Kook water met Joab se KampKan

Ek het, as afgetrede Pretorianer in my sewentigs, in 2016 die voorreg gehad om saam met Namibiërs deur hulle land te toer. Ons het Namibië se agterpaaie platgery, vanaf Windhoek tot by die grens van Angola, om soveel as moontlik te sien en beleef van dié gasvrye land.

Ek het dadelik opgemerk hoe goed die Namibiërs se voertuie toegerus was vir die toer. Wat egter my belangstelling geprikkel het, was die vernuftige kampketel waarmee elke voertuigeienaar gespog het. By elke rusplek is dié ketels uitgehaal, vol water uit die spaartenks getap en is daar fyn houtjies op die vlammetjies gegooi wat die ketels verhit. Terwyl die manne dan gou toebroodjies en gekookte eiers uitgehaal het, het elke ketel in ’n japtrap gesorg vir agt koppies kookwater – daar het selfs water oorgebly vir die skottelgoed!

Ek het die toerleier, Willem Boshoff, met vrae bestook, want ek was dadelik verlief op dié handige ketels wat so sonder enige moeite twee liter water binne vyf minute gekook het. Dit het vir my voorgekom asof byna elke voertuig in Namibië toegerus is met dié oulike uitvindsel, en ek kon my voorstel dat daar ook in Suid-Afrika ’n groot behoefte daarna sou wees.

Willem het glo een en twintig jaar gelede ’n ou Namibiese oom ontmoet wat ’n soortgelyke ketel besit het. Hy het die ketel se potensiaal raakgesien, die mates geneem en ’n foto daarvan gewys aan ene Joab Matzimure, ’n Zimbabwiër met ’n ongelooflike talent om staalwerk te doen met net basiese handgereedskap. Willem het die materiaal verskaf, en Joab het aan die werk gespring. Die ketel is telkemale aangepas en verander totdat dit perfek gewerk het. Sedertdien maak en verkoop Joab hierdie ketels om ’n inkomste te genereer om vir sy gesin te sorg.

Ek het na Joab gaan soek in Katatura, ’n groot informele nedersetting te Windhoek. Dit is ook maar goed dat dit nie te dikwels te veel reën in Namibië nie, want ek het Joab se huis in die droë loop van ’n spruit opgespoor waar dit half onder ’n bruggie gebou is. Hier is ek verwys na sy werkswinkel – niks meer as ’n pienk mat onder ’n doringboom waaromheen lui honde rondgelê en kindertjies bal geskop het nie. Daar was geen masjien of kragtoerusting in sig nie. Sy werkstafel het bestaan uit twee buitebande wat hy opmekaar gestapel het met ’n houtblad bo-oor. Hy het egter op die pienk mat op sy knieë gestaan en die ongelooflikste goed uit gegalvaniseerde staal gemaak – onder andere die wonderketel wat my hart gesteel het. ’n Haastige verbyganger sou skaars besef dat só ’n vaardige kunstenaar besig was met ’n uitvindsel wat ek voel ’n eretoekenning vir ontwerp behoort te kry. Ek het net daar Joab se ketels herdoop na KampKan/CampCan.

Ek voer die KampKan van toe af na Suid-Afrika in. Om die kan en sy pannetjie bymekaar te hou en maklik te vervoer, maak ek sterk sakke van materiaal waarin dit netjies pas. Ongelukkig is die invoerbelasting en vervoerkostes hoog. Ek het talle kere probeer om mense te kry om die ketel plaaslik te vervaardig, maar niemand kon tot dusver Joab se netheid en presiesheid klop nie. Dit is dus deur en deur die moeite en geld werd om die KampKanne by Joab aan te koop en hom só te ondersteun en ook te eer vir sy vakmanskap.

Die stoom trek soos ’n kampeerder se KampKan water kook.

Ek lys hier die voordele van die KampKan:

  • Mens kook water heeltemal kosteloos daarmee. Die belangrikste is dat jy geen gas, ’n vuur vir kole of elektrisiteit benodig om 2 liter water binne vyf minute te kook nie. Die ketel het ’n dubbelwand. Die water word tussen die wande gegooi. Daar is ’n klein pannetjie waarin jy net ’n teesakkie gedoop in paraffien (of iets soorgelyks) aan die brand steek, want jy kort net ’n klein vlammetjie. Die ketel met water word bo-op die pannetjie geplaas. Dan gooi jy stokkies bo in die opening in die middel van die wand. Dit val dan reg deur die kan in die vuurtjie in en binne ’n paar minute staan daar ’n vlam bo uit soos die venturi-effek van die binneste wand werk.
  • Die KampKan met sy pannetjie weeg ongeveer 300 gram. Dit verpak maklik en word nie beskou as ’n oop vuur nie, aangesien die vlammetjie mos in die middel van die ketel brand. Die water is dus rondom die vlamme, vandaar dat dit so vinnig kook.
  • Anders as ’n primus- of gasstofie, kan jy in die wind langs die viswaters of selfs in die seewind water kook, want die vlammetjie kan nie doodwaai nie. Jy het ook net ’n paar fyn stokkies nodig wat jy sommer gou onder ’n boom kan optel.
  • Die handvatsel bly te alle tye yskoud en maak die KampKan dus baie maklik om te hanteer.
  • Die KampKan word gemaak in ’n gerieflike 2 liter-grootte asook ’n 1 liter-grootte waaroor veral stappers en motorfietsryers gaande is, want dit pas mooi in ’n rugsak of in die saalsak van ’n motorfiets.
  • Die pannetjie pas onder in die ketel, so dit verpak maklik en kompak.

Dié geniale patent het al baie belangstellendes op die boeremarkte waar ek graag uitstal gelok om te kyk hoe dit werk. Gewoonlik skaf hulle dan ook sommer net daar vir hulle ook ’n KampKan of twee aan. Gelukkige en tevrede kopers stuur gereeld vir my foto’s vanaf Kosibaai tot Karibib, van Kanada tot Nieu-Seeland. Waar hulle ook al toer, hulle KampKanne pryk altyd iewers op die foto’s met die stoom wat trek soos dit kook. Meeste KampKanne verkoop omdat tevrede kopers ander daarvan vertel.

Dit is my grootste wens dat daar in elke huis ’n KampKan moet wees, veral nou met al die kragonderbrekings en die prys van elektrisiteit wat onbetaalbaar word. Plase en gebiede waar daar nog nie elektrisiteit beskikbaar is nie, kan die KampKan permanent gebruik.

Vir enige vrae oor die KampKan/CampCan kontak my gerus by 082 8000 876.

Kom besigtig die KampKan en kom kyk hoe hierdie kampketel werk op die KragDag-ekspo wat gehou word op 14, 15 en 16 Oktober.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Irma Kahts
  • Irma Kahts

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui