Troula Goosen

Troula Goosen (geb. Venter) is in die skaduwee van Tafelberg as die oudste van twee dogters gebore. Haar pa was ’n onderwyser en later skoolhoof en so het die gesin op verskillende dorpe in die Wes-Kaap gewoon. Sy het op Ceres gematrikuleer en daarna Drama en Biblioteekkunde op Stellenbosch gaan studeer. Daar het sy haar man – ’n teologiestudent – ontmoet. Die jong predikantspaar het hulle eers in Reddersburg en toe in Allanridge in die Vrystaat gevestig. Later is haar man Riversdal toe beroep waar Troula die sakewêreld as besigheidsvrou en binneversierder betree het. Troula en Chris spog met twee seuns, twee skoondogters en drie kleinseuns. Troula wou van kleintyd af stories skryf, maar het eers kans gekry om die ou jeugdroom af te stof toe Chris afgetree en hulle na Bettysbaai verhuis het. Haar eerste publikasies was kortverhale en novelles vir opvoedkundige uitgewers (Via Afrika, Oxford University Press en Pearson). In 2016 is Spooksoene (2015: Protea Boekhuis), haar eerste vollengte jeugverhaal, met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon. Daarna volg Maanlig-Meermin (2017: Tafelberg Uitgewers) en Raaiselklip (2018: Human & Rousseau). Raaiselster (2019: Human & Rousseau) is dus die tweede aflewering in die reeks “Raaiselstories” – boeke wat van die leser vereis om ʼn raaisel op te los. Die derde historiese jeugroman in die reeks, Raaiselsee, verskyn in 2020. Van haar kortverhale is opgeneem in Skool is ’n Riller (2017 Human & Rousseau) en Ingonyama en ander maats met leeueharte (2021 Best Books).