op die ekonomiese aspekte ingestel, veral omdat hulle hul oormaat opgewekte elektrisiteit aan hulle elektriese diensverskaffer terug kan verkoop. In Suid-Afrika is nóg Eskom, nóg munisipaliteite hieroor tegemoetkomend.
In die lig hiervan word ‘n heeltemal nuwe “kopskuif” ten opsigte van betroubare en koste-effektiewe huishoudelike elektrisiteit vir Suid-Afrikaanse huiseienaars voorgestel:
- Installeer aanvanklik ‘n beperkte son-energiestelsel, net genoeg vir die mees kritieke huishoudelike apparate, sodat die huis permanent toegerus is met ‘n tweeledige energie-aansluiting (sien die illustrasie hieronder).
- Verminder afhanklikheid van Eskom substansieёl, maar nie totaal nie.
- Verander die rolle: Behou Eskom as bystand/ondersteuning vir sonkrag, en nie andersom nie.
- Vervang energie-verkwistende apparate geleidelik met nuwe energie-doeltreffende apparate wat aan die groen gedeelte (her)gekonnekteer kan word.
- Maak seker dat die aanvanklike beperkte son-energiestelsel uitbreibaar is met byvoeging van sonpanele en/of batterye – indien dit in die toekoms nodig sou word.
Om mee te begin, kan ‘n mens jouself ‘n praktiese vraag afvra: Watter aktiwiteite of funksies in die huishouding, indien dit as gevolg van ‘n kragonderbreking tot stilstand sou kom, sal regtig ontwrigting veroorsaak? Veronderstel al die huisligte asook een of twee muurproppe (vir die TV en rekenaar wat internet en WiFi insluit) is altyd beskikbaar. In so ‘n geval sal die kwaliteit van huislike lewe, vir ‘n groot aantal mense, skaars beïnvloed word. Dit kan bereik word deur ‘n beperkte aantal sonpanele (PV) sowel as ‘n paar son-energie batterye te installeer en om só bogenoemde kritieke apparate, insluitend selfs die yskas en vrieskas gedurende uitgerekte kragonderbrekings van dae, weke of langer, in werking te hou. Dit is belangrik in hierdie opsig om seker te maak dat al hierdie kritieke apparate wel energie-doeltreffend is, byvoorbeeld LED lampe in die hele huis, en geen 30 jaar oue yskaste nie.
Om afhanklikheid van Eskom te verminder, moet die huiseienaar ook kyk na die apparate wat normaalweg die grootste energie-vrate is, wat die duurste is om te bedryf, en wat in elk geval nie aan die groen stelsel konnekteer behoort te word nie. Hier dink ons aan byvoorbeeld elektriese geisers, verwarmers (veral ondervloerse verhitting), lugversorgers en die elektriese stoof. Daar kan heelwat in hierdie verband met direkte sonverhitting en gas gedoen word. Hou in gedagte dat dit nie dringend nodig is om onmiddellik van al hierdie hoё-gebruiksapparate ontslae te raak nie omdat hulle slegs aan die rooi gedeelte van die huis-stelsel gekoppel is – soos in die illustrasie hieronder getoon. Stelselmatig, met verloop van tyd kan dit, soos maandelikse finansies dit toelaat, aangespreek word, terwyl betroubaarheid, waarby dit regtig saak maak, reeds as ‘n prioriteit geïmplementeer is.
Om die nuwe bystandsrol te verduidelik:
Gedurende ‘n Eskom-kragonderbreking is slegs die munisipale (rooi) kant nie-funksioneel. Die groen energie-kant is altyd lewendig, met 230V wisselstroom wat verkry word vanaf gestoorde energie in ‘n groep batterye, via ‘n gelykstoom-na-wisselstroom omsetter (inverter). Die groen energie-kant sal slegs uitskakel indien die batterye te veel ontlaai het weens onvoldoende son-energie-opwekking gedurende swaar bewolkte weer. In so ‘n geval sal die intelligente omsetter/laaier betyds voorkomend optree om aanvullende laai-aksie met Eskom-energie uit te voer. Indien daar nie hierdie voorsiening bestaan nie, sou die groen energie stelsel met meer as 100% vergroot moes word – met ander woorde ‘n totaal onafhanklike groen energie-kant. Gelukkig is die statistiese waarskynlikheid dat swaar bewolkte weer presies sal saamval met willekeurige kragonderbrekings baie klein. Wanneer – indien ooit – so ‘n toestand voorkom, kan die huis-eienaar egter nog steeds die huisligte aan hou deur oordeelkundige besparing op gebruik van sommige apparate van eie keuse, totdat of die son of Eskom-krag terugkeer.

Hierdie voorstel vir huishoudelike elektrisiteitbronne is baie buigsaam. Aangesien dit effektief die huisbedrading in twee aparte stelsels opdeel, is dit moontlik om met ‘n beperkte groen energie-stelsel te begin. Op latere stadia kan verdere vermoё bygevoeg word. ‘n Verdere voordeel is dat die waarskynlikheid klein is dat elektriese stuwings, as gevolg van weerlig of onvoorsiene ongelukke/onderbrekings op die munisipale netwerk, na die groen stelsel sal deurkom. Sulke stuwings is dikwels die oorsaak dat yskaste, TVs en ander elektroniese apparate beskadig word.
Die belangrike boodskap hier is dat individue, as gebruikers van elektrisiteit, nie hulpeloos hoef te sit en wag (wat jare mag neem) vir die hoog-drama met gesentraliseerde elektrisiteitsopwekking om tot ‘n einde te loop nie. Hulle kan nou self besluite neem, wat nie in die verlede prakties uitvoerbaar was nie, om sodoende minder blootgestel te wees aan onvoorspelbare situasies en tariewe.
Hou verder in gedagte dat voornemende huis-eienaars wat beplan om ‘n nuwe huis te bou, ‘n voordeel het dat die koste van ‘n huis-energie stelsel noemenswaardig minder sal wees as dit as deel van die huis-ontwerp beplan word. Die koste kan dan deel vorm van die huislening wat uiteindelik slegs ‘n beskeie toevoeging tot die maandelikse huispaaiement sal maak.
‘n Voorbeeld vir lesers wat belangstel in spesifieke syfers
Die gevalle-studie hieronder van ‘n installasie wat reeds 2 jaar in werking is, dien as ‘n illustrasie en kan ‘n idee verskaf van wat om te verwag vir ‘n 3 slaapkamer huis met 3+ permanente inwoners, voor en na implementering van bogenoemde son-energie strategie. Eerder as om breë algemene terme te dink, is ‘n spesifieke voorbeeld meer doeltreffend om ‘n nuwe idee te verduidelik. Dit moet egter besef word dat hierdie plan van aksie op groter of kleiner skaal uitgevoer kan word met die oog op verskillende groottes van huishoudings, of vir verskillende oogmerke.
Skrywer: Theunis Verster (theunis.verster@gmail.com)
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Baie insiggewende artikel. Ek is tans sterk aan die beplan om ook my huis onafhanklik van Eskom te maak. Ek beplan om Songeisers te gebruik, PV-panele met ‘n “Hybrid” omsetter asook nuwe Lithium batterye. Ek het ook nog ‘n ou stadsraad meter met die wielietjie wat ek beoog om byna stil te laat staan vir bystandkrag. tans beloop my energieverbruik 3617KWh per maand met een son geiser en 2 gewone kragvreters, een boorgatpomp van 0,75kw, een swembadpomp vam 0,75kw en verdere kragvretende apparate. My ligte is almal LED. Enige voorstelle?
Dag Gerson,
As die hoofoorweging is om dadelik te bespaar op die 3617 KWh p mnd, sal die uitskakeling van elektriese geisers en vervanging met songeisers die grootste effek toon. Die swembadpomp kan ook sowat 250 KWh bydra as dit 8 uur per dag loop. Die maklikste is om die looptyd baie minder te maak, maar ‘n swakker pomp sal ook help. Al die groot energie-gebruik apparate sal maar sistematies moet oorweeg word.
Dit is belangrik om te besluit watter apparate in die huis op sonkrag gaan loop, wat hul daaglikse energie-aanvraag gaan wees, en dan die keuse van aantal PV panele en battery-kapasiteit te maak. Die aantal PV panele kan effens meer wees as nodig om die batterye alleen te laai, sodat die swembad en boorgatpomp slegs bedags in volle son bedryf word. Panele word steeds goedkoper, maar batterye is duur en moet goed beplan word.