Selfstandigheid en vryheid: Wat dit beteken om weer beheer te neem

Vir lank het gesinne hul lewens ingerig asof iemand anders uiteindelik moet seker maak dat dinge werk. Dat die stelsel sal hou. Dat politici dinge sal regstel. Maar verantwoordelikheid vir jou welstand lê nie buite jou nie. Dit lê by jou eie besluitneming, bestuur en vermoë om self te kan optree.

Nou voel ons wat gebeur wanneer mense en die stelsels misluk.

So die vraag is eenvoudig: as dinge nie meer wil werk nie, wie moet seker maak dat dit weer werk?

Die vertrekpunt is nie dat iemand anders dit sal regmaak nie. Rentmeesterskap oor jou welstand lê by jou. Stelsels kan help, maar hulle vervang nie jou verantwoordelikheid om te besluit, te beplan en op te tree nie.

Met tyd het baie gesinne sekere verantwoordelikhede na buite geskuif. Dit het die daaglikse lewe makliker gemaak, maar dit het ook besluitneming weg van die huis af geneem.

Die probleem lê nie net daarin dat stelsels soms faal nie, maar dat afhanklikheid jou vermoë om self te reageer beperk. Wanneer iets buite jou beheer nie werk nie, staan jy en wag.

En dis waar die werklike probleem begin.

In die 1800’s het Henry David Thoreau, ’n Amerikaanse skrywer en denker, doelbewus eenvoudiger gaan leef om te toets wat werklik nodig is. Hy het vir ongeveer twee jaar in ’n klein houthut by Walden Pond gewoon, waar hy ’n deel van sy eie kos verbou en sy daaglikse lewe so ver moontlik self hanteer het.

Hoewel sy breër filosofiese uitgangspunte met reg bevraagteken kan word, bly sy eksperiment waardevol. Hy het prakties gewys hoe maklik mense gewoond raak daaraan om nie meer vrae te vra oor die goed waarop hulle staatmaak nie. 

’n Eeu later het Friedrich Hayek, ’n ekonoom wat baie oor die werking van samelewings geskryf het, ’n ander deel van die probleem uitgelig. Hy het gewys dat kennis nie op een plek saamgevat kan word nie. Inligting oor hoe dinge werklik werk, lê verspreid tussen individue en gemeenskappe. Wanneer besluite ver van daardie werklikheid geneem word, verloor dit trefkrag.

Vir ’n tyd lank lyk dit asof alles nog werk. Die ligte kom weer aan. Die water loop weer. Die winkelrakke word weer vol. Dit skep die indruk dat onderbrekings tydelik is en dat dinge vanself regkom.

Maar intussen begin iets anders gebeur.

Besluite oor krag, water en voorsiening word ver van jou werklikheid geneem. Teen die tyd wat dit jou raak, is dit reeds te laat om dit te keer. Wat vir ’n sentrale stelsel soos ’n werkbare oplossing lyk, pas nie noodwendig by wat in jou huis of jou omgewing gebeur nie. Dis hoekom dieselfde probleem herhaal, al word daar elke keer ’n “oplossing” aangekondig.

Op daardie punt raak dit prakties.

Jy kan nie vooruit beplan as jy nie weet wanneer die volgende onderbreking kom nie. Jy kan nie betyds aanpas as jy eers moet wag vir iemand anders om te besluit nie. Jou vermoë om te reageer word bepaal deur hoe vinnig en hoe goed iemand anders optree.

Wanneer besluite elders geneem word, moet jy daarby inval. Jy werk teen iemand anders se tempo, volgens prioriteite wat nie noodwendig joune is nie. Jou vermoë om te reageer word kleiner, nie omdat jy nie wil optree nie, maar omdat jy nie kan nie.

Die skuif kom wanneer mense weer self begin besluit.

Sodra jy beheer neem oor ’n deel van jou eie voorsiening, verander jou posisie. Jy wag minder. Jy kan vroeër reageer. Jy kan aanpas voordat ’n probleem jou dwing om dit te doen. Jou keuses word nie meer net bepaal deur wat beskikbaar is nie, maar ook deur wat jy self kan doen.

Met elke area waar jy self begin besluit en optree, skuif daardie grens. Jy raak minder vasgevang in wagtye en buitebesluite. Jy kry ruimte om te beweeg, om aan te pas en om te kies.

Dit is hoe selfstandigheid oor tyd opbou. En dit is ook hoe vryheid prakties begin werk.

Nie as ’n abstrakte idee nie, maar as die vermoë om self te besluit en daarvolgens op te tree. Hoe meer daardie vermoë groei, hoe minder word jy vasgehou deur wat buite jou beheer is.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui